Mauritius – ʼn paradys vir lewe én sterwe

(Foto verskaf deur Capital Legacy)

Mauritius, o Mauritius. Dit is ʼn eiland van goue sondeurdrenkte strande, hemelsblou seewater, ʼn ontspanne leefstyl en vriendelike mense. ʼn Mens praat nie eers van ʼn uiters stabiele kragnetwerk, met geen kragonderbrekings nie, behalwe vir dié wat af en toe deur ʼn sikloon veroorsaak word …

Mauritius het ook ʼn baie aantreklike fiskale bestel. Dit sluit in persoonlike belasting van slegs 15%, geen dividendbelasting nie, geen weerhoudingsbelasting op rente en dividende nie, geen kapitaalwinsbelasting nie, geen eiendomsbelasting nie en gratis repatriasie van winste.

Asof dit nie aantreklik genoeg is nie, het Suid-Afrika ʼn dubbele belastingooreenkoms met Mauritius in 2015 aangegaan.

Die doel van ʼn dubbele belastingooreenkoms tussen die belastingowerhede van twee lande is om dié owerhede in staat te stel om dubbele belastingheffings uit te skakel. Eenvoudig gestel, beteken dit dat die land van oorsprong geregtig is om belasting te hef en dat die individu nie in albei lande belas word nie.

Wanneer ʼn mens aan ʼn sorgvrye lewe op ʼn eiland dink, is die laaste ding wat deur jou kop flits dat jy kan doodgaan en boonop belasting daarvoor moet betaal. Dit is nie ʼn aangename gedagte nie, maar ongelukkig ʼn feit soos ʼn koei.

In Mauritius bestaan daar egter nie iets soos boedelbelasting nie. Daar moet wel in gedagte gehou word dat Mauritius gedwonge erfgenaamreëls volg, soos bepaal in die Code Civil Mauricien. Dit is gegrond op Franse wetgewing. Hiervolgens is die erfenisoordrag anders as die van gemenereglande soos Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk waar daar vryheid van erflating is. Dit beteken dat mense hul bates aan enigiemand in ’n geldige testament kan bemaak nadat hulle tot sterwe gekom het.

Boedelbelasting

Indien ʼn mens tot sterwe kom, moet Suid-Afrikaners boedelbelasting betaal op hulle wêreldwye bates, sê Ken Newport, die nasionale bestuurder van Erfopvolgingsbeplanning by Capital Legacy. Boedelbelasting word tans gehef teen ʼn koers van 20% in die geval van ʼn boedel ter waarde van minder as R30 miljoen, en teen ʼn koers van 25% as die boedel se waarde meer as R30 miljoen is.

Wat nie algemeen bekend is nie, is dat sou ʼn mens tot sterwe kom, die meeste ander lande ook ʼn boedelbelasting op sekere situs-bates hef (situs beteken “plek” in Latyn). Dit is bates wat fisiek binne hulle jurisdiksie val.

Dubbele belastingooreenkomste (DTA’s) tussen Suid-Afrika en ander lande verskaf ook verligting op dié gebied.

Omdat Suid-Afrikaners baie groot beleggings in die Verenigde Koninkryk (VK) en die Verenigde State van Amerika (VSA) het, loon dit die moeite om die DTA’s met hulle kortliks te bespreek.

Verenigde Koninkryk

Dit lyk nogal asof Suid-Afrika ʼn voorliefde vir DTA’s met eilande het. Hierdie eiland is net heelwat kouer.

Die VK hef ook boedelbelasting op sekere situs-bates. In die VK staan dit bekend as erfbelasting. Situs- of erfbelasting word teen ʼn koers van 40% gehef op situs-bates wat meer as £325 000 werd is. Enige bedrag hieronder staan bekend as die nulkoersband en is vrygestel van situs-belasting. Almal kwalifiseer vir die £325 000-vrystelling. Daar sal geen situs-belasting gehef word op enige situs-bates wat aan ʼn oorlewende eggenoot nagelaat word nie. As die eggenoot die situs-bates erf, wat daartoe lei dat die £325 000-vrystelling nie gebruik word nie, sal die vrystelling oorgedra word na die eggenoot. Dit beteken dat die eggenoot met sy/haar heengaan ʼn vrystelling van £650 000 sal hê.

Verenigde State van Amerika

Die belasting wat op situ-bates in die VSA gehef word, word federale boedelbelasting genoem. Die drempel vir situs-belasting in die VSA is $60 000. In die VSA word situ-bates volgens ʼn glyskaal belas tot ʼn maksimum belasting van 40%.

Die VSA bied egter nie dieselfde oordragvoordeel as die VK nie, tensy albei eggenote Amerikaanse burgers is. Dit beteken dat die oorlede eggenoot en die oorlewende eggenoot albei Amerikaanse burgers moet wees om vir oordragverligting te kwalifiseer. As nie een van die eggenote nie of slegs een van die eggenote ʼn Amerikaanse burger is, is federale boedelbelasting van toepassing en word dit gehef op die waarde van die bates bo $60 000.

Krediete en eksekuteurs

Wanneer ʼn Suid-Afrikaner wat bates in die buiteland besit, sterf, word die boedel dubbel belas. Die boedel word dan in Suid-Afrika én die land waar die situ-bates is, belas.

Die goeie nuus is dat DTA’s te weeg bring dat die eksekuteur van die boedel vir krediete mag aansoek doen op die belasting wat op die boedel betaal moet word.

Kom ons neem Suid-Afrika en die VK as ʼn voorbeeld. In Suid-Afrika is ʼn maksimum van 20%-belasting betaalbaar op ʼn bestorwe boedel van onder R30 miljoen en in die VK is die erfenisbelasting 40% bo die nulkoersband. As die waarde van die situ-bates £325 000 oorskry mag jou boedel teen 20%-belasting in Suid-Afrika aangeslaan word en in die VK teen 40%. Maar, omdat Suid-Afrika ʼn DTA met die VK in plek het, mag Suid-Afrikaners aansoek doen vir ʼn belastingkrediet op die belasting wat in die VK betaal is.

ʼn Krediet word nie outomaties toegepas nie. Dit is die verantwoordelikheid van die eksekuteur om seker te maak dat vir die krediet aansoek gedoen word én dat dit toegepas word. Dit is een van die redes wat die rol wat ʼn eksekuteur speel van so ʼn kritieke belang maak.

Aan die een kant, mag jou boedel te veel belasting betaal as die eksekuteur nie ʼn professionele persoon is nie, en aan die ander kant mag die eksekuteur persoonlik aanspreeklik gehou word as al die belasting nie betaal word nie.

Testamente en bates in die buiteland

ʼn Mens moet in gedagte hou dat verskillende wetgewing in verskeie lande van die wêreld op testamente, situs-bates en boedels van toepassing mag wees.

Dit is wel waar dat dit ʼn meer ingewikkelde proses mag wees om verskillende testamente op te stel as jy bates in Suid-Afrika en ander lande wêreldwyd het. Dit is egter beter as jou boedel gelyktydig geadministreer word, kragtens die gelyklopende testament en die verskillende toepaslike wette van die lande waar jou situs-bates is.

Dit vergroot die kans om probleme te vermy en onbedoelde gevolge te systap wat die verdeling van jou boedel in verskillende lande betref.

Dit is duidelik in jou beste belang om professionele hulp te kry om gelyklopende testamente op te stel. Dit is ook raadsaam as jou plaaslike regsadviseur en oorsese regsadviseur met mekaar oorleg pleeg tydens die boedelbeplanningsproses.

By Capital Legacy kry jy al die kundiges, wat sake vir jou, die kliënt, aansienlik vergemaklik.
Capital Legacy spesialiseer in die opstel van testamente en boedelbereddering en maak dit maklik om jou nalatenskap te beskerm. Jy kan jou testament gratis laat opstel, bywerk of wysig. Besoek www.capitallegacy.co.za of voltooi die vorm hier onder.

Velde met * word verplig.

Kontak Eksekuteurs

Jou naam*
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.