AfriForum ook hof toe oor Tshwane-begroting

(Foto: Twitter)

Die burgerregtegroep AfriForum wend hom nou ook tot die hof om die Tshwane-metroraad se finale begroting – wat die administrateur op 30 Junie goedgekeur is – ter syde te laat stel.

Die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile, het Mpho Nawa in Maart vanjaar as administrateur van die stad aangewys.

AfriForum sê egter daar moet gevra word waarom die hoofstad onder administrasie geplaas is, terwyl dit by verskeie ander munisipaliteite in die provinsie selfs veel meer beroerd gaan.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê dié “staatsgreep” van die metroraad is só beplan dat dit geen magte aan ʼn demokraties verkose raad gee nie.

Mostert sê in die geval waar ʼn munisipaliteit onder administrasie geplaas word, moet daar aan bepalings in die Grondwet en die Wet op Openbare Munisipale Finansiële Bestuur voldoen word. Die organisasie voer aan ʼn administrateur het nie die mag om ʼn finale begroting goed te keur nie – soos wat Nawa gedoen het en volhou hy by magte was om te doen – en dat net die provinsiale uitvoerende gesag of die nasionale uitvoerende gesag dit mag doen, sou ʼn raad ontbind word.

Volgens Mostert mag dié mag boonop nie na ʼn administrateur gedelegeer word nie.

AfriForum vra die hof nou om die finale begroting ter syde te laat stel en te verseker ʼn nuwe, tussentydse begroting word goedgekeur. Dié proses vereis behoorlike openbare deelname van die publiek.

“Die uitwerking van die ontbinding van die raad was dat die administrateur sekere beleid sonder behoorlike openbare deelname deurgedruk het,” sê Mostert.

Hy sê een van die gevolge van die ontbinding was ʼn verandering aan die metroraad se watertariewe sonder dat enige debat daaroor in die raad gevoer is. Inwoners van Tshwane betaal deesdae summier R120 per nege kiloliter water – en die bedrag word dadelik van ʼn rekeninghouer gehef, selfs voordat enige water gebruik is. Mostert sê dit plaas veral armer huishoudings in ʼn moeilike posisie.

Nog ʼn negatiewe uitwerking is die voorgesette verval van dienslewering in die stad. Vullis word nou reeds sowat twee weke lank glad nie meer verwyder nie en op sommige plekke is vullisterreine gesluit en inwoners stort hul vullis voor die hekke.

Verklaar ʼn dispuut

Dr. Eugene Brink (links), strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by die organisasie. (Foto: AfriForum)

Die grootste uitwerking is egter waarskynlik die hordes foutiewe rekeninge wat die metroraad uitstuur. AfriForum sê hy is die afgelope ruk oorval deur klagtes oor buitensporig hoë rekeninge.

Mostert sê waar die stad vantevore probeer help het om foute reg te stel, wil dit voorkom of dié houding onder die administrateur verander het.

“Ons sien nou dat die stad so gou moontlik ʼn kennisgewing uitstuur dat inwoners se krag afgesny gaan word,” sê hy.

AfriForum het inwoners wat foutiewe rekeninge wil aanmeld, aangemoedig om ʼn dispuut met die munisipaliteit te verklaar. Sodra so ʼn dispuut verklaar word, mag die krag na ʼn sakeonderneming of huis nie afgesny word tot die kwessie besleg is nie.

Die vorm is hier beskikbaar en kan gestuur word na [email protected] of [email protected]

Ander hofsaak

Twee inwonerverenigings het die Tshwane-metro in ʼn afsonderlike hofsaak ook reeds hof toe gesleep om die begroting vir die huidige boekjaar ongeldig te laat verklaar. Die Tshwane Money Matters Caucus (TMMC) en die Agriculture Landowners Association (Alas! Tshwane) vra die hof om die begroting en die 2020-waardasierol ongeldig te verklaar. Hulle voer aan dit is ongrondwetlik en onwettig.

Dié saak word na verwagting later vandeesmaand aangehoor.

Mostert sê hulle is bewus van die hofsaak en is verbinding met die verenigings se regspanne.

“Ons voer aan die administrateur het ultra vires [buite sy magte] opgetree,” sê Mostert.

Hy sê ook selfs al word die ontbinding van die raad ter syde gestel, moet daar weer deur die behoorlike proses gegaan word om ʼn begroting goed te keur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

En moenie vergeet toe die DA oor gevat het het vullisverwydering met 111% gestyg. Waar was julle toe gewees? Ek het dit aan alle burgerregte organisasies en oposisie partye geraporteer, en daar het niks van gekom nie.

En hierdie huidige raad het ‘n 6.2% salaris verhoging goed gekeur, terwyl die res van die staatsdiens werkers niks mag kry nie!
Hierdie koei is nou leeg gemelk!!!

Tino ·

Welgedaan julle!

Ek het wel ‘n dispuut verklaar en hulle het dit steeds summier af gesny nadat ek betalings terme gereel het en voor is op die betaling volgens die terme wat deur die munisipaliteit voorgeskryf word.

Ons dra die vrugte van ongeskoolde werkers mag wat net in gedruk word. Vir die wanlewering van dienste moet ons geld terug kry.

Dalk moet ons daai tannie van PE kry om te kom help…

Ferryman ·

Volgens wet moes daar binne drie maande ‘n verkiesing gewees het, wat nie plaasgevind het nie. Die Administrateur se aanstelling is dus onwettig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.