Swart Vrydag: Pasop vir skuld

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Die winkelgroep Shoprite-groep sê dat sy Shoprite-kettingwinkelgroep vanjaar vir die eerste keer aan die Swart Vrydag-promosie sal deelneem.

Shoprite het 458 winkels landwyd. Die groep se 202 Checkers-winkels neem ook deel.

Swart Vrydag is in 2012 deur Takealot na Suid-Afrika gebring. Ekonome sê sedertdien het dit kleinhandelverkope in die vierde kwartaal ʼn massiewe hupstoot gegee.

Volgens die Shoprite-groep kan verbruikers hulle gereed maak vir groot besparings op ʼn groot hoeveelheid goedere, insluitend kos en speelgoed.

Die groep se mededingers gaan ook by die promosie inklim. Dit sluit in Pick n Pay, Woolworths, Makro, Spar en Mr Price. Die Edcon-groep, wat Edgars, Jet en CNA insluit, sal ook sy pryse sny. Van die winkelgroepe sal ook hul pryse op drank sny.

Onder die items waarop Pick n Pay pryse sal sny is tegnologiese produkte. Ontleders sê kleiner, onafhanklike winkels sal ook probeer om promosies aan te bied.

Maar Swart Vrydag kan baie verbruikers in skuldlas dompel, maan Neil Roets, bestuurshoof van DebtRescue. Hy sê dat verbruikers ʼn begroting moet opstel en daarby hou.

Roets sê die dinamika word verder ontspoor omdat Swart Vrydag aan die begin van die feesseisoen is. Daarom maan hy verbruikers om twee begrotings op te stel – een vir Swart Vrydag en nog een vir die Kersgety.

Hy sê verbruikers het twee goed waaraan hulle aandag moet gee: Die salaris-gaping tussen Desember en Januarie en die aankoop van skoolklere in Januarie. Roets sê verbruikers moet op hul hoede wees vir hul skuldvlakke.

Intussen het van die winkelsentrums te kenne gegee dat hulle vir langer oop sal wees. Sentrums soos Woodlands Boulevard in Pretoria-Oos gaan ook gratis parkering aanbied. Veiligheid sal ook verskerp word. Hieroor wou sentrums nie uitwei nie. Verlede jaar het die Mall of Africa 100 bykomende veiligheidswagte aangestel oor dié periode.

Intussen staan banke ook gereed vir enige krisis wat kaartmasjiene mag veroorsaak. Tog is kenners skepties of aanlyn-aankope groot vordering sal maak.

Elize Kruger, ʼn ekonoom by NKC African Economists, sê Swart Vrydag kan kleinhandelverkope ʼn hupstoot gee. Sy sê dat verbruikers die geleentheid moet gebruik om hul voorraad vir die Kersgety aan te vul.

Sy wys daarop dat die ekonomie tans in ʼn wurggreep is en dat ʼn oplewing in kleinhandelverkope welkom sal wees. Kruger sê kleinhandelverkope op Swart Vrydag het verlede met 2,1% verbeter teenoor die 1,3% in 2015. Sy sê dit is veral die algemene handelaars wat voordeel sal trek.

ʼn Sielkundige, wat om persoonlike redes anoniem wil bly, sê verbruikers sal hare op hul tande moet hê vir die gewoel wat verwag word. Verlede jaar is daar verskeie voorvalle van geweld landwyd aangemeld terwyl verbruikers gestoei het om produkte op te raap.

Swart Vrydag het in 1952 in Amerika begin. Dié dag volg tradisioneel kort op die Amerikaanse Dankseggingsdag.

Oor die jare het markte verkope fyn dopgehou vir tekens oor die gesondheid van kleinhandelverkope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Is dit nou toeval dat Swart Vrydag met Halloween maand saamval? Ek twyfel!

Naomi ·

Willie, dink jy het die swart kat nou aan sy swart stert beet. Halloween was op 31 Oktober. Alles is net n geldmaak storie, Kersfees ook. Mense jaag winskopies na, en dink nie eers aan die eintlike betekenis van kersgety nie

MLM ·

Ek wil net noem Mica Joubert str Ermelo het fantastiese Black Friday aanbiedings…gaan maak gerus n draai indien u in die omgewing is…

Theresa ·

Sien uit na goedkoper pryse vir goed wat moet gekoop word. Sal maar ‘n lekker skerp sambreel saamvat vir die stoeiendes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.