Finansiële wenke vir troeteldiereienaars

(Foto: Verskaf)

Troeteldiere was nog altyd ʼn bron van vreugde, vertroosting en geselskap en met die pandemie het selfs nog meer mense besluit om ʼn hond of kat aan te neem.

Jou beste vriende kan egter duurder wees as wat jy aanvanklik verwag het. Net soos familielede kan hulle siek word, baklei, hulself beseer en het hulle oefening en  versorging nodig, en kan selfs kieskeurige eters wees.

JustMoney.co.za, ʼn webwerf wat fokus op persoonlike finansies, het die koste gaan ondersoek wat jy moontlik sal moet aangaan om jou vierpotige vriend gesond en gelukkig te hou.

“Dit is natuurlik om verlief te raak op ʼn oulike klein hondjie of katjie, maar voordat jy besluit om daardie nuwe maatjie huis toe te neem, moet jy en jou gesin bewus wees van die verantwoordelikhede en koste daaraan verbonde,” sê Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder by JustMoney.co.za.

“Daar is gewoonlik aanvanklik talle uitgawes wanneer jy jou nuwe vierpotige baba huis toe bring en dit word deur ʼn langtermyn‑finansiële verbintenis gevolg.”

Anthony bied vyf finansiële wenke vir huidige en voornemende troeteldiereienaars:

1. Doen jou huiswerk: Om ’n geregistreerde rasegte dier, soos ’n Engelse of Franse bulhond, mopshond, of King Charles‑spanjoel te koop, kan tot R70 000 beloop. Jy kan maklik nog R10 000 in die eerste paar maande uitgee op inentings, ontwurming, sterilisasie, mikroskyfies, ’n bed, troeteldierkos en bosluis- en vlooibehandeling. Sommige troeteldiere benodig ook sosialiseringsklasse, en professionele versorging soos om hulle pels te skeer.

In die geval van ʼn aanneming, sal jy geassesseer word om te verseker dat jy ’n goeie huis kan bied, en sal jy waarskynlik ’n aannemingsfooi van tot en met R1 000 betaal. Dit sluit gewoonlik sterilisasie, inenting en ontwurming in.

2. Bou ’n noodspaarfonds: Jou troeteldier is dalk heeltemal gesond, maar ’n been kan in sy keel sit, of kan deur ’n ander dier aangeval word. ’n Onverwagse veeartsrekening sal ’n herinnering wees dat noodgevalle nie wag totdat jy kontant beskikbaar het nie. Groot rekeninge kan enige tyd inkom.

Finansiële kenners stel voor dat jy drie tot ses maande se salaris spaar om onverwagte uitgawes te hanteer. Jy wil nie skuld aangaan om jou veeartsrekeninge te dek nie, wat jou moontlik vir maande of selfs jare onder finansiële druk kan plaas.

3. Oorweeg troeteldierversekering: Dit is ’n goeie idee om troeteldierversekering, wat deur versekeringsmaatskappye onderskryf word, aan te skaf. Jou troeteldier se ouderdom en ras, asook waar jy woon, sal in ag geneem word. Vergelyk verskeie kwotasies sodat jy ’n pakket kan kies wat by jou behoeftes pas.

4. Lees die fynskrif: Mense maak gewoonlik die fout om te aanvaar dat troeteldierversekering op dieselfde manier werk as mediese versekering vir mense, maar dierehospitale dien nie eise namens jou troeteldier in nie en raak gewoonlik nie by die finansiële aspekte van ’n eis betrokke nie.

Afhangende van jou polis, sal jy dalk ’n bykomende bedrag self moet betaal. As jou troeteldier in die hospitaal opgeneem is, stel jou versekeringsverskaffer in kennis en kyk wat hulle sal dek, sodat jy voorbereid is vir enige koste wat jy persoonlik moet aangaan.

5. Dagsorg en honde- en kathotelle: Alhoewel dit maklik is om ’n band met jou troeteldier te ontwikkel terwyl jy van die huis af werk, gaan julle dalk meer tyd van mekaar weg spandeer soos wat inperking gelig word en ʼn mens weer meer tyd by die kantoor deurbring. As ’n troeteldiereienaar moet jy dalk die koste van hondedagsorg, of ’n huisoppasser of hondehotel vind as jy weer gereeld begin reis of terugkeer kantoor toe.

“Om ’n troeteldiereienaar te word, kan een van die beste besluite wees wat jy ooit sal neem, maar dit is belangrik om bewus te wees van die uitgawes daaraan verbonde. Om jouself op te voed oor die koste van troeteldiereienaarskap, en ’n plan gereed te hê, sal die hartseer voorkom dat jy nie veeartsenykundige behandeling kan bekostig nie, of selfs ’n geliefde troeteldier moet weggee omdat jy nie kan bekostig om dit behoorlik te versorg nie,” sê Anthony.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.