Geboueversekering: Wie betaal wat wanneer iets breek?

weer-storms-huis-dakloos-versekering

(Argieffoto: Blitzmaerker/Pixabay)

Wonder jy ook wie moet daardie stukkende geut, onklaar hekmotor, teëls wat oplig of skade weens vogtigheid regmaak as dit by geboueversekering kom?

Virseker, ʼn versekeraar en finansiëlediensverskaffer, werp lig op die mees algemene geboueverwante uitdagings wat gebruikers ondervind, asook hoe hulle nare, duur verrassings kan vermy.

“Daar is min dinge meer frustrerend as probleme met geboue, veral wanneer die winter sy ysige greep versterk, of die reënseisoen begin,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dit is selfs erger wanneer dit jou ʼn fortuin kos om te herstel en jy vasstel dat proaktiewe onderhoud – om jou te beskerm teen slytasie – jou kon help om dié krisis geheel en al te vermy.”

Virseker se lys van die mees algemene geboueversekeringseise wat later aan slytasie toegeskryf word, sluit die volgende in:

  • Dakke wat lek, waaronder gevalle waar waterdigting verweer of kraak
  • Geute wat versper word deur plant- en ander materiaal
  • Pype wat lek weens ouderdom en korrosie
  • Hekmotors wat onklaar raak weens ouderdom
  • Teëls wat oplig
  • Stygende vogtigheid
  • Roes

Coetzee sê in bostaande gevalle is dit belangrik om te onderskei tussen slytasie-items en nie-slytasie-items: “Enigiets wat oor ʼn tydperk – eerder as tydens ʼn skielike, onvoorsiene gebeurtenis – plaasvind, kan beskou word as slytasie. Die items in die lys hierbo is goeie voorbeelde. Nie-slytasie is skade wat veroorsaak word deur dinge soos brande, weerlig, storms, vloede of ʼn botsing of slag teen die gebou. Gevolglike skade sal tipies ʼn versekerde gebeurtenis wees, mits dit as ʼn versekerde gevaar gelys is.”

Hy wys daarop dat dit belangrik is om te onthou dat versekerde gevare spesifiek in polisbewoording aangeteken word. ʼn Polishouer kan slegs eis vir skade wat veroorsaak is deur gevare wat pertinent in die polisbewoording aangedui is.

Virseker wys ander algemene slaggate uit en hoe om hulle te vermy:

Verseker dit teen die volle vervangingswaarde: Maak absoluut seker dat jy jou eiendom teen die volle vervangingswaarde verseker. Vervanging van die hele gebou, asook kleiner eise se uitbetalings, word bereken volgens die persentasie van die volle waarde waarvoor jy ʼn premie betaal. So, wanneer jy slegs ʼn gebou vir ʼn persentasie van sy volle waarde verseker, betaal jy slegs ʼn persentasie van die premie wat jy eintlik opsy behóórt te sit. Gevolglik sal slegs ʼn persentasie van die hoeveelheid wat jy eis, uitbetaal word. Dit is standaardpraktyk vir die meeste, indien nie alle nie, versekeraars.

Slim kosteberekening: Daar is verskeie maniere om geboue se vervangingskoste akkuraat te bereken. Gaan jou huisleningstate na, vra eiendomsagente en leningskenners of gebruik aanlyn berekeningsplatforms op betroubare eiendomswebwerwe. Neem die algehele koste in ag om ʼn gebou van die grond af op te bou – argitekte, ingenieurs, sloping, afvalverwydering, boumateriaal, loodgieterswerk en elektriese werk om maar ʼn paar soorte koste te noem.

Huidige waarde: Dit is noodsaaklik om seker te maak dat jou eiendom se waarde op datum bly. Die versekerde hoeveelheid mag dalk jaarliks verhoog word, in ooreenstemming met inflasie, vir geboue én huisinhoud, maar aanbouings, veranderinge en opknappingswerk – wat ʼn invloed op die waarde kan hê – word nie in ag geneem nie. Wanneer jy jou polis se hernuwingsdokumente ontvang, staan ʼn paar minute af om te dink aan veranderinge wat jy aangebring het en oorweeg dit om die polis by te werk.

Kyk verby die groot goed: Sommige mense verseker net die “hoërisiko-items” wat tipies tydens ʼn inbraak gesteel sal word, maar dink nie aan wat sou gebeur indien ʼn huis heeltemal verwoes word soos in die geval van ʼn brand nie. Om alles teen vandag se pryse te vervang kan aansienlike koste beloop, so dit is ʼn móét om deeglik te oorweeg.

Lees die fynskrif: Moenie aanvaar dat alles gedek word deur jou versekering nie. Neem die tyd om die dokumente deeglik deur te lees en die bepalings en voorwaardes van jou dekking deeglik te verstaan. Weet waarvoor jy gedek is, en wat uitgesluit word, in jou spesifieke polis.

Ken die proses: Sodra ʼn eis geregistreer is en ʼn verskaffer uitgestuur is om ʼn aanvanklike skadeverslag te doen, sal ʼn spesialis-kontrakteur tipies uitgestuur word om ʼn verdere skadeverslag te doen en ʼn kwotasie saam te stel.

Voorkoming is beter as genesing: Laat jou eiendom gereeld nagaan, of gaan dit self na, om seker te maak dat die dak, geute, ondersteuningstrukture, pype en bedrading in ʼn goeie toestand is, verder as net op gesigswaarde. Dit is veral belangrik met die verandering van seisoene. Doen die nodige voorkomende onderhoud om duur skade te vermy.

 “As jy onseker is oor enige van die punte wat hier uitgelig is, is dit wys om jou versekeraar dringend te nader en duidelikheid te kry. Wanneer jy seker maak dat jy al die puntjies op die i’s sit, is goeie, omvattende geboue- en huisinhoudversekering jou grootste bondgenoot in tye van nood.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.