Verbeter jou geldsake met dié wenke

Argieffoto (Foto: stevepb/Pixabay)

Die meeste Suid-Afrikaners sal daarvan getuig dat 2021 ʼn finansiële nagmerrie was, veral met pryse vir brandstof, kos en elektrisiteit wat die hoogte ingeskiet het.

Petrol het laasjaar van Januarie tot Desember met byna R6/liter gestyg en boonop die R20/liter-kerf verbygesteek, terwyl die nasionale energiereguleerder (Nersa) Eskom se prysverhoging van 15,63% goedgekeur het.

Hierdie somber prentjie sal na verwagting in 2022 voortduur, aangesien kleinhandelaars en ander diensverskaffers in die waardeketting hul bedryfskoste aan verbruikers oordra. Selfs al behou mense hul werk en ontvang hulle salarisverhogings, is dit onwaarskynlik dat dit met ʼn voortdurende toename in lewenskoste tred sal hou.

Volgens Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van die persoonlike finansies-webwerf JustMoney, sal verbruikers nie op ʼn ander manier kan oorleef as om vooruit te beplan en ʼn noukeurige begroting op te stel nie. “Dit is nou belangriker as ooit tevore, anders sal Suid-Afrikaners nie kop bo water hou nie.”

Anthony meen daar is agt afdelings waarop verbruikers die meeste van hul inkomste bestee. Hier is ʼn paar wenke om die meeste waarde uit jou inkomste te kry:

Motor

Laat diens jou motor gereeld, maak seker dat die wielsporing reg is en dat jou bande korrek opgepomp is. Maak gebruik van ʼn lojaliteitsprogram, en verdien punte vir elke liter brandstof wat jy koop, soos byvoorbeeld Pick n Pay se SmartShopper-voordeel by BP-vulstasies. Versnel liggies en ry teen ʼn konstante spoed.

Kruidenierswinkels

Vermy impulsiewe aankope, moenie inkopies doen wanneer jy honger is nie, oorweeg dit om na goedkoper handelsmerke oor te skakel en vergelyk pryse – die winsgewendste items in die winkel is gewoonlik op ooghoogte gepak, so kyk rond.

Bankdienste

Trek slegs geld wanneer dit absoluut nodig is en dan ook net by kitsbanke binne jou banknetwerk om onttrekkingskoste te vermy. Oorweeg dit om tyd (en geld) te bespaar deur van internetbankdienste gebruik te maak. Probeer om jou maandelikse terugbetalings op jou huislening te verhoog ten einde die termyn en bedrag rente wat jy betaal te verminder. Vermy ook om onnodig kontant te trek en kies die regte rekening vir jou behoeftes.

Data

Gebruik Wi-Fi waar moontlik en slegs wanneer jy weet dit is op ʼn veilige, wettige netwerk. Deaktiveer outomatiese programverfrissing en dateer programme slegs oor Wi-Fi op. Jy kan ook vir databesparingsopsies in programinstellings soek.

Elektrisiteit

Gebruik minder elektrisiteit deur korter te stort en ʼn energie- en waterbesparende stortkop te gebruik sodat daar minder water is om weer op te warm. Kies die kouer waterverstellings op jou wasmasjien en skottelgoedwasser, gebruik energiedoeltreffende verwarmers en gloeilampe, en draai jou geiser-termostaat af.

Gesondheidsorg

Die eerste stap is om jou mediesefondsplan na te gaan en seker te maak dat dit nog relevant is vir jou behoeftes. Doen ook navorsing oor die voordele wat jy op hierdie plan het en maak gebruik van soveel as moontlik daarvan. Wanneer jy gehospitaliseer word of medikasie by ʼn apteek moet aanskaf, sorg dat dit deel van die goedgekeurde netwerk is. As jy ʼn fiksheidspoorder het, koppel dit aan jou mediesefondsskema om punte vir jou fiksheid in te samel en sodoende in aanmerking vir voordele in hierdie afdeling te kom.

Versekering

Kry ʼn aantal versekeringskwotasies, maar hou in gedagte dat die goedkoopste nie noodwendig die beste is nie. Lees die bepalings en voorwaardes om te verseker dat jy voldoende gedek is in geval van ʼn rooftog en ander skade. As jy nou minder as 10 000 kilometer per jaar ry, omdat jy byvoorbeeld van die huis af werk, kom jy waarskynlik in aanmerking vir laer premies. Doen navraag hieroor en kyk hoe jy eerder nog ʼn paar rand in jou beursie kan sit.

Vermaak

Gaan al jou uitgawes na en bepaal waarvoor jy betaal, maar nie meer gebruik nie. Dit kan enigiets van ledegeld en musiekintekeninge tot gimnasiumgelde wees. Doen weekliks inkopies en verminder die aantal wegneemetes wat jy bestel. Bestee tyd in die natuur, kry gratis toegang tot boeke en tydskrifte by jou plaaslike biblioteek, en wees op die uitkyk vir spesiale aanbiedinge.

“Om nou jou finansies te bestudeer en ʼn paar realistiese doelwitte vir 2022 te stel, sal jou help om voor te berei vir die onvermydelike uitdagings wat die nuwe jaar sal bring.

“As jy ʼn finansiële adviseur het, is dit ʼn goeie tyd om nou ʼn aanlyn vergadering op te stel om die jaar te hersien en enige wysigings aan te bring,” sê Anthony.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.