Hoe gaan die huise van môre lyk?

Argieffoto (JayMantri, Pixabay)

Die eiendomsbedryf is nog altyd een van die mees dinamiese bedrywe van enige land se ekonomie en dié bedryf verander volgens siklusse, style en tendense.

Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, glo dat hierdie siklusse al vinniger plaasvind en dat die volgende dekade heelwat veranderinge in eiendom na vore gaan bring.

Stedelike uitbreiding en die groei van tweedevlakstede

Die groei van bestaande stede sal waarskynlik die meeste voorkom in ontluikende ekonomieë, insluitend Asië, Afrika, die Midde-Ooste en Suid-Amerika.

In ontwikkelde ekonomieë sal ʼn mens ’n beduidende groei in die sogenaamde tweedevlakstede sien, omdat meer en meer mense gedwing word om na beter waarde vir hul geld te soek as gevolg van die stygende pryse in die eerstevlakstede.

Tweedevlakstede word volgens die John Moores University in Liverpool geklassifiseer as stede of dorpe wat buiten die hoofstad van ʼn streek of provinsie steeds ’n ekonomiese en ‘n sosiale bydrae op só ʼn vlak lewer dat dit belangrik genoeg geag word om die potensiële prestasie van die nasionale ekonomie te beïnvloed.

Johannesburg. Argieffoto

Dit is reeds besig om ’n gevestigde neiging in die VSA te word waar groot maatskappye uit ʼn sekere gebied beweeg en ʼn nuwe metro daarstel. Toyota het byvoorbeeld van Suid-Kalifornië na Dallas verhuis en Apple open ’n miljard dollar-kampus in Austin.

“In Suid-Afrika sien ons dieselfde tendens in gebiede wat vinnig uitbrei, soos byvoorbeeld Midrand wat nou die tuiste is van ’n groeiende aantal hoofkwartiere, onder andere Deloitte en PwC, wat albei na die Waterfall-buurt getrek het.

Verskuiwende demografie

Aangesien die lewensverwagting vandag hoër is as wat dit ooit tevore was, word voorspel dat die persentasie mense ouer as 60 jaar teen 2050 wêreldwyd vir die eerste keer dié van jonger as 15 sal oorskry.

Hulle is ook op hierdie ouderdom meer aan die gang en aktief as die geslagte voor hulle en het daarom baie verskillende eiendomsvereistes vir hul goue jare, wat ’n noemenswaardige impak op die bedryf sal hê, veral in ontwikkelde ekonomieë.

Die meeste van hulle wil graag hul onafhanklike lewenstyl tot by die aftree-periode verleng, en as hulle die gesinshuis opgee, is hulle geneig om na multigenerasie-gemeenskappe te verhuis, verkieslik met geriewe, en hulle sal ook meer verpleeginrigtings nodig hê, sodat gesondheidsorg meer betekenisvol sal wees.

Die millenniër se markaandeel

jongmense-jeug-werk

Foto: @rawpixel/Unsplash.com

Na verwagting sal die millenniër-generasie die huismark amptelik van volgende jaar af begin betree, wat beteken dat dié generasie dan die grootste aandeel van die mark vir die volgende dekade verteenwoordig.

“Hul unieke leefstylbehoeftes sal alle aspekte van die bedryf beïnvloed. Die lyne tussen leef, werk en speel is reeds vervaag, wat duidelik blyk uit die toenemende voorkoms van ‘hipsturbia’ of voorstedelike nodusse vir gemengde gebruik naby groot metro’s,” sê Geffen.

Die deel van huise, veral in en naby die duurste metro’s, neem ook toe. Dit kom die meeste voor onder millenniërs en aan die ander kant van die spektrum, waar die verouderde bevolking groei en die koste vir akkommodasie en gesondheidsorg styg.

Nuwe tegnologieë

student-werkende-jongmens

Foto: Pixabay.com

Slim-huistegnologie word al ’n aantal jare beskou as die “volgende grootste ding”, maar dit word nou al hoe meer algemeen in opknappings en nuwe geboue, en baie huise word al bestuur deur tegnologie soos Alexa of Siri.

Die nuwe modewoord tydens die volgende dekade sal waarskynlik “toeganklike huise” wees, en ontwikkelaars van vaste eiendomme en beleggers sal gedwing word om die groeiende sektor vir slim-huis-robotika te oorweeg, wat funksies en toestelle soos stofsuiers en mobiele assistentrobotte insluit.

Dit sal vereis dat ruimtes meer oopplan moet wees met minder trappe en met vloerafwerkings wat bevorderlik is vir wiele.

In die bedryf self sal tegnologie voortgaan om die manier waarop eiendomsagente sake doen te verander, soos uitgelig deur onlangse KPMG-navorsing wat aan die lig gebring het dat die bewustheid van die impak van tegnologie op die eiendomsektor toegeneem het.

Groen is steeds byderwets

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Volhoubaarheid is ook steeds ʼn modewoord en die belangrikheid daarvan sal waarskynlik in die toekoms net bly toeneem. Dit word voorspel dat die wêreld in 2050 50% meer energie, 40% meer water en 35% meer voedsel gaan benodig om die groeiende bevolking te onderhou.

Dit is daarom noodsaaklik dat die ontwerp van alle nuwe eiendomme gebaseer is op “groen” of omgewingsvriendelike beginsels, insluitend hernubare energietegnologieë en vermindering van afval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.