Die mite dat bitcoin geen inherente waarde het nie, doen al vir ’n geruime tyd die rondte.
Wanneer ’n bate so vinnig soos bitcoin groei, sal daar altyd ’n leemte in opvoeding en begrip wees.
As dit by iets soos bitcoin kom, geld wanbegrip selfs meer, juis omdat dit ’n nuwe vorm van tegnologie is en ’n groot paradigmaskuif dryf. Maar, dit is ’n dwaalbegrip wat reggestel moet word, aangesien dit ’n hindernis vir die vooruitgang van tegnologie is.
Die belangrikste kwessie hier is die definisie. Is bitcoin van waarde omdat dit gestoor kan word of is dit ’n geldeenheid wat bestee kan word? In hierdie geval is die antwoord albei.
Dit is ’n ietwat moeilike konsep om te verstaan, veral omdat geen ander bate hierdie kenmerke het nie. Daar bestaan dus geen verwysingsraamwerk nie.
Baie mense sien ongelukkig dié dubbelsinnigheid as bewys dat bitcoin waardeloos is, maar dit kan nie verder van die waarheid af wees nie.
Wanneer dit kom by die waardasie van ’n bate of geldeenheid, is daar twee aspekte om na te kyk – die waargenome waarde en die intrinsieke of inherente waarde.
’n Waargenome waarde word toegeken wanneer daar gesamentlik geglo word dat iets waarde het.
Dit is duidelik aan almal dat bitcoin se waargenome waarde nou hoog is. Bitcoin se markkapitalisasie het op 19 Februarie ’n groot mylpaal bereik toe dit $1 triljoen oorskry het – dit is selfs meer as Facebook, Visa en die groot Amerikaanse bank JPMorgan Chase se markkapitalisasie, om net ’n paar te noem.
Daar is ook ’n groot aantal mense wat bitcoin gebruik. In 2021 is daar meer as 100 miljoen bitcoin-beursies (https://www.bitcoinmarketjournal.com/how-many-people-use-bitcoin/) met positiewe balanse, terwyl die getal daaglikse aktiewe bitcoin-balanse ’n gemiddeld van 1 miljoen bereik het. Dit sluit ook baie groot maatskappye in soos Tesla, Square, MicroStrategy en veel meer.
Bitcoin se intrinsieke of inherente waarde is heelwat moeiliker om te beskryf. As ons praat van bitcoin as ’n stoorplek vir waarde, dan kan ons praat van die tegnologie wat dit ondersteun – die blokketting, of beter bekend as die “blockchain.”
Blokketting-tegnologie gee aan bitcoin sy waarde omdat dit onveranderlik is, dus was dit nog nooit ’n slagoffer van kuberinbraak nie en het dit ’n beperkte bron.
Hierdie skaarsste gee nie noodwendig aanleiding tot waarde nie, maar laat die bestaande waarde styg.
As ons dink aan bitcoin as ’n medium van ruilhandel, raak die antwoord meer vaag. Maar, dit is ’n probleem wat waar is vir alle geldeenhede. Die hele konsep van geld kom neer op waargenome waarde.
Wat gee waarde aan die rande (of dollars) in jou bankrekening? Die Amerikaanse dollar het in 1971 wegbeweeg van die goue standaard – die monetêre stelsel waar ’n land se geldeenheid direk aan goud gekoppel is. Vandag word geen regering se geldeenheid gesteun deur tasbare bates nie. Dit kom alles neer op geloofwaardigheid en gebruik.
Soos ons kan sien, word bitcoin gebruik, dit word vertrou en beskik oor die tegnologie om vertroue te waarborg.
Die punt is: net omdat die waarde nie in algemene terme beskryf kan word nie, beteken nie dat dit waardeloos is nie. Die goeie aansien, en groeiende getal verbruikers van bitcoin in vandag se wêreld is ’n duidelike aanduiding dat hierdie soort tegnologie hier is om te bly en net gaan aanhou groei soos ons vorentoe beweeg.
Vir meer inligting besoek Luno se webtuiste by Luno.com. Hulle is ook op Twitter, Facebook, YouTube, LinkedIn en Telegram.
*Die vertaling en redigering van hierdie teks is deur Netwerk24 gedoen en word met vergunning deur die kliënt op Maroela Media gepubliseer.