40% van verbruikers se skuld agterstallig

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Suid-Afrika het meer as 25 miljoen krediet-aktiewe verbruikers en die totale aantal uitstaande skuld van verbruikers is ongeveer R1,8 miljard.

Dit is volgens statistiek van die skuldberadingsmaatskappy Debt Rescue.

Neil Roets, Debt Rescue se bestuurshoof, sê die groei in krediet is kommerwekkend omdat al hoe meer Suid-Afrikaners in ʼn skuldstrik vasgevang word.

Hy wys daarop dat daar ongeveer 9,6 miljoen, oftewel 39% verbruikers is wat agterstallig is met hul skuldterugbetalings.

Volgens Roets moet verbruikers wat aan skuld wurg, ernstig oorweeg om skuldberaders te nader.

Wat is skuldberading? Hy verduidelik dat dit ʼn wetlike prosedure is wat deur die Nasionale Kredietwet daargestel is om verbruikers wat oorbelas is met skuld, te help.

Die prosedure verseker dat verbruikers hul skuld terugbetaal, maar op ʼn meer bekostigbare manier.

“Dit word gedoen deurdat skuld terugbetaal word in laer maandelikse premies oor ʼn verlengde tydperk, terwyl daar voorsiening gemaak word vir nodige lewenskostes, en terselfdertyd word daar beskerming verkry teen voornemende nuwe regsaksie teen die verbruikers,” sê hy.

Roets voeg by dat daar voordele is om skuldberading te ontvang. Hy sê die twee grootste voordele van skuldberading is dat verbruikers se begroting voorsiening maak vir nodige uitgawes soos huur, kos, petrol, skoolgeld, ensovoorts, en dat daar beskerming verkry word teen nuwe regsaksie.

Ten opsigte van aksies of dienste wat tot verbruikers, wat in ʼn skuldstrik verval het, se beskikking is, sê Roets daar moet versigtig oor oplossings gedink word omdat keuses soos sekwestrasie en skudberading elkeen hul eie opsies en riglyne van toepassing het, afhangend van ʼn verbruiker se omstandighede.

“Sekwestrasie het ʼn beperkte toepassing, en minder mense vind daarby baat, omdat jy insolvent moet wees. Dit is ʼn baie indringende proses omdat jy jou boedel moet oorgee aan ʼn kurator. Die rehabilitasieproses is ook uitgerek en neem tyd, maar daar is wel omstandighede waar sekwestrasie die meer toepaslike opsie is,” sê hy.

Oor skuldberading sê Roets dat dit van toepassing is op baie mense en heelwat meer mense kan baat vind daarby, solank jy ʼn inkomste verdien.

“Met dié proses ondervind jy onmiddellik verligting deur ʼn verlaagde premie wat jy maandeliks betaal. Jy verkry ook beskerming van regsaksie en jy hoef nie jou bates oor te gee nie. Jy word ook nie geag as insolvent nie. Daar is net ʼn tydelike kennisgewing dat jy vir ʼn tydperk onder skuldberading is terwyl jy jou skuld terugbetaal. Daar is geen blywende nadele nie,” het hy bygevoeg.

Besoek Debt Rescue se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

My seun is tans oorsee en ek sien om na sy banksake. Hierdie geval gaan oor sy kredietkaartrek.Dit was in Okt.2017 dat ‘n ongeregistreerde brief (gewone pos) aan hom gestuur word (my posadres) deur Standard Bank met die nodige dreigement aangaande die kredietwet en betaling binne 10 dae of die tronkdeure roep.. Hierdie brief word eers in Des.2017 deur my ontvang en ek gaan betaal die ontsaglike bedrag van R200 (TWEE HONDERD RAND) dadelik. Ek word meegedeel op navraag dat dit die VOLLE bedrag is. Hier in die omgewing van Maart 2018 doen hy navraag by my of ek iets weet van gelde uistaande want prokureurs Stupel&Berman tree hom aan maar die bedrag word nie gewys. Op navraag is dit die reusagtige bedrag van R410 wat ek dadelik gaan betaal het. Met moeite word hierdie rek, gesluit want hierdie bank vereis dat hy dit persoonlik moet kom doen. Nou sukkel ek om uit hierdie Standard Bank of die prokureurs bewyse te kry dat hy vooraf in kennis gestel is van hierdie regsaksie. Standard Bank weier ook om te antwoord van enige swartlysaangeleenthede. Daar gaan nog marakkas kom hiervan.

Piet Pompies ·

Vir baie jare al finansier (skuld) ek my hoof voertuig soos die tyd verloop. Ons het vir twee jaar probeer om ‘n voertuig langer te hou nadat dit ten volle betaal is, agv onbeplande instandhoudingswerk het van die herstel kostes ons onkant betrap. Die beste is maar ‘n nuwer voertuig met ‘n instandhoudings plan.
My een dogter het haarself uit onkunde vasgeloop teen uitbuiting nadat sy ‘n klere rekening oopgemaak het. Die werklike koste vir die klere was relatief min, maar die tye wat sy nie met die kaart gekoop het nie is kostes gelaai vir lede geld en ander onverwante kostes. Totaal onbewus van die kostes het die skuld gegroei tot ‘n aardige bedrag. Op navraag is die bykomende koste versteek onder “terme en voorwaardes” Gelukkig het CPA in werking getree en beskerm tans verbruikers.
Persoonlik dink ek dat hierdie skuld wat verbruikers nie kan betaal onstaan uit versteekte kostes. Gedurende 2018 het ‘n meubel groep in SA meer geld gemaak uit sy byprodukte soos krediet versekering en bykomende waarborge as wat sy winste was uit die meubels wat hy verkoop.
Dit is uitbuiting van die verbruiker want dit is nie waarde vir geld, as ek ‘n stoel van R100 verwag ek ‘n stoel van R100, nie totale koste van R250 wat bestaan uit R100 vir die stoel en R150 vir versekering en ‘n verlengde waarborg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.