Beplan só aan jou beleggings en boedels

Argieffoto (Foto: Herm/Pixabay)

Met die staat van inperking en die huidige ekonomiese klimaat is talle Suid-Afrikaners sonder inkomste gelaat en moes meeste individue terugstaan en hulle beleggings herevalueer. Dit is noodsaaklik dat individue sorgvuldig aandag skenk aan die wyse waarop hulle hul geld belê en behoorlike boedelbeplanning is dus van kardinale belang.

Voor ons begin om die konsep van beleggings en boedels te bespreek moet ons eers kyk na die definisie van eiendom. Dit word omskryf as ʼn reg tot enige eiendom wat roerend, onroerend, liggaamlik of onliggaamlik van aard is. Dit sluit verdere eiendom in wat as geagte bates omskryf word. Die geagte bate word eers gerealiseer ten tye van dood en vorm nie deel van die vooraf bestaande bates nie.

Daar is verskillende tipes beleggings wat ʼn individu gedurende sy/haar leeftyd kan uitneem en kan bestaan uit vrywillige en nie-vrywillige kapitaalbeleggings. Elkeen van die bates of geagte bates is uniek en word op verskillende wyses hanteer wanneer dit kom by die herstrukturering en hersiening daarvan. Dit is daarom van belang dat die belastingimplikasies ook oorweeg word vir doeleindes van boedelbeplanning.

ʼn Algemene wanpersepsie bestaan dat bates, en meer spesifiek nie-vrywillige kapitaal, waarop ʼn begunstigde benoem is, nie deel vorm van ʼn persoon se boedel nie. Dit geld wel vir voordele uitbetaalbaar vanuit ʼn uittree-annuïteit, en/of ʼn pensioenfonds en/of voorsorgfonds wat nie deel uitmaak van die definisie van eiendom nie.

ʼn Lewende annuïteit val buite ʼn individu se boedel en kan tydens dood regstreeks aan ʼn begunstigde uitbetaal word en is nie vatbaar vir boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en/of eksekuteursfooie nie. In die geval waar ʼn trust as begunstigde benoem word, is die lompsom wel vatbaar vir boedelbelasting. Indien geen begunstigdes hierop benoem word nie sal die kapitaal bedrag geag word as ʼn bate wat deel vorm van die oorledene se boedel en dus sal eksekuteursfooie van toepassing wees.

Lewensversekering word ook in aanmerking geneem vir boedelbelasting selfs al betaal die polisopbrengs uit aan ʼn genomineerde begunstigde. Die opbrengs word beskou as geagte eiendom en die bedrag is dus belasbaar in ʼn individu se boedel. Individue word aangeraai om van so ʼn polis gebruik te maak waar die boedel nie voldoende kontantbates het nie. Die boedel word dan benoem as begunstigde en die opbrengs word aangewend om die laste en fooie te vereffen wat deel uitmaak van die boedel. Indien die boedel nie voldoende kontantbates het nie sal dit daartoe lei dat ander bates gerealiseer moet word om genoegsame kontant bymekaar te maak of dat die erfgename ʼn proposionele gedeelte van die skuld moet betaal om die bates te behou. Om die polis te laat uitbetaal aan jou boedel mag wel beteken dat eksekuteursfooie daarop gehef gaan word, maar dit kan moontlik minder wees as die boedelbelasting indien dit uitbetaal aan ʼn begunstigde.

Vrywillige kapitaal soos aandele, beleggingseffekte, skenkings en effektetrusts is wel aan boedelbelasting onderhewig al word ʼn begunstigde hierop benoem. Dit sluit enige buitelandse kapitaal en beleggings in.

Alhoewel meeste van die beleggings vatbaar is vir boedelbelasting beteken dit nie dat die volle bedrag wel belasbaar is nie. Daar word voorsiening gemaak word vir verskeie aftrekkings wat verligting mag bring vir hoëinkomste-individue. Die eerste R3,5 miljoen van ʼn individu se boedel word nie in aanmerking geneem vir belasting nie en word jy slegs belas vir die bedrag wat dit oorskry. Die vermindering kan ook oorgerol word tot voordeel van die langslewende eggenoot waarop hy/sy geregtig sal wees op ʼn korting van R7 miljoen ten tye van die langslewende eggenoot se afsterwe. Artikel 4q bepaal ook dat alle bates wat aan die langslewende eggenoot bemaak is kwytgeskeld word van boedelbelasting en eers in aanmerking geneem sal word wanneer die gade afstand doen van die bate.

Beplan dus betyds hoe u beleggings gestruktureer moet word om sodoende die beste voordeel daarvan te verkry wanneer dit kom by u boedelbeplanning.

Besoek Everest Wealth vir meer inligting. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Verbruikersake

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae