Maak ‘n skenking en betaal só minder belasting

Argieffoto (Foto: USA-Reiseblogger, Pixabay)

Jy het dalk al gehoor van skenkings aan openbare weldaadsorganisasies, maar is jy bewus daarvan dat so ‘n skenking ook vir jou as skenker ‘n belastingvoordeel inhou?

Skenkings kan gemaak word deur individue en verskeie regspersone, naamlik maatskappye, trusts en beslote korporasies. Die belastingvoordeel kom in die vorm van ‘n aftrekking wat die belastingbetaler se belasbare inkomste verminder met die bedrag/waarde van die skenking. Dit beteken die totale bedrag waarop die skenker se inkomstebelasting bereken word, is minder en dus betaal hy/sy minder belasting.

Om vir hierdie belastingvoordeel te kwalifiseer is daar egter ‘n paar belangrike spesifikasies:

  1. Is die organisasie geregistreer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens?

Jy as skenker moet bepaal of die organisasie aan wie jy die skenking wil maak, by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as ‘n openbare weldaadsorganisasie (OWO) geregistreer is. Besoek gerus die SAID se webtuiste om vas te stel of ‘n organisasie as OWO geregistreer is. Die SAID werk die lys weekliks by.

  1. Reik die organisasie ʼn geldige artikel 18A-belastingsertifikaat uit?

Dit is noodsaaklik dat die OWO aan wie jy die skenking maak, ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat aan jou uitreik as bewys van die skenking wat jy gemaak het. Hierdie sertifikaat moet die volgende inligting bevat:

  • Die OWO se naam en adres
  • Die OWO se belastingvrystellingsnommer
  • Die datum van die skenking
  • Naam en adres van die skenker
  • Die bedrag wat geskenk is
  1. Wat behels die 10%-reël?

Skenkings wat vir belastingvrystelling kwalifiseer, is beperk tot 10% van die individu/regspersoon se belasbare inkomste vir die betrokke belastingjaar. Indien jy meer as 10% van jou belasbare inkomste skenk, kan jy die oorskrydingsbedrag na die volgende belastingjaar oordra. Dieselfde 10%-reël sal in die volgende belastingjaar geld.

  1. Watter vrae moet ek saam met my jaarlikse belastingopgawe antwoord?

Die laaste vereiste om vir belastingvrystelling op ‘n skenking te kwalifiseer, is dat jy dit op jou jaarlikse belastingopgawe moet invul deur die volgende vrae op die opgawe te beantwoord (omdat die belastingopgawes tans slegs in Engels op eFiling vertoon word, word die vrae hieronder in Engels getoon). Sodra die onderstaande vrae volledig beantwoord is, sal die belastingopgawe outomaties die bronkode 4011 beskikbaar stel. Vul die bedrag wat jy geskenk het en die besonderhede van die OWO aan wie jy dit geskenk het in:

  • Do you want to claim donations made to an approved organisation(s) in terms of s18A?
  • How many organisations did you donate to?

Skenkings is dus ‘n goeie geleentheid om ‘n bydrae te lewer wat ‘n verskil sal maak en terselfdertyd ‘n bietjie belastingverligting te verkry. ‘n Voorbeeld van so ‘n geregistreerde OWO is die Helpende Hand Studietrust (HHST). ‘n Skenking aan die HHST sal vir die bogenoemde belastingvoordeel kwalifiseer. Om die belastingvoordeel in die 2022-belastingjaar te benut, moet jy jou skenking voor einde Februarie 2022 maak.

Voorbeeld (2022 belastingjaar):

 Sonder skenkingMet skenking
Bruto inkomsteR200 000R200 000
Bydrae tot ʼn uittree-annuïteit(R30 000)(R30 000)
SkenkingR0(R15 000) (10%-limiet op skenkingsaftrekking: R17 000)
Belasbare inkomsteR170 000R155 000
Belasting betaalbaar (ouderdom <65 jaar)R14 886R12 186
Belasting betaalbaar (ouderdom >=65 jaar)R6 273R3 573
Belasting betaalbaar (ouderdom >=75 jaar)R3 402R702

Indien jy enige vrae rakende skenkings of ander belastingaangeleenthede het, is jy welkom om Aretè Tax Specialists & Accountants per e-pos te kontak by [email protected].

Indien jy of jou maatskappy by die Helpende Hand Studietrust betrokke wil raak om ‘n behoeftige student se studiedroom te bewaarheid en terselfdertyd hierdie belastingvoordeel te benut, stuur gerus ‘n e-pos na [email protected].

  • Hierdie artikel is geskryf deur DJ (Daniël) le Roux, direkteur van Aretè Tax Specialists & Accountants. Le Roux het ‘n MCom-graad in belasting en spesialiseer in beide Suid-Afrikaanse en internasionale belasting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.