Hou koers voor jy by die ekonomiese waterval aftuimel

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto verskaf)

Daar is tye in ’n mens se lewe wanneer dit sekerlik voel asof jy in ’n bootjie is wat op die rand staan om oor ’n waterval te tuimel. In die huidige finansiële tyd is dit nie so ’n vergesogte gevoel nie. Daar’s veel te wense aan die ekonomiese landskap waarin die land homself bevind. Gelukkig is daar oplossings wat jou bootjie stewig vas kan anker.

Soos ’n stroom kragtige water wat ’n boot vorentoe kan stu, is daar allerlei faktore in die ekonomiese landskap wat jou finansiële bootjie kan rondpluk. Die lys is lank: Die petrolprys wat na verwagting ’n 30%-jaar-tot-jaar-verhoging gaan hê, die verbruikersprysinflasie wat gestyg het na 5,9% tesame met ’n styging in rentekoerse, elektrisiteitskostes wat opgestoot word weens ’n nuwe vlaag kragonderbrekings, die plaaslike mark wat wisselvallig is (die meeste nóg in die laaste twintig jaar), wanbestuur en korrupsie in die staat asook die Wet op B-BBEE. Voeg daarby ’n wêreldwye pandemie en ’n oorlog wat woed tussen Rusland en Oekraïene en jy voel eintlik reeds soos ’n drenkeling.

Gestel dat die publiek saam in die bootjie sit wat al hoe nader aan die waterval gestuur word deur die bogenoemde ekonomiese strominge. In die bootjie is al die bates wat jy besit. Soos die water al hoe meer teen die kant van die bootjie begin klots, gooi jy die onnodige bates uit sodat die boot ligter word. Dit veroorsaak egter dat die bootjie nog vinniger na die dreigende mis van die waterval beweeg. Voor daar niks meer in die bootjie is nie, moet die anker gesak word. Vroeër eerder as later is die beste leuse wanneer dit by goeie keuses kom.

Daar is betroubare maniere om die anker te laat sak te midde hierdie sterk ekonomiese strominge sodat jy veilig voel. ’n Styging in die petrolprys vra vir alternatiewe maniere om rond te beweeg. Saamryklubs, ’n reëling met jou maatskappy om meer fleksie-ure tuis te werk en ’n versigtige heroorweging van jou maandelikse doen en late sal keer dat die rooi liggie flikker.

Om te keer dat hoë inflasiepryse jou pootjie is dit nodig om jou begroting te hersien. Dit is belangrik om te bepaal hoe inflasie jou leefstylkoste gaan beïnvloed sodat jy vroegtydig aanpassings kan maak en daar genoeg maand aan die einde van jou geld oor is.

Styg bo die verhoging in rentekoerse uit deur minder skuld aan te gaan en alternatiewe inkomste te genereer.

Die omgewingsbewustes is al vir jare lank besig om alternatiewe uit te dink om steenkoolverbruik te verminder. Sonkragpanele is ’n goeie oplossing om die vlak 4-beurtkrag te bowe te kom wat deesdae huishoudings vanaf sesuur saans teister.

’n Betroubare finansiële raadgewer sal ook sin gee aan die bewegings en veranderings in die wisselvallige plaaslike mark sodat jy bemagtig is met kennis en nie oorhaastige besluite neem nie.

Daar is soveel faktore in die ekonomiese landskap wat buite individuele verbruikers se beheer is. Die Covid-19-pandemie het die wêreld in ’n kwessie van ’n paar weke verander. Die verhouding tussen Rusland en Oekraïene was nog altyd moeilik, maar het oornag oorgehel na oorlog. Terwyl hierdie nuus jou bootjie vorentoe kan stuur, is daar egter maniere hoe jy beheer in eie hande kan neem en vir die afgrond keer.

Everest Wealth is ’n toonaangewende privaat beleggingsmaatskappy en rykdombestuursmaatskappy wat verseker dat kliënte die nodige kennis het om anker te gooi teen strominge wat dreig.

In ’n tyd waar mens se bootjie maklik heen-en-weer kantel sal Everest Wealth vir jou die nodige stabiliteit en sekuriteit bied om te keer dat jy by die kant van die waterval aftuimel.

Sms “belê” na 45 906 vir meer inligting oor hoe Everest Wealth jou kan bystaan.

Alternatief, besoek www.everestwealth.co.za of stuur vir ons ‘n epos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.