Banke ontwikkel aptyt vir landbou

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, verduidelik vir boere hoe ‘n bank benader moet word om ‘n kredietaansoek te doen. (Foto: Du Preez de Villiers)

Banke is nie meer lus om bates terug te neem nie. Voorheen was dit vir hulle baie belangrik, maar tans beskou hulle dit as ʼn laaste uitweg. Een van die redes hiervoor is dat hulle baie sensitief vir reputasieskade geword het en teruggeneemde bates raak ook ʼn las wat moeilik is om van ontslae te raak.

Dit is die siening van Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, wat ʼn klomp boere by die Son Safari-landbouskou wat deur Laeveld Agrochem in Mauritius aangebied is, toegespreek het.

Hy sê banke wil ook nie “boer” nie en daarom doen hulle tans meer moeite om ʼn boer te bemagtig om sy finansiële verpligtinge na te kom. “Banke ontwikkel nou eerder ʼn vertrouensverhouding met die ‘jokkie’, wat nou baie belangriker as die perd geword het. Dit beteken dat banke eerder saam met ʼn boer sy boerdery help bestuur.

“In moeilike tye sal die bank eerder vir ʼn boer ʼn tydperk gee om sy sake te herstel en sal dit selfs verleng as hulle nie die nodige waarde van die bate op ʼn veilingsaanbieding kan kry nie. Finansierders doen ook eerder ʼn herstrukturering van die lening en sal selfs die jaareindes verander om ʼn boer tegemoet te kom,” sê hy.

Dit vereis noodwendig van ʼn boer om met ʼn kredietaansoek ʼn deurtastende sakeplan en gepaardgaande kontantvloeiprojeksies op die tafel te sit.

“Gelukkig is boere natuurlike entrepreneurs en banke hou daarvan, want eersgenoemde verstaan die waarde van outomatisering en om aan te pas by verandering. Dit is waarom banke toenemend hulle landbouportefeulje uitbrei.

“Ons moet ook besef dat banke teen ʼn baie lae winsgrens werk, tot so laag as 1,5%. Dus is hulle winste daarmee heen al vou slegs twee uit 100 boerderye.”

Vorster sê met ʼn leningsaansoek word ʼn kredietkomitee gekies wat verantwoordelikheid vir die kredietbeleid dra en die agent of bankier het toegang tot dié kredietbeleid. Die verteenwoordiger op die plaas het sitting op die kredietkomitee, maar nie stemreg nie – hy kan wel voorstelle maak. Die voorsitter van ʼn kredietkomitee sal ook nie die plaas besoek om na die omstandighede te kyk nie. Hy verkies ʼn koue buffer en kyk net na die syfers van die aansoek.

Vorster het ʼn paar wenke gedeel om ʼn kredietaansoek gladder te laat verloop:

  1. Die bank se kredietkomitee wil sien dat die primêre boer sy kind, as opvolger, van vroeg af leer hoe werk die boerdery se finansies en dat hy verstaan hoe werk die kontantvloei.
  2. Die gefinansierde bate moet sy eie skuld kan dra en oor ʼn jaar of drie moet die kontantvloei die skuld kan diens. Daar is gewoonlik ʼn verhouding wat uitgewerk word en dit moet positief wees.
  3. Vooruitskattings moet realisties wees, want die bank se kredietraadgewer maak sy eie aannames. Daarom moet ʼn boer gereeld met sy ouditeur sit om saam na die berekeninge te kyk om foute raak te sien. Daar moet ook voorsiening gemaak word vir foute wat kan insluip.
  4. Banke is sensitief vir bykomende borgskappe en kruissubsidiëring van bates, want dan raak die leningstruktuur te ingewikkeld om te bestuur.
  5. Indien die boer sukkel om sy verpligting teenoor die bank na te kom moet hy vroegtydig met die bank in verbinding tree. Dit is ʼn voorwaarde in die kredietaansoek en hy het dit onderteken. Dit is ook wys om vroegtydig ʼn plan B te maak.
  6. Wanneer ʼn boer die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan oortuig dat hy nie wins maak nie, gaan die banke en finansierders hom ook glo. Derhalwe soek hulle buiten sy eie ouditeur se state, ook ʼn groot ouditeursfirma s’n. Dit geld veral waar daar meer as R10 miljoen geleen word. Dink dus baie mooi watter uitgawes jy lys om belasting af te bring.
  7. Pasop om net op een bank te steun. Kry eerder ʼn “voorloper” en ʼn “uitdager”. Dit hou eersgenoemde op sy tone. Bou dus ʼn verhouding met ʼn ander bank, al is dit deur klein transaksies. Aan die einde van die dag wil jy appels met appels kan vergelyk.
  8. Moenie ook net op die rentekoers fokus nie; kyk wat is die totale koste om die lening te diens.

“Onthou dit is nie jou geld wat ter sprake is nie; wanneer die bank inligting benodig, moet dit so gou as moontlik en in ʼn duidelike formaat vrygestel word.”

Vorster voeg by dat daar eerder na die produktiewe waarde van ʼn plaas as die markwaarde gekyk moet word vir ʼn aansoek, want pryse word maklik skeefgetrek as oorsese kopers byvoorbeeld in dollars vir ʼn wynplaas betaal.

ʼn Bank sal jou nooit bel en sê hulle wil jou sekuriteit verlig nie en geen finansierder gaan vrywillig bates en/of borgskappe onthef nie. Besluit wat is jou kroonbates en kry dit so gou moontlik uit die borgskappe. ʼn Boer moet seker maak dat daar nie meer van sy bates op die skuldlys staan as wat nodig is nie.

Onderhandel ook voor die tyd oor die aflosterme. Finansiers is baie lief daarvoor om bykomende gelde te hef op ʼn vroeë aflossing, is Vorster se raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andrew

Shoe maar dit klink maklik.
Bank gee nie lenings sonder sekuriteit. Dis nou grond of gevestigde besigheid met operationele bates ens . En dan kort jy nog ook al die nodige lisensies, permitte , operasienele ondervinding ens. Die is nou goed wat jy in plek moet kry voor jy finasiering sal kry. So die groot gevestigde boer kry n lening, n start-up kan maar vergeet van finansiering.