Groei só jou besigheid se Instagram-profiel

Deur Danielle Kleyn

(Foto: Pixabay)

Groei is belangrik vir die voortbestaan van ’n besigheid. Sedert die Covid-19-uitbreking spandeer al hoe meer mense tyd op sosiale netwerke soos Instagram, wat dit die ideale geleentheid maak om verkope of verkoopsleidrade deur Instagram te verkry. Die aantal organiese volgelinge wat ’n besigheid op Instagram het, dra tot handelsmerksekerheid en ’n styging in verkope by.

Talle besighede neem kortpad om hul volgelinge te koop. Waarom jy liewer nie hierdie roete moet volg nie:

  1. Net omdat jy ’n sekere aantal volgelinge het, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat almal, of selfs die meerderheid, van jou plasings gaan hou, kommentaar gaan lewer of dit op hul eie stories gaan deel nie. Dit is veral die geval met gekoopte volgelinge. Hulle is dus eintlik maar net “dooie” volgelinge.
  2. Indien jou volgelinge gekoop is, is die kans groot dat hulle nooit in jou produk of diens gaan belangstel nie.

Hoe om jou volgelingbasis organies te laat groei:

Vind die regte hutsmerke vir jou besigheid

Hutsmerke is baie belangrik om jou Instagram-profiel te laat groei. Plasings met hutsmerke kry sowat 12,6% meer interaksie as plasings sonder enige hutsmerke. Hoeveel hutsmerke is te veel en hoeveel is te min? Die maksimum hoeveelheid toelaatbare hutsmerke in een plasing is dertig. Indien jy nie jou hutsmerke in jou plasing se teksgedeelte wil sit nie, kan jy die hutsmerke in die kommentaargedeelte plaas. Tien hutsmerke is die maksimum hoeveelheid om in jou stories te gebruik. Onthou egter om die hutsmerke “weg te steek” deur dit in dieselfde kleur as die agtergrond te tik, die skrif baie klein te maak of ’n prentjie bo-oor die hutsmerke te plaas.

Dit is belangrik om jou hutsmerke goed na te vors. Onseker oor watter hutsmerke jy kan gebruik? Instagram publiseer ongelukkig nie ’n lys met gewilde hutsmerke soos Twitter nie. Jy kan egter wel ’n hutsmerk op Instagram gaan soek om te sien in hoeveel plasings die hutsmerke gebruik is. ’n Lys van ander gewilde hutsmerke wat soortgelyke woorde gebruik, met tellings, sal ook verskyn. Gaan kyk ook watter hutsmerke jou mededingers en grootste volgelinge gebruik en vors dit na. Die hutsmerk #entrepreneur is byvoorbeeld al baie versadig aangesien daar 63,9 miljoen plasings op Instagram is wat reeds hierdie hutsmerk gebruik het. ’n Minder algemene hutsmerk sal #entrepreneurshipgoals wees, met tans slegs 816 000 plasings op Instagram. Natuurlik kan jy sogenaamde “versadigde” hutsmerke gebruik, maar maak seker dat die res, of ten minste die meerderheid van jou hutsmerke, minder versadig is.

Gebruik ook jou ligging as ’n hutsmerk. Mense wat dan in daardie gebied is of die hutsmerk op Instagram gaan soek, sal dan op jou besigheid afkom. Jy kan ook altyd jou eie unieke hutsmerk skep wat mense kan gebruik wanneer hulle ’n plasing oor jou besigheid maak. ’n Goeie voorbeeld is Nike wat #justdoit gebruik. Om te toets watter groepies hutsmerke goed werk, kan jy op die insigte (insights) onderaan die spesifieke plasing gaan kyk om te sien hoeveel mense jou plasings deur middel van die hutsmerke gesien het.

Gebruik die 1:3:1-strategie

(Foto: Pixabay)

Daar is ’n resep om jou Instagram-bladsy se betrokkenheid (engagement) te laat toeneem, wat daartoe sal lei dat Instagram se algoritme jou plasings as waardetoevoegend sien en dit gevolglik dan vir meer mense wys. Hoe meer mense jou plasings sien, hoe meer sal die aantal volgelinge op jou bladsy groei.

Hierdie strategie word die 1:3:1-strategie genoem en sal sowat daagliks dertig minute tot ’n uur neem. Dit werk soos volg:

  • Identifiseer een persoon wat soos jou ideale kliënt lyk.
  • Hou van drie van die persoon se nege mees onlangse foto’s.
  • Lewer kommentaar op een van die mees onlangse foto’s. Waak daarteen om ’n onpersoonlike opmerking te maak, byvoorbeeld ’n enkele woord soos “Lekker!”.
  • Herhaal die bogenoemde met tien persone.

Jy kan natuurlik hierdie strategie bietjie afwater indien jou tyd beperk is deur byvoorbeeld daagliks net vyf profiele in plaas van tien te volg. Gaan kyk by jou Instagram-insigte of jou betrokkenheid ná ’n week en dan ná ’n maand gegroei het.

Laat jou besigheid op die verkenblad (explore page) van Instagram verskyn

Die verkenblad bestaan uit foto’s, video’s en produkte wat met inhoud wat jy reeds volg ooreenstem. ’n Allemintige 50% van Instagram-gebruikers blaai daagliks deur die verkenblad. Dit verhoog dus jou kanse om meer volgelinge te kry. Daar is nie ’n flopvrye manier om beslis op hierdie bladsy te verskyn nie, maar daar is stappe wat gevolg kan word om jou kanse te verbeter.

Kyk van watter inhoud jou huidige volgelinge hou en plaas dan meer daarvan. Hoe meer interaksie jy op plasings kry, hoe groter die kanse dat jy op die verkenblad sal beland. Probeer ook om meer video’s te plaas.

Nog maniere om jou rekening te laat groei:

  1. Plaas ’n skakel na jou Instagram- en ander sosialemediarekeninge op jou webtuiste asook aan die onderkant van jou nuusbrief.
  2. Plaas inhoud wat spesifiek bedoel is om gedeel te word. ’n Voorbeeld sal ’n vakansiedagplasing wees, byvoorbeeld vir Kersfees of Vadersdag. Navorsing toon dat vakansiedagplasings meer as enige ander plasings gedeel word. Maak net seker dat jou besigheid se handelsmerk op dié plasing verskyn.
  3. Sluit jou ligging by plasings in. Op hierdie manier word jou inhoud op mense se blaaie gesit wat al in daardie omgewing was.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

groenboer ·

“Insights” onder plasings? Het nog nooit so iets op Instagram gesien nie. Het so pas gaan kyk, en sien dit steeds nie.

Hutsmerke werk ook nie noodwendig nie. Sê nou maar jy plaas ‘n foto van ‘n roos en voeg die hutsmerk “rose” by. Gaan jou plasing onder daardie hutsmerk verskyn? Nie noodwendig nie. Om die waarheid te sê, my ondervinding is dat my plasings feitlik nooit verskyn onder enige van die hutsmerke wat ek intik nie.

M.a.w. Instagram se sagteware werk nie eintlik nie, en mens moet nie te veel daarop vertrou of te veel van jou tyd daarmee mors nie. Selfs al eindig jy met vyftig miljoen volgelinge is dit ook nie te sê jy gaan enige besigheid uit enige van hulle kry nie.

Die omgekeerde is ook waar; ek volg ‘n paar baie suksesvolle plaaslike kunstenaars op Instagram, en nie een van hulle het meer as ‘n paar honderd volgelinge daar nie. Sukses op sosiale media vertaal nie noodwendig na sukses in die werklike wêreld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.