Moenie dié versekeringsboksies oorslaan

versekering-motors-huis-lewens

Foto: Kalhh/Pixabay.com

Brande, oorstromings, haelskade, rooftogte, huisbrake, kapings en onluste is slegs ʼn paar van die risiko’s wat Suid-Afrikaners verlede jaar moes trotseer. ʼn Proaktiewe benadering tot risiko en deeglike beplanning kan van 2022 verbruikers se jaar van volkome gemoedsrus maak.

“Die gedagte dat dit nie met my sal gebeur nie is een van die grootste foute wat mense maak. Dit is dikwels juis wanneer jy net gou ʼn kans vat, net gou iets oorslaan of net gou ʼn besluit neem sonder genoegsame inligting dat die moeilikheid jou tref,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Die goeie nuus is dat jy hierdie risiko’s tot ʼn minimum kan beperk deur net ʼn bietjie tyd opsy te sit en jou versekering in besonderhede na te gaan en goed te beplan vir die jaar wat voorlê.”

Virseker lig die volgende punte uit wat verbruikers soms geneig is om oor te slaan:

Versekerde waarde teenoor vervangingswaarde: Maak dubbel seker dat die versekerde waarde – die bedrag waarteen jou besittings verseker is – strook met die vervangingswaarde, oftewel die bedrag wat dit jou sou kos om dit teen vandag se pryse te vervang.

Die verskil tussen huisinhoud- en draagbare goedereversekering: Huisinhoudversekering dek alles wat sou uitval indien jy jou huis, motorhuis en buitegeboue se dakke sou afhaal en dit sou omkeer: jou meubels, huishoudelike elektroniese ware, ornamente. Alles wat in die huis is wat nie gereeld elders geneem word nie.

Draagbare goedereversekering, daarenteen, dek die dinge wat jy gereeld saam met jou neem, soos jou selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, kamera, handsak, horlosie en juwele.

Geboue-eienaar, huurder en regspersoon: Maak seker dat jy, in enige van hierdie rolle, jou versekeringsverpligtinge nakom, dat jy voldoende verseker is, maar geen onnodige of oorvleuelende items op jou polis het nie.

Maak seker dat jy Sasria-dekking het: Sasria, wat staan vir South African Special Risks Insurance Association, is ʼn entiteit wat deur die staat besit word. Dit bied dekking vir verlies of skade aan versekerde eiendom as ʼn direkte resultaat van burgerlike onrus, insluitend oproere, stakings en publieke wanorde.

By Virseker word Sasria-dekking byvoorbeeld outomaties by jou voertuigpolis ingesluit, mits jou voertuig op die oomblik gefinansier is en jy Virseker daarvan in kennis stel tydens die onderskrywingsfase van jou polis. Nadat die voertuig afbetaal is, sal jou Sasria-dekking voortgaan vir so lank as wat jou versekeringspolis geld.

Dit is egter baie belangrik om met jou versekeraar in kontak te tree en dubbel seker te maak dat Sasria-dekking by jou premie ingesluit is. Indien jou voertuig nie gefinansier word wanneer jy die polis uitneem nie, is Sasria-dekking opsioneel en sal dit nie outomaties ingesluit word nie.

Dieselfde geld vir wanneer jy jou huis of huisinhoud verseker: Sasria-dekking is opsioneel, so maak eerder 100% seker.

Bepalings en byvoordele: Gaan jou versekeringspolis na vir enige byvoordele wat gratis of teen ʼn nominale bedrag aan jou gebied word, soos padbystand, wegsleepdienste, huisbystand (vir dienste soos loodgieters, elektrisiëns, vensterpassers en slotslypers), sowel as mediese, regs- en traumabystand en maak daarvan gebruik.

Maak ook seker dat jy kennis dra van jou spesifieke dekking, bepalings en voorwaardes.

Maak seker dat jou besonderhede akkuraat en op datum is: Dinge soos jou inventaris of lys van versekerde items, die adres waar jou voertuig snags staan, die gereëlde bestuurder van jou voertuig en sekuriteitsmaatreëls wat geld, is uiters belangrik om met jou versekeraar te deel en gereeld op te dateer. Dit kan jou ook dalk net ʼn gesonde bedrag geld op jou premie spaar.

Pasgemaakte versekering: Vra jou versekeraar hoe sy aanbieding aangepas kan word by jou behoeftes en begroting. Jy mag dalk elke sent moet omdraai en tans net die mees basiese versekering vir jou voertuig en huisinhoud benodig. Dalk het jy die behoefte aan meer omvattende versekering vir jou huis, motor en besittings, tesame met ekstra produkte soos ʼn persoonlike ongeluksplan, regsbystand en ʼn begrafnisplan. Dalk is jy die eienaar van ʼn onderneming, wat beteken dat sakeversekering moontlik ʼn beter stel oplossings vir jou bied.

“Om jou huiswerk deeglik te doen en goed te beplan wanneer dit by versekering kom, kan nie alleen jou risiko beperk en vir jou ʼn paar rand terug in jou sak besorg nie, maar stel jou ook in staat om 2022 met gemoedsrus aan te pak,” voeg Coetzee by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.