Ondernemingskultuur in jou besigheid

Deur Daniélle Kleyn

(Argieffoto: Pixabay)

Die dae toe werksoekers slegs na vergoeding en byvoordele gekyk het wanneer hulle werksaanbiedinge oorweeg het, is verby. Daar is bewyse dat ’n toenemende aantal werksoekers die ondernemingskultuur van ’n maatskappy ook oorweeg wanneer hulle besluit waar om hul werksdae te spandeer. Dit is daarom belangrik vir werkgewers om ag te slaan op hul besigheid se kultuur.

Wat is ondernemingskultuur?

Ondernemingskultuur (of besigheidskultuur) word gedefinieer as die praktyke wat die visie, missie en gees van ’n organisasie insluit. Dit word ook omskryf as die houding en gedrag van die onderneming en sy werknemers.

Hoekom moet jy aandag aan jou ondernemingskultuur skenk?

  • Goeie besigheidskultuur lok en behou die beste talent. Navorsing het bewys dat, sou hulle nie met die organisasiekultuur vereenselwig nie, 58% van werknemers ’n goed betaalde werk sal los vir iets wat minder betaal.
  • Goeie ondernemingskultuur = gelukkige werknemers = hoër produktiwiteit.
  • ’n Positiewe besigheidskultuur laat werknemers hul idees gemakliker deel.
  • ’n Sterk ondernemingskultuur laat werknemers toe om presies te weet wat van hulle verwag word.

Drie besighede met uitstekende ondernemingskultuur

  1. Zoom
    Zoom, die gratis sagteware vir videokonferensies, is ’n naam wat tydens die streng inperking veral bekendheid verwerf het. Comparably het Zoom se werknemers in 2019 as die gelukkigste in die Verenigde State aangewys. Zoom het selfs ’n span wat uitsluitlik verantwoordelik is daarvoor om te sorg dat al die werknemers gelukkig is. Wanneer jy kyk na die deel op hul webtuiste waar werknemers se kommentaar oor die besigheid verskyn, is dit duidelik dat werknemers se geluk vir Zoom belangrik is. Een werknemer noem byvoorbeeld dat dit min is dat ’n besigheid sy kliënte en werknemers se geluk op die hart dra en dan boonop ’n diens van topgehalte lewer.
  2. Netflix
    Wanneer ’n mens Netflix se filosofie – “people over process” – in ag neem, is dit nie verbasend dat 70% van Netflix se werknemers Netflix as ’n werkgewer sal aanbeveel nie. Een werknemer merk op: “Die omgewing moedig jou aan om ’n beter weergawe van jouself te wees, wat op baie plekke nie die geval is nie.” Dié stroomspeelreus se ondernemingskultuur fokus baie op groepwerk en dus stel hulle slegs persone aan wat goed in ’n groep funksioneer. Netflix het ook ’n beleid dat almal eerlike terugvoer moet verskaf, maar mekaar steeds moet respekteer. Boonop gee Netflix onbeperkte vakansieverlof aan hul werknemers, wat werknemerproduktiwiteit en verhoogde lojaliteit teenoor die besigheid tot gevolg het.
  3. Zappos
    Die skoen- en klerehandelaar Zappos is byna altyd boaan die lys van die beste werkplekke, hoofsaaklik te danke aan sy sterk en doeltreffende ondernemingskultuur. Die handelaar fokus veral op kreatiewe vryheid, en werknemers kan dus enige pad volg solank hul take verrig word. Daar word van elke bestuurder in die maatskappy vereis om 10-20% van hul tyd aan spanbouaktiwiteite saam met werknemers te spandeer. Wanneer kandidate vir ’n onderhoud by Zappos gaan, moet hulle ’n kultuurtoets slaag om te bepaal of hulle by die besigheidskultuur gaan inpas. Zappos skryf elke jaar ’n sogenaamde “kultuurboek” waarin vervat word hoe hulle voel oor die kultuur en hoe hulle die kultuur van die maatskappy uitbou. Hierdie boeke word gratis aan gaste gegee.

Hoe besighede ’n positiewe ondernemingskultuur kan bou

Hoewel daar nie ’n universele towerformule is om ondernemingskultuur te skep nie, is daar ’n paar dinge wat jou besigheid kan doen om ’n positiewe ondernemingskultuur te kweek.

  1. Vra jou span se insette
    Doen ’n meningsopname om jou werknemers te vra wat die organisasie kan doen om hull tyd by die werk meer produktief en genotvol te maak.
  2. Laat jou kantoorspasie jou ondernemingskultuur reflekteer
    Die omgewing waarin jy jou span laat werk, vorm ’n groot deel van die ondernemingskultuur. Dit is waarskynlik dat mense meer gelukkig en produktief sal wees in ’n goed beligte, gemaklike en esteties aangename werkruimte teenoor ’n donker en vaal werkruimte.
  3. Stel mense aan wat in jou organisasie se missie glo
    Wanneer jy ’n vakante pos adverteer, sluit die missie, visie en bestaansrede van jou organisasie by die advertensie in. Wanneer jy mense aanstel wat by jou organisasie se kultuur inpas, vergemaklik dit die proses om ’n positiewe organisasiekultuur te skep.
  4. Gebruik jou spanlede se sterkpunte
    Elke spanlid kan ’n unieke element tot jou organisasie bydra. Dit is nie wys om mense te dwing om take te verrig waarin hulle nie goed is of wat hulle nie geniet nie. Indien werknemers doen waarvan hulle hou, sal hulle veel meer produktief wees; wat dan uiteindelik tot groter uitsette lei. Moedig ook werknemers aan om hul vaardighede uit te brei.
  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.