Covid-19 en skuldverpligtinge

Deur Anton Schutte

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die afsonderingstydperk weens die Covid-19-pandemie is tot einde April verleng, wat beteken die ekonomiese impak op sommige besighede en individue gaan waarskynlik vererger.

In die artikel word gefokus op skuldverpligtinge – en veral kredietversekering – gegewe die huidige omstandighede.

In die FSCA Kommunikasie 12 van 2020 (Algemeen) het die gedragsowerheid vir finansiële dienste (FCSA) onder andere die volgende punt gemaak (eie vertaling):

Die FSCA wil benadruk dat gereguleerde entiteite die huidige omstandighede in ag moet neem en hul kliënte moet bystaan met selfs groter empatie, meer buigsaamheid en begrip gedurende hierdie moeilike tye. Dit kan insluit die oorweging van verligting- en ondersteuningsopsies, veral vir kwesbare kliënte. Ondernemings moet toesien dat alle kliënte regverdig behandel word gedurende die hele produksiklus van advertensies, verkope, eise, hernuwings en klagtes. Winsbejag ten koste van diegene wat kwesbaar is en swaarkry, sal nie geduld word nie.

Dit is dus ʼn duidelike beroep op banke, versekeringsmaatskappye en sodanige organisasies om ekstra moeite in hierdie moeilike tyd te doen om kliënte by te staan.

Wat is kredietversekering?

Die Nasionale Kredietwet definieer dit soos volg: “Kredietlewensversekering sluit die dekking in wat betaalbaar is in die geval van ʼn verbruiker se dood, ongeskiktheid, terminale siekte, werkloosheid of ander versekerbare risiko wat die verbruiker se vermoë om inkomste te verdien benadeel.”

Afhangend van hoe die produk gestruktureer is, kan dit bloot uit ʼn lewensversekerings­komponent bestaan, ​​of as ʼn hibriede produk met lewens- en algemene versekeringskomponente soos verlies aan inkomste.

Wat staan verbruikers met geen of verminderde inkomste nou te doen?

  1. Indien jy nie seker is nie, kontak eerstens jou krediteure om te bepaal of jy wel kredietversekering het en wat hierdie dekking behels. Indien jy kwalifiseer, vind uit wat die eisprosedure is. Onthou, sedert 10 Augustus 2017 het alle nuwe lenings meer omvattende kredietversekering wat jou paaiement tot en met 12 maande lank sal betaal indien jy aan die voorwaardes van die polis voldoen.
  2. Indien jy nie vir kredietversekering kwalifiseer nie, doen dadelik by jou krediteure aansoek vir ʼn betalingsvakansie. Hulle sal heel waarskynlik ʼn voorgeskrewe proses hê.
  3. Moenie jou skuldeisers ignoreer nie!

Let wel: Bogenoemde is nie van toepassing op diegene wat reeds hul skuld swak bestuur nie.

Anton Schutte is ʼn deeltydse dosent aan Akademia in die BCom Finansiële Beplanning-kwalifikasie. Hy het 32 jaar se ondervinding as bestuurder, opleier, mentor, vakkundige en praktiserende finansiële beplanner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.