1, 2, 3 … Spaar!

Deur Lienkie Coetzee

Argieffoto (Foto: Sabine Peters/Unsplash)

Besparing in jou persoonlike hoedanigheid en jou sakeonderneming

Hoeveel moet ek spaar?

Die antwoord is ongelukkig nie so maklik soos syfers rondgooi nie, maar wees gerus: Daar is beslis ’n manier! Kenners reken dat jy 20% van jou salaris behoort te spaar: 10–15% hiervan vir jou aftrede en die res verdeel tussen noodgevalle en algemene spaarplan.

Dit is nodig om eerstens jou besparingsdoelwitte in ag te neem en sodoende te bepaal hoeveel jy maandeliks moet spaar.

Vra jouself die volgende af: Waarvoor spaar jy? Wat is jou tydraamwerk? Plaas nou hierdie doelwitte onder die volgende kategorieë:

Aftrede/langtermyn: Dit is jou neseier of privaat pensioenfonds. Jy behoort sowat 10–15% van jou maandelikse inkomste hiervoor te spaar, maar indien dit nie moontlik is nie, kan jy ’n kleiner persentasie van jou inkomste spaar en dit jaarliks met 1% vermeerder tot jy 15% bereik. Jy behoort op 30-jarige ouderdom reeds ’n bedrag gelykstaande aan jou jaarlikse inkomste gespaar te hê.

Jou spaarplan sal natuurlik alles van die volgende afhang:

  • Inkomste
  • Beplande ouderdom van aftrede
  • Leefstyl

Noodgevalle: Veronderstel jy verloor jou werk. Hierdie besparings behoort jou lewenskoste vir ongeveer drie tot nege maande te kan dek. ’n Mens weet nooit wat gebeur môre nie. Covid-19 en die grendeltydperk is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hierdie besparings kan ook gebruik word vir ander noodgevalle soos onvoorsiene mediese onkoste of rampe. Dit is wys om die geld in ’n daaglikse spaarplan of rekening te sit, sodat dit onmiddellik beskikbaar sal wees indien jy dit nodig het.

  • Bepaal jou maandelikse lewenskoste (sonder luukshede, insluitend televisie).
  • Halveer hierdie bedrag om te bepaal hoeveel jy maandeliks moet spaar. Sodoende behoort jy binne ’n jaar genoeg geld vir ses maande lange oorlewing te hê.

Voorbeeld:

Lewenskoste p.m. = R20 000

R20 000 ÷ 2 = R10 000

D.w.s.: Spaar maandeliks R10 000

Algemeen (ekstras): Alle groot uitgawes binne die volgende tien jaar, soos troues, motor koop, bouwerk of selfs net ’n duur geskenk.

Hoeveel geld het jy nodig vir jou doelwit? Wanneer wil jy dit hê? Deel nou die bedrag deur die aantal maande wat oor is om te spaar en stel sodoende vas hoeveel jy maandeliks sal moet wegsit.

Spaar in my onderneming: Dieselfde geld hier as vir jou persoonlike besparing. Bereken hoeveel jy moet spaar deur te bepaal wat jou behoeftes en doelwitte is. Dit is slim om minstens drie keer jou onderneming se maandelikse onkoste gespaar te hê. Veronderstel jy betaal maandeliks R100 000 aan salarisse, sal jy dan mik om omtrent R300 000 te spaar sodat jy gereed is vir die onvoorsiene.

Verskeie banke bied spesifieke spaarrekenings vir sakeondernemings aan. Gesels met jou bankier om meer oor spaarplanne en jou spesifieke sakebenodigdhede uit te vind.

Wenke:

  • Indien jy meer as een doelwit het, betaal dan meer aan die belangrikste een totdat daar genoeg geld is. Sodra jy een doelwit bereik het, hou daardie doelwit se maandelikse bedrag dan steeds uit en betaal dit aan die volgende doelwitte. Sodoende sal al jou doelwitte vinniger behaal word.
  • Sit elke maand dieselfde bedrag weg; sodoende raak jy gewoond daaraan en sal jy baie makliker kan spaar sonder om die geld te “mis”.
  • Skryf dit neer! Wanneer ons planne beraam en doelwitte stel, is dit soveel meer doeltreffend as ons dit swart op wit kan sien.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.