Inleiding tot intellektuele eiendomsreg

Deur Danielle Kleyn

(Foto: Unsplash)

Omdat ons in ʼn tyd leef waarin nuwe intellektuele eiendom daagliks geskep word, is intellektuele eiendomskendings een van die slaggate waarin ʼn besigheidseienaar nie wil trap nie. Oortreding van intellektuele eiendomsreg kan tot boetes of selfs dagvaarding lei. Jy wil ook nie hê jou intellektuele eiendom moet deur ander besighede of individue gesteel word nie. In hierdie artikel gee ons jou ʼn oorsig van watter soort intellektuele eiendom bestaan, hoe om dit te registreer en hoe lank dit geldig is.

Wat is kopiereg en waarom bestaan dit?

Kopiereg beskerm die regte van die eienaars van intellektuele eiendom, onder andere uitsaaiers, skrywers, vervaardigers en kunstenaars. Kopiereg het ten doel om ʼn veilige kreatiewe kultuur aan te moedig.

Die kopiereghouer is die enigste persoon wat die intellektuele eiendom mag kopieer en versprei, of toestemming mag gee tot die kopiëring of verspreiding daarvan. Die duur van die kopiereg sal van die soort werk afhang. Musikale, literêre en kunswerk word byvoorbeeld vir die lewensduur van die eienaar plus 50 jaar ná sy/haar dood beskerm. Klankopnames, rolprente, gepubliseerde uitgawes en uitsendings word 50 jaar ná die eerste bekendstelling daarvan beskerm.

Wat word onder kopiereg beskerm?

Dit sluit enigiets in wat gehoor of gesien kan word. Kopiereg word outomaties gekry wanneer oorspronklike werk geskep word. Die enigste werk waar kopiereg nie outomaties ontstaan nie, is rolprente. Die volgende kategorieë bestaan onder kopiereg:

  • Literêre werk, byvoorbeeld stories, gedigte, handboeke, artikels, briewe en verslae
  • Musiek
  • Klankopnames
  • Uitsendings
  • Kunswerke, byvoorbeeld skilderye, tekeninge, ontwerpe en tegniese tekeninge
  • Rekenaarprogramme
  • Kinematografiese films

Wat is ʼn patent?

ʼn Patent is ʼn eksklusiewe reg wat aan ʼn uitvinding toegestaan word. Hierdie uitvinding moet ʼn proses of produk wees wat ʼn nuwe manier bied om iets te doen. Patentbeskerming geld vir 20 jaar, waartydens niemand jou uitvinding sonder jou toestemming mag gebruik, maak, versprei of verkoop nie.

Vereistes vir die registrasie van ʼn patent:

  1. Dit moet nuttig wees en in die handel, landbou of nywerheid wees.
  2. Die idee moet nuut wees en nie as algemene kennis beskou word nie. Wees dus versigtig om jou blink uitvinding met ander te deel.
  3. Dit moet vindingryk wees.

Registrasie van ʼn patent

  • Die eerste stap is om die patent voorlopig te registreer deur ʼn aansoek na die Registrateur van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom te stuur. Enige persoon mag ʼn voorlopige patent registreer.
  • Jy sal ʼn voorkeurdatum ontvang wat wêreldwyd vir een jaar geldig is. Tydens hierdie jaar kan jy jou idee in die mark toets en finaliseer.
  • Die houer het dan ʼn jaar tyd om vir ʼn finale patentregistrasie aansoek te doen.
  • Hierdie finale patentaansoek moet deur middel van ʼn geregistreerde patentagent gedoen word, wat die aansoeker sal bystaan om te verseker dat die aansoek aan al die wetlike vereistes voldoen en korrek verwoord is.
  • Wanneer ʼn finale patentaansoek gerig word, moet daar verklaar word of die houer beplan om die patent in ander lande te registreer.

Wat is ʼn handelsmerk?

ʼn Handelsmerk is enige ontwerp, naam of etiket wat spesifieke produkte of dienste van ander wat soortgelyk is, onderskei. Dit gee aan die eienaar die reg om dit eksklusief te gebruik. ʼn Handelsmerk kan vir tien jaar geregistreer word, waarna dit elke tien jaar hernu moet word indien die handelsmerk steeds in gebruik is.

Vereistes vir registrasie van ʼn handelsmerk

Die handelsmerk moet “onderskeidend” wees. Sommige name sal byvoorbeeld nie geregistreer word nie, aangesien die naam nie op ʼn besondere wyse verteenwoordig word nie. Ongeregistreerde handelsmerke word egter steeds deur die gemenereg beskerm.

Registrasie van ʼn handelsmerk

  • ʼn Handelsmerk kan by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom geregistreer word om te verhoed dat mededingers dit gebruik. Die vasgestelde aansoekfooie moet die aansoek vergesel.
  • Die handelsmerk word dan vir relatiewe registreerbaarheid ondersoek.
  • Sodra die merk aanvaar is, word dit vir drie maande geadverteer vir teenstand deur enige derde party.
  • Die registrasiesertifikate word uitgereik sodra hierdie tydperk sonder enige teenstand verstryk het.

Wenke aan besigheidseienaars om intellektuele eiendomskendings te voorkom

  • Indien jy ʼn foto, bewoording of ʼn prentjie wil gebruik wat nie jou eiendom is nie, moet jy van die bron melding maak.
  • Voordat jy ʼn algemene naam aan een van jou produkte of selfs dienste gee, doen eers navorsing om vas te stel of die naam nie dalk onderhewig is aan intellektuele eiendomsbeskerming nie.
  • Maak seker dat jy die reg het om die klankgrepe, video’s, foto’s, logo’s, beskrywings en beelde op jou webtuiste, te gebruik.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.