Wêreldwyd verwag vier uit elke tien mense dat hulle besteebare inkomste oor die volgende jaar gaan daal en Suid-Afrikaners is geen uitsondering nie.
Luidens nuwe navorsing van Ipsos wat in 28 lande wêreldwyd gedoen is, is tot ʼn driekwart van mense boonop bekommerd oor die stygende koste van goedere en dienste binne die volgende ses maande.
Miljoene Suid-Afrikaners is finansieel onder toenemende druk en altesame 19% van diegene wat plaaslik aan die opname deelgeneem het, verwag dat hul besteebare inkomste heelwat gaan daal. Tog verwag 40% van Suid-Afrikaners dat hul besteebare inkomste gaan toeneem.
Suid-Afrikaners is veel meer optimisties as burgers van sommige van die ander lande waar die opname gedoen is, hoewel daar tog kennis geneem moet word dat die steekproef verteenwoordigend is van ʼn meer welgestelde segment van die samelewing.
Die wêreldwye ekonomiese situasie word gesien as die grootste aandrywer van stygende koste, gevolg deur die uitwerking van Rusland se inval van Oekraïne en daarna eers die beleid van hul onderskeie lande se regerings.
Altesame 40% van Suid-Afrikaners verwag dat hul inkomste gaan toeneem, terwyl die getal in Indië op 48% staan en in Saoedi-Arabië op 42%.
Burgers van Turkye (58%), Frankryk (55%), Groot‑Brittanje (54%) en Hongarye (50%) verwag op hulle beurt dat hul besteebare inkomste gaan daal.
Wêreldwyd het sowat 10% van mense aangedui dat hulle deesdae baie sukkel om finansieel kop bo water te hou, 19% vind dit redelik moeilik, 30% van mense oorleef finansieel net-net, 28% sê hulle vaar betreklik goed en 12% van deelnemers het aangedui hulle leef heel gemaklik.
In Suid-Afrika het net 6% van mense wat aan die opname deelgeneem het, aangedui dat hulle “gemaklik leef”, terwyl 34% aangedui het dat hulle net omtrent naastenby die mas opkom.
Altesame 28% van Chinese voel hulle leef gemaklik, en só ook 27% van Swede.
Wêreldwyd is driekwart van mense bekommerd dat die koste van goedere en dienste oor die volgende ses maande gaan styg. In Suid-Afrika staan dié syfer op 88%, in vergelyking met die wêreldwye gemiddeld van 77%.
Suid-Afrika, wat van vandag af weer aan die beurtkragstelsel onderwerp word, is nes die res van die wêreld bekommerd oor die immer stygende koste van gas of elektrisiteit. Dit besorg altesame 56% van mense hoofbrekens. In Suid-Afrika is 79% van mense bekommerd oor hul vermoë om hul kragrekeninge in die afsienbare toekoms te betaal.
Dit is ook nie net in ontwikkelende lande waar mense bekommerd is oor stygende energiepryse nie. In Groot‑Brittanje is 67% van mense bekommerd oor hul finansiële vermoë om hul nutsdiensrekeninge te vereffen.
Meer as die helfte van mense is bekommerd dat hulle nie meer die dinge wat hulle gewoond is om te koop, sal kan bekostig nie. In Suid-Afrika is 73% van mense hieroor bekommerd, terwyl Nederlanders, aan die ander kant, oënskynlik die minste besorg is (33%) dat hulle nie meer alles sal kan bekostig nie.
Suid-Afrikaners se persoonlike finansiële situasie
- 88% van Suid-Afrikaners is bekommerd oor die stygende pryse van goedere en dienste en 10% is min of glad nie bekommerd nie
- 79% is bekommerd oor hul vermoë om hul kragrekeninge te betaal en 17% is min of glad nie bekommerd nie
- 73% is bekommerd oor hul vermoë om die dinge te koop wat hulle gewoonlik doen en 24% is min of glad nie daaroor bekommerd nie
- 75% is bekommerd oor hul vermoë om rekeninge te betaal en 21% is min of glad nie bekommerd nie
- 57% is bekommerd oor die waarde van hul huis en 27% is min of glad nie bekommerd daaroor nie
Wêreldwyd staal die meeste mense hulle ook vir ʼn verdere styging in voedselpryse (76%) en net minder as ʼn driekwart van mense verwag dat die koste van hulle ander inkopies ook gaan styg.
Altesame 83% van Suid-Afrikaners verwag dat die koste van kos gaan styg, 83% dat die koste van elektrisiteit gaan styg, 81% verwag dat die koste van ander huishoudelike besteding gaan toeneem en 81% verwag dat die prys van brandstof gaan toeneem. Die studie is gedoen voor die daling in Suid-Afrika se brandstofprys – die eerste een in maande – die afgelope week aangekondig is.
Minder geld vir luukshede
Suid-Afrikaners verwag ook dat die algehele koste wat met “sosialisering” verband hou, gaan styg en meer as die helfte van mense (54%) verwag dat die koste van intekeninge, soos dié by Netflix of ʼn gimnasium, ook gaan toeneem.
Altesame 58% van Suid-Afrikaners berei ook reeds voor dat hul maandelikse terugbetaling van hul huislening gaan toeneem.
Ipsos het bevind mense gaan waarskynlik daarop konsentreer om hul diskresionêre besteding te verminder. In die lig van stygende koste wat selfs net hul gewone leefstyl toenemend onbekostigbaar maak, sê amper die helfte van mense hulle gaan minder geld aan sosialisering bestee en groot aankope liefs uitstel en meer as ʼn derde van mense gaan minder geld uithaal vir vakansies of ander huishoudelike inkopies.
Tog het die meeste mense aangedui hulle sal nie na ander werk begin soek om hul leefstyl vol te hou nie en selfs minder mense sal vra vir ʼn verhoging indien koste aanhou styg.
“Wêreldwyd is inflasie die grootste bekommernis en die internasionale publiek verwag dat sake selfs gaan vererger,” sê Ben Page, uitvoerende hoof van Ipsos.
“In hierdie stadium is verbruikersreaksie nog gefokus op die besnoeiing van diskresionêre besteding en ons weet uit ander Ipsos-navorsing dat ander kategorieë ook swaarkry terwyl mense konsentreer op kos en brandstof. Diegene wat na ʼn hoër betaalde werk soek of vir ʼn verhoging vra, bly betreklik min, maar indien hoër inflasie meer as ʼn twee jaar lange verskynsel bly, verwag ons dat dit gaan verander.”
My huispaaiement is al R3000 meer sedert my eerste paaiement in Desember 2021. Snaaks genoeg het ek my eerste koersverhoging gehad VOOR ek nog my eerste paaiement betaal het. Ek het ‘n koers van 6.5% by die bank gekry, maar my eerste betaling was teen 6.75% gewees. Ek het nooit die 6.5% in effek gehad nie.
Gebruik eerder asseblief nie ‘n “Pie Chart” nie. ‘n “Bar Chart” is baie makliker om te interpreteer.
43 000 Kaartjies is vir Saterdag se toets in Nelspruit verkoop. Met hierdie 43 000 siele gaan dit baie goed. Wat is hul geheim om nie platsak te wees nie?