Pasop vir ‘bankverteenwoordigers’ wat vis vir jou geld

aankope-aanlyn-internet

(Foto: Negative Space/Pexels.com)

Misdadigers bedink voortdurend nuwe maniere om eerlike Suid-Afrikaners van hul hardverdiende geld te skei. ʼn Slenter om persoonlike inligting in te samel – wat slagoffers in die VSA van meer as R700 miljoen in ʼn enkele jaar beroof het – bly ook ʼn knelpunt in Suid-Afrika, met ʼn nuwe golf van uitvissing wat groot kommer wek.

Uitvissing, oftewel stemuitvissing, verwys na ʼn strategie waar booswigte ʼn foonoproep gebruik om jou te kry om persoonlike inligting en rekeningbesonderhede te deel.

“Hierdie misdadigers sal tipies honderde oproepe per dag maak en hulself voordoen as verteenwoordigers van banke en ander finansiële instellings, sagtewaremaatskappye, sekuriteitsmaatskappye, regeringsinstansies en so meer, en eis dat jou rekening, foon of rekenaar se veiligheid in gedrang is,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Hulle gebruik sosiale ingenieurswese om jou te manipuleer, jou vertroue te wen en jou onder druk te plaas deur te sê dat jy dadelik moet optree, net om waardevolle inligting by jou te kry wat hulle dan kan gebruik om hulle lang vingers op jou geld te kry.”

Volgens Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric), word te veel Suid-Afrikaners steeds slagoffers hiervan, ten spyte van sterk en herhaalde waarskuwings

“Soos robuuste risikobeperkingstrategieë dit moeiliker maak vir misdadigers om by stelsels in te breek en data te steel, word sosiale ingenieurswese gebruik om menslike emosies en optrede uit te buit en dan hierdie inligting te gebruik om ander misdade te pleeg. Verbruikers verduur ʼn dubbele slag: Eerstens word hulle slagoffers van identiteitsdiefstal en dan word hulle slagoffers van bedrog,” sê Mewalall.

Virseker en Sabric bied die volgende wenke om jouself teen uitvissing te beskerm:

  • Wees skepties: Hanteer elke oproep wat jy ontvang van iemand wat aanspraak maak dat hulle van ʼn vertrouenswaardige instansie is, as ʼn moontlike bedreiging, totdat hulle die teendeel baie deeglik bewys. Onthou dat nie enige iemand wat ʼn paar van jou persoonlike besonderhede weet noodwendig ʼn kontak is wat jy kan vertrou nie. Wys die persoon weg wanneer hulle jou wagwoord, PIN, kredietkaart- of ander besonderhede vra.
  • Ken jou vriende: Gaan die ooreenkomste wat jy met jou bank en ander instansies het deeglik na om seker te maak watter telefoonnommers jy kan vertrou. Maak ook seker jy weet presies watter inligting hierdie instansies jou sal vra om jou identiteit te bevestig.
  • Staatsgeheim: Moet nooit persoonlike en vertroulike inligting met enige iemand deel as jy hulle identiteit nie baie deeglik nagegaan het nie. As jy onraad vermoed met ʼn oproep, beëindig dit dadelik en bevestig eers met die instansie, deur kommunikasiekanale wat die instansie self verskaf, of dit wel een van hul verteenwoordigers is. Let wel: Banke en ander finansiële diensverskaffers (FDV’s) het baie spesifieke riglyne van watter inligting hulle nie tydens ʼn oproep sal vra nie. Banke sal byvoorbeeld nooit jou PIN oor die telefoon vra nie.
  • Slang in die gras: As jy ʼn eenmalige PIN op jou foon ontvang sonder dat jy besig is met ʼn transaksie, het ʼn skurk waarskynlik jou persoonlike inligting. Moenie hierdie PIN telefonies met enige iemand deel nie.
  • Agter slot en grendel: Maak seker dat al jou teenvirus- en sekuriteitsprogramme op datum is en werk. Dit is ʼn uiters waardevolle bykomende lyn van verdediging.
  • Kyk voor jy klik: Moenie op enige skakel klik wat via SMS, e-pos of ander platform aan jou gestuur is deur ʼn kontak wat jy nie deeglik geverifieer het nie.
  • Hou beheer: Moet nooit beheer van jou selfoon of rekenaar aan ʼn derdeparty oorgee nie. Indien jy tydens ʼn oproep waar jy onraad vermoed, skielik sein verloor of SIM-uitruilkennisgewings kry, beëindig die oproep en stel die owerhede onmiddellik in kennis.
  • Verandering is goed: Dit is ʼn goeie idee om jou PIN en wagwoorde gereeld te verander om te verhoed dat booswigte jou kan teiken.
  • Bel die polisie: Hou alle noodnommers vir jou bank en ander FDV’s byderhand. Indien jy vermoed dat jy deur uitvissing-booswigte geteiken word, of geteiken is, stel hulle en jou selfoondiensverskaffer dadelik in kennis.

“Onthou dat booswigte enige iets sal doen om soos die mense en maatskappye wat jy vertrou te lyk en op te tree. Hulle sal tot uiterstes gaan om jou geld te steel en ja, dit kán met jou gebeur,” sê Coetzee.

“’n Skeptiese ingesteldheid, die nagaan van alle besonderhede, die slim gebruik van tegnologie, ʼn ogie op misdaadtendense en om voltyds paraat te wees, is die beste manier om te voorkom dat jy duisende rande verloor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Bel die poelisie? Die ou wat jou gebel het sal moontlik die foon antwoord.

Die Wolf ·

As iemand so dom is om hulle besonderhede te verskaf, moet hulle maar bloei. Hoe lank word daaroor gepreek en mense val nog steeds daarvoor.

OW ·

Solank die wet op openbaarmaking van inligting bestaan sal hierdie bedrog voortduur.Mense se inligting lê die hele wêreld vol.Baie oproepe kom van Kwazulu Natal kodes wat insluit finansies dstv,versekering,motoronderdele,noem maar op.Doen geen genoemde besigheid oor die foon nie.Kry “truecaller op jou foon en “spam” die oproepe wat nie gewens is nie.Een waarheid is dat jou nommer beslis nie weggedoen word nie.Jy kan tot na ‘n jaar weer sulke oproepe ontvang.

Anoniem ·

OW ek stem saam. My foon het al 02:00 op ‘n Sondag oggend gelui. Dit maak my siek. Sodra ‘n mens krediet aangaan by ‘n bank is daar ‘n vraag op hulle dokument wat vra of jy toestemming gee dat hulle jou nommer aan ander mag verskaf. Of jy nou ‘ja’ of ‘nee’ sê, jy gaan beslis van die volgende dag al oproepe ontvang van assuransie mpy. Vir die bank beteken jou ‘ja’ of ‘nee’ net mooi niks.

Anoniem ·

‘n Paar maande gelede het ek my (welbekende) bank geskakel om ‘n doodeenvoudige vraag te vra. Ek moes natuurlik my naam en ID nommer verskaf sodat die personeellid my kon identifiseer. Let wel: EK het geskakel, nie andersom nie.
m.a.w. die persoon met wie ek gepraat het was baie beslis ‘n werknemer van hierdie bank. Sowat 10 minute na daardie oproep het ek verskeie sms boodskappe ontvang wat sê “Kliek asb hier om so-en-so rede. Ek laat my NIE vertel die skelms werk nie daar nie. Ek het self jare daar gewerk en ek weet hoe dinge gebeur. Wees versigtig en gaan ALTYD jou rekening na. ALTYD !!

Antoinette ·

Ek het so ‘n oproep ontvang van ‘n dame wat my besonderhede – AL my besonderhede wou verifieer. Toe ek vra hoekom want ek is al jare der jare by die bank en niks het verander nie het sy die foon dadelik neergesit.

Wielspore ·

Ek kry gereeld oproepe van ‘n Durban nommer wat vir my ‘n ander tipe rekening wil laat oopmaak om kostes te bespaar. Die persoon praat gebroke Engels en sy kennis van bankwese is maar power, dankie maar nee dankie. Totsiens!

Piet Snot ·

Ek gee graag my kaartbesonderhede, maar ek ruil ‘n paar syfers om. Net vir die pret.
Natuurlik kans mens altyd bloot oorslaan na Afrikaans – dit werk uitstekend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.