Geldgeheime kan jou verhouding skaad

Geldgeheime kan ʼn verhouding kelder. Moenie toelaat dat dit gebeur nie. (Foto: Verskaf)

Ons deel soveel met ons eggenotes – etes, badkamerspasie en kinders – maar dit waarborg nog glad nie dat ons gemaklik is om die besonderhede van ons finansies met mekaar te bespreek nie.

Die manier waarop elkeen verkies om sy of haar geld te bestuur hou dikwels verband met ons kinderjare, opvoeding, persoonlikhede en kulturele agtergrond. Dit kan egter lei tot wrywing, en kan selfs ʼn huwelik laat verbrokkel.

Met verhoudings in die kollig in Februariemaand kyk JustMoney.co.za, ʼn webwerf wat fokus op persoonlike finansies, hoe ons hierdie skadelike gedrag kan oorkom en hoe om ʼn sterker verhouding wat op vertrou gegrond is, te bou.

Van klein geheime tot finansiële ontrouheid

Ons almal het ʼn emosionele band met geld. Vir baie van ons is dié emosies negatief en dit word ook in ons gedrag geopenbaar. Mense wat nie met baie geld grootgeword het nie, kan byvoorbeeld in die versoeking kom om te veel te bestee om hul angs daaroor te help verlig. Dit kan die gesin se begroting vinnig in die wiele ry.

Hoewel dit aanvanklik skadeloos lyk om die duisende rande wat jy op ʼn paar skoene bestee het, weg te steek, of vir jou maat te vertel jy het dit vir R600 op uitverkoping gekry het, voorspel dié soort geheimsinnige gedrag rooi ligte vir vertroue in ʼn verhouding. Dit gaan selfs ʼn groter kwessie word as daar skielik ʼn paar duisend minder vir maandelikse kruideniersware in die begroting is.

Wanneer twee mense in ʼn verhouding is, bring hulle emosionele bagasie saam en dikwels twee verskillende geldpersoonlikhede. Albei mag vas glo hul eie siening oor geld is reg, maar dit kan groot wrywing tussen ʼn paartjie veroorsaak.

  • Lees hier meer oor die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling se boek Ryk brein, arm brein wat jou vertel oor verskillende geldpersoonlikhede.

Of jy wegsteek hoeveel jy verdien, of ’n geheime voorraad kontant hou vir ingeval jou verhouding nie uitwerk nie, jy tree op maniere op wat daarop dui dat jy nie jou maat vertrou nie. Dit kan ’n wig tussen julle indryf en wegkalwe aan julle verhouding.

Hoewel dit mag lyk of daar ’n onderskeid is tussen kleiner en groter geldgeheime, kan enigeen van die twee ’n glybaan word na ʼn soort finansiële ontrouheid. Praat eerder oor geldsake, maak nie saak hoe moeilik dit ook al aan die begin mag lyk nie.

“Mense is dikwels geheimsinnig oor hul finansies omdat hulle skaam en bekommerd voel,” sê Shafeeka Anthony, bemarkingsbestuurder van JustMoney.

“Hulle is dalk bang dat hulle ’n swak voorsiener is, of kan nie tred hou met vriende en familie nie. Afleggings tydens die Covid-19-pandemie het ook talle hegte verhoudings gespanne oor geld gelaat.

“ʼn Geheime verslawing, soos dobbel of alkoholisme, kan dinge verder vererger.”

(Foto: Verskaf)

Blaam en skande

Nie almal praat dieselfde finansiële taal nie. Jou maat voel byvoorbeeld dalk geregtig om jul geld te bestee soos hy of sy wil, terwyl jy dink julle twee moet julle geld in ’n gesamentlike bankrekening bymekaarsit. Dit is belangrik om jou oortuigings te bespreek en te probeer ondersoek hoekom jy dink soos wat jy doen.

Dit is belangrik om te onthou dat niemand in die verhouding se waarde op geld gegrond is nie. Dit is egter maklik om jou maat te blameer en skaam te laat voel as hulle nie bydra op maniere wat jy dink regverdig is nie, wat daartoe kan lei dat hulle geheime begin hou.

Almal het die reg op privaatheid en seggenskap oor hul finansies, en jy hoef nie rekeningskap te gee van elke sent wat jy bestee nie. Jou optrede kan egter jou maat se lewe beïnvloed, en jy is dit aan hom of haar verskuldig om eerlik te wees.

(Foto: Verskaf)

Maak die vertrouensgaping toe

As geld is kwessie is hoef ʼn paartjie nie noodwendig berading te soek nie – hulle moet net bereid wees om aandag aan die kwessie te gee. Die enigste werklike oplossing is radikale eerlikheid, met jouself en met jou maat. As jy nie bereid is om oop kaarte met jou maat te speel nie, moet jy dalk die verhouding self herevalueer.

“As jy ’n finansiële probleem het, maak oop en erken dit. Druk jou bankrekeninge en kredietkaartstate uit en deel dit met jou maat. Dit help julle albei om die ware omvang van die situasie te verstaan, en wys dat julle ernstig is om aan die kwessie aandag te gee,” sê Anthony.

“Julle kan as ’n paartjie saam ’n afspraak by ’n finansiële beplanner of ’n skuldberader maak, en dan ’n weeklikse bespreking hou oor hoe julle geldsake vorder.

“Om vooraf geldsake te hanteer waaroor jy lankal geheimsinnig was, kan ’n groot verligting wees en op die lang duur jou verhouding verdiep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Seerot ·

Geld en seks…te veel of te min…daar sink jou huwelik. Daardie twee is byna altyd die oorsaak.

SlinkseKoljander ·

Vertel haar niks! Vrouens wil altyd alles weet en dit is nie nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.