My ouers tree af – kan ek dit bekostig?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deur Marinelda van Niekerk

ʼn Week gelede konsulteer ek met ʼn kliënt oor sy boedelbeplanning. Ná ongeveer 45-jaar se harde werk bevind hy homself op die nippertjie van aftrede en het hy slegs ʼn pensioenfonds om daarvoor te wys. Dit laat my met die vraag – gaan dit genoeg wees om sy leefstyl te onderhou en het sy kinders genoeg voorsiening gemaak om vir Pa te sorg?

Die term “toebroodjie-generasie” begin al hoe meer prominent word. Hierdie term verwys na volwassenes wat nie net omsien na hulle kinders se behoeftes en versorging nie, maar ook na dié van hulle ouers. Ongeveer 30% van Suid-Afrikaanse huishoudings word bewoon deur multigenerasies. Dit is tipies ʼn huishouding wat bestaan uit ouers, kinders, kleinkinders en so meer. Suid-Afrika se werkloosheidsyfer staan op ongeveer 43.1% en ons word deur ʼn dreigende ekonomiese depressie in die gesig gestaar. Staan ons, die toebroodjie-generasie, ʼn kans?

Dit is nooit te vroeg om vir aftrede te begin beplan nie en dit is nou meer as ooit van belang om nie net vir jouself te beplan nie, maar ook vir jou geliefdes. Die dae van “Ek het vir jou gesorg en nou moet jy vir my sorg” is nog lank nie verby nie. Ek stel dus voor dat jy pro-aktief moet wees en voorsorg tref vir die toekoms.

Jy en jou ouers kan gerus die volgende oorweeg:

  • Dit is belangrik dat jou ouers openlik en eerlik hulle finansiële posisie met jou sal bespreek. “Moenie oor ons bekommer nie, ons sal oukei wees” is woorde wat vele van ons al gehoor het. Dit bring geen berusting nie en laat mens met meer vrae as vantevore. Vra jou ouers om eerlik met jou te gesels sodat julle betyds kan begin beplan.
  • ʼn Finansiële plan is ʼn ideale algehele uiteensetting van ʼn familie se behoeftes en kan aanduiding gee van waar sekere behoeftes mag voorkom en of die behoefte vervul kan word. Raadpleeg jou finansiële adviseur en bepaal of dit nodig sal wees om na ander produkte te kyk soos lewensversekering of ʼn aftreeannuïteit. ʼn Adviseur kan ook jou uittreegeld belê om jou van ʼn inkomste te voorsien met die oog daarop dat jou kapitaalbedrag jou langer sal hou.
  • Jy kan solank ʼn inventaris opstel van jou ouers se bates en laste. Deur só inventaris kan daar bepaal word of daar voldoende bates is om die laste te oorskry, en of daar onnodige uitgawes is wat liefs vermy kan word en of daar enige bates is wat verligting kan bring in tye van nood. Hier kan mens ook bepaal of die bates voldoende sal wees wanneer dit kom by boedelbeplanning. ʼn Voorbeeld hiervan sal wees om die huis se verband af te betaal of voorsiening te maak vir ʼn lewenspolis om daardie skuld te vereffen. Die huis sal dan deel vorm van jou boedel en is ook vry van enige skuld.
  • Spaar nou al ʼn maandelikse bedrag om voorsiening te maak vir jou kinders se nagraadse studies. Dit mag vir jou baie meer beteken in die toekoms en gee vir hulle die geleentheid om die volwasse wêreld skuldvry te betree.
  • Om jou leefstyl te kan onderhou moet jy voorsiening maak vir ongeveer tweederdes van jou laaste salaris op ʼn maandelikse basis, tot die dag wat jy te sterwe kom. Indien nie moontlik nie, sal jou ouers die nodige aanpassings moet maak of ʼn plan moet maak om ʼn alternatiewe inkomste te genereer.

Die kort en die lank is dat ons elke dag hierdie realiteit beleef. Pak dus die bul by die horings en spreek hierdie realiteit aan voor dit te laat is.

Besoek Everest Wealth vir meer inligting. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.