Gaan gerus generies

Vra jou apteker oor die generiese medisyne wat op die rak beskikbaar is. (Foto: iStock)

Met gesinne wat die geldgordel al hoe stywer moet intrek om die syfers te laat klop, behoort besparing op mediese uitgawes hoog op die lysie te wees. Een manier om te bespaar sonder om gehalte-gesondheidsorg in te boet, is deur vir generiese medisyne op jou voorskrif te vra.

Generiese medisyne is soos ’n supermark se eie handelsmerkproduk. Dit is meestal presies dieselfde produk (wat dikwels in dieselfde fabriek vervaardig word), maar wat slegs met ’n ander verpakkingsbaadjie spog. Tog trek ons gereeld die neus op vir die goedkoper ontbytgraan of langlewemelk en laai die oorspronklike handelsmerk in ons inkopiewaentjie.

Dieselfde geld vir generiese medisyne. Hoewel die logiese keuse is om geld te bespaar, het talle mense nog vrae oor dié middels: Word dit behoorlik getoets? Is dit net so doeltreffend soos die oorspronklike (duurder) handelsmerkmiddel?

Wat is generiese medisyne?

Generiese medikasie stem ooreen met handelsnaamprodukte of verwysingsprodukte ten opsigte van doseervorm, sterkte, gehalte, werking en gebruiksvoorskrifte, aldus die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA).

Daar kan tussen drie soorte generiese medisyne onderskei word. Pseudo- generiese middels of “klone” is 100% identies aan die handelsnaamproduk, behalwe vir die naam en verpakking. In die meeste gevalle word die gekloonde en handelsnaamproduk deur dieselfde vervaardiger in dieselfde fabriek vervaardig.

Gelisensieerde generiese produkte is ook identies in samestelling aan die oorspronklike produk, maar word deur ’n ander maatskappy elders vervaardig. Vervaardigers van gelisensieerde generiese produkte het die regte verkry om dié produkte te mag vervaardig.

Die derde soort is medisyne wat wel dieselfde aktiewe bestanddeel as die oorspronklike produk bevat, maar die ander onaktiewe bestanddele (soos kleurstowwe) verskil van die oorspronklike produk. Vervaardigers van hierdie medisyne gebruik hul eie formules wat dieselfde aktiewe bestanddeel bevat.

Hoe verskil generiese en oorspronklike medisyne?

Die enigste werklike verskil tussen generiese en handelsnaammedisyne is die uitwerking wat dit op jou beursie het, nie op jou gesondheid nie. Daar steek geen waarheid in die mite dat generiese medisyne in fabrieke van swakker gehalte vervaardig word of dat dit minder doeltreffend is as handelsmerkprodukte nie.

Generiese medisyne word plaaslik deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) gereguleer en word slegs goedgekeur indien dit dieselfde aktiewe bestanddeel, sterkte, doseervorm en toedieningsmetode as die handelsnaamproduk het.

Die vervaardiger van die generiese middel moet allerlei toetse doen wat bewys dat die generiese produk dieselfde uitwerking het as die verwysingsproduk. Die verwysingsproduk is altyd die handelsnaamproduk, nooit ’n ander generiese middel nie.

Verskille in die samestelling tussen generiese en oorspronklike produkte word wel toegelaat, maar slegs ten opsigte van onaktiewe bestanddele soos kleurstowwe. Die vervaardiger moet bewys dat dié verskille nie die terapeutiese doeltreffendheid, veiligheid of die werking van die middel (hoe dit in die liggaam geabsorbeer, versprei, gemetaboliseer of uitgeskei word) verander of beïnvloed nie.

Hoekom die prysverskil?

Om medisyne te ontwikkel, is ’n duur en omvattende proses. Navorsing, kliniese proewe en ontwikkeling duur soms tot 15 jaar voordat ’n produk van die fabriek tot op die apteek se rak beland.

Omdat dit so duur is, registreer farmaseutiese maatskappye ’n patent op medikasie. Sodra hierdie patentreg egter verstryk het, kan ander maatskappye dieselfde doseervorm, aktiewe bestanddeel en sterkte gebruik, maar met ’n ander handelsnaam en verpakking.

Hierdie maatskappye hoef nie weer die navorsing te herhaal nie, maar moet wel bewys dat die produk met die oorspronklike middel ooreenstem wat werking, veiligheid en doeltreffendheid betref.

Geen generiese gelyke?

Sekere medisyne het nie ’n generiese gelyke nie omdat die oorspronklike produkte deur patentreg beskerm word. Die produkte kan ook só gespesialiseerd wees dat generiese ekwivalente nie gou beskikbaar sal raak nie. Sulke medisyne is gewoonlik baie duur.

Indien jou dokter só ’n middel voorskryf, vra gerus of daar dalk ’n ander produk is (met dieselfde aktiewe bestanddele) wat net so doeltreffend is.

Generiese medisyne kom dalk in ander kleure, vorms en verpakking, maar wees gerus: dit voldoen aan streng standaarde en toetse wat verseker dat dit net so veilig en doeltreffend as hul handelsnaamgelyke is.

  • Mense kan moontlik allergies wees vir sekere onaktiewe bestanddele soos laktose of gluten. Vra jou dokter of apteker of ’n nuwe middel wat vir jou voorgeskryf is wel hierdie stowwe bevat. Dit geld vir generiese én oorspronklike medisyne.

Bykomende bronne: www.fda.gov; www.medicinenet.com; www.medicalnewstoday.com; www.sahpra.org.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ek vind dikwels met generiese pynpille (soos generiese handelsmerke van ibuprofen) dat alhoewel die inhoud dieselfde is, die omhulsel (coating) verskil wat dikwels veroorsaak dat die pynstiller nie so vinnig opgeneem word of aktief is nie. Kan ook wees dat die inhoud meer “grof” of nie so fyn verwerk is nie. Weet nie, dis net ‘n waarneming. Verskil ook van produk tot produk. Party is definitief meer “slow-release” as ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.