Uitdagende saketoestande, massa-afleggings is nadraai van drakoniese inperking

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

(Foto: Stevepb/Pixabay.)

Talle ekonomiese aanwysers toon nou die ernstige uitwerking van die drakoniese Covid-19-grendelstaat met sy vele irrasionele en ongeregverdigde belemmerings op ekonomiese waardeskepping.

Van die uitwerkings op die ekonomie is uitdagende saketoestande, kleiner markte, massa-afleggings en verminderde inkomste vir almal. Dit is volgens die sakegroep Sakeliga se “Ekonomiese Oorsig vir Besluitneming in die Sakewêreld”, ’n kwartaallikse verslag wat Donderdag in samewerking met ETM Macro Advisors vrygestel word.

(Grafika: Sakeliga.)

Ondernemings word in die verslag aangeraai om voor te berei op ’n kleiner ekonomie en ’n 10%-20% kleiner omset en verdienste op mediumtermyn in vergelyking met voor die afsonderingsmaatreëls ingestel is. Ander indekse in die verslag het ʼn afname in nywerheidsproduksie aangedui sowel as aansienlike daling in belastinginkomste.

Daarbenewens is daar ook aanduidings dat ondernemings wat aanvanklik die negatiewe gevolge van die inperking gespaar is, nou moeiliker bedryfsomstandighede begin ervaar.

“Dit is duidelik dat ’n afname van 10%-20% in omset en verdienste nie net aanstellings beïnvloed nie, maar ook ondernemings se uitbreidingsplanne, nuwe beleggings sowel as die vermoë van die private sektor om die beste te maak van enige oplewing in kommoditeitsmarkte, ” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

“Die nadelige gevolge van die grendelstaat sal waarskynlik nog ’n aansienlike tydjie duur. Nie net het werksgeleenthede verlore gegaan en inkomste en spaargeld is verminder nie – met waarskynlik ’n toename in skuld oor die algemeen – maar daar is steeds irrasionele en onsamehangende beperkings in verskillende sektore. Afgesien van die oorblywende beperkings en probleme met elektrisiteitsvoorsiening, sal bedreigings van bykomende belasting vanuit alle regeringsvlakke waarskynlik net toeneem namate die staat meer en meer desperaat raak vir hulpbronne.”

(Grafika: Verslag.)

Die verslag dui op die moontlikheid dat ’n staatsleningsbehoefte tot R1 000 miljard sal uitbrei, veel meer as die voorspellings van die nasionale tesourie van R770 miljard wat in die aanvullende begroting aangebied word.

“Om sake te vererger,” voeg Van Onselen by, “word voortgesette dreigemente oor die terugkeer na streng algehele inperkingsmaatreëls op ’n amper daaglikse basis gemaak deur amptenare met klaarblyklik weinige nadenke oor die skade wat dit aan lewens berokken. Dit is dus net logies om te verwag dat ondernemings waaksaam sal wees met beleggings en uitbreidings onder sulke onsekerheid oor regulering en beleid. Sodanige onsekerheid berokken egter skade aan die ekonomie se herstel. Minder belemmerende vorms van risikovermindering moet nou oorweeg word. ”

Presidensiële telkaart

Die verslag bied ook ’n presidensiële beleidstelkaart vir Suid-Afrika. Hierdie telkaart se doel is om die werklike impak van die administrasie se beleide op die ekonomie te bepaal, uitgedruk in ʼn indeks van ’n aantal faktore soos beleggingsmaatreëls, die rand, effekte-opbrengste, energieproduksie, politieke beperkings op die nywerheid en fiskale druk.

Die sakesiklus-aangepaste Sakeliga-ETM presidensiële beleidstelkaart gee die Ramaphosa-administrasie tans ’n telling van 20 uit 100. Dit is noodsaaklik dat hierdie telling minstens bo 40 styg om die geweldige verlies aan vertroue in die nadraai van die streng en irrasionele Covid-19-afsonderingsmaatreëls te stuit.

(Grafika: Verskaf.)

Om die telling te verbeter, sê Van Onselen, moet dié administrasie nie net die oorblywende inperkingsregulasies beëindig en dit vervang, indien nodig, met vrywillige gesondheidsaanbevelings nie, maar ook baie ander beleide wat waardeskepping belemmer, moet hersien word. Sulke beleide sluit in arbeidsregulering, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), belasting en staatsbesteding.

“In die nadraai van die grendelstaat het die tyd aangebreek vir meer sake en minder politiek. Gesentraliseerde politieke risikobestuur en eensydige ingrypings en verbodsbepalings is deur die grendeltydperk gebruik met voorspelbare rampspoedige gevolge. Die regering moet nou dringend sy beleide hersien en vryheid toelaat vir ekonomiese herstel om te kan plaasvind,” sluit van Onselen af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.