Peperduur elektrisiteit en water: Gee my krag

(Foto: iStock)

Benewens beurtkrag en baie dele van die land wat weens stokou infrastruktuur en skokkende wanbestuur in die donker én met droë krane sit, dok Suid-Afrikaners steeds sakke vol geld vir krag en water op. Eskom se tariewe het oor die afgelope dekade met meer as 300% gestyg en vanjaar kos dit gebruikers ’n bykomende 15% om die ligte aan te hou.

As deel van Spaarmaand het ons ’n handjievol bekende wenke afgestof wat die meeste van ons ken, maar baie min van ons toepas.

Deur byvoorbeeld sonpanele te installeer, ’n gasstoof in plaas van ’n elektriese stoof te gebruik, van lugreëling na waaiers oor te skakel (of sommer die deure en vensters oop te maak), en ’n tydskakelaar vir toestelle soos die geiser, swembad en veiligheidsligte aan te bring, kan ’n mens sakke vol geld spaar.

Hier is nog wenke om kragslim en waterwys te leef:

(Foto: iStock)

Kragslim

  • Altesaam 75% van die elektrisiteit wat elektroniese toestelle (soos televisies) gebruik, word gebruik wanneer dit afgeskakel (maar nog op bystand of “standby”) is. Skakel dit by die muur af.
  • Vervang ou gloeilampe met LED’s. Dit gebruik tot 85% minder elektrisiteit en hou baie langer as tradisionele gloeilampe.
  • Wasmasjien – ’n Voorlaaiwasmasjien gebruik baie minder elektrisiteit as ’n bolaaiwasmasjien. Of jy nou ’n hemp of ’n hele bondel was, die wasmasjien gebruik dieselfde hoeveelheid krag. Boonop is 90% van die krag wat ’n wasmasjien gebruik om die water warm te maak. Kies dus die siklus waar jy met koue water was. ’n Gesin wat uit vier mense bestaan, was sowat 500 bondels wasgoed per jaar!
  • Tuimeldroër – Maak die tuimeldroër se filter ná elke gebruik skoon. Dit sal verseker dat klere vinniger droog word (en gevolglik minder elektrisiteit gebruik). As die son skyn, hang eerder jou klere buite.
  • Die geiser kan vir tot 60% van jou elektrisiteitsrekening verantwoordelik wees. Stel die termometer op 60˚C om elektrisiteit te bespaar en skakel dit af as jy vir ’n paar dae weggaan.
  • ’n Strykyster gebruik dieselfde hoeveelheid krag as tien 100 watt-gloeilampe. Stryk eers materiale wat teen ’n lae temperatuur gestryk moet word sodat die strykyster nie so lank hoef op te warm nie. Stryk groot bondels klere op ’n slag om te keer dat energie vermors word wanneer die yster verskeie kere warm moet word.
  • Ketelslim – ’n Ketel gebruik baie krag, veral as jy dit ’n klomp keer op ’n dag kook. Gebruik ’n fles om kookwater warm te hou of gebruik ’n reisbeker met ’n deksel op. Moet ook nie die ketel té vol maak nie. Kook net genoeg water op ’n slag.
  • ’n Elektriese kombers is heerlik in die winter, maar is ’n kragmonster. Skakel die kombers ’n rukkie voor slaaptyd aan, maar weer af sodra jy inkruip.
  • Probeer gerus eenskottelgeregte of krap die drukkoker uit die kas uit. Gebruik ook potte en panne wat dieselfde grootte as die stoof se plate is.
  • Skakel die oond ’n paar minute voor die verlangde gaarmaaktyd af. Die oond hou sy hitte vir tot 30 minute. Jy kan selfs dié tyd gebruik om iets soos broodrolletjies of nagereg warm te maak.

(Foto: iStock)

Waterwys

  • Stort eerder as bad. ’n Standaard stortkop vloei teen 9,5 liter water per minuut. Dit beteken dat ’n stort van tien minute 95 liter water gebruik teenoor die 265 liter water wat ’n bad opslurp.
  • Deur ’n baksteen of gevulde koeldrankbottel in ’n toiletbak te plaas, kan jy met elke spoelslag 2 liter water spaar. ’n Gesin van vier spoel die toilet tot 20 keer per dag. Jy kan dus deur dit te doen, 13 800 liter water per jaar bespaar. Dit is genoeg om ’n ronde swembad van 3,6 meter, wat 1,2 meter diep is, vol te maak!
  • Draai die kraan toe terwyl jy skeer of tande borsel, en spaar só tot 6 liter water per minuut. Draai ook die stort se kraan toe as jy hare was. Maak jou hare nat, maak die kraan toe, skrop, en spoel dan af.
  • Daar is niks so irriterend soos ’n druppende kraan Maak seker jy maak al die krane wat lek reg, want ’n paar druppels word blitsig 30 liter water wat per dag gemors word. Dis meer as 10 000 liter per jaar!
  • Moderne skottelgoedwassers gebruik ongeveer 13 liter water per siklus. ʼn Studie deur die Universiteit van Bonn in Duitsland het bevind dat jy soveel as 100 liter water gebruik om dieselfde hoeveelheid skottelgoed met die hand te was.
  • As jy nie so gelukkig is om ’n boorgat te hê nie, gebruik ’n gieter in plaas van ’n sproeier of tuinslang om jou lushof nat te lei (en verkieslik nie op die warmste tyd van die dag nie). Tuinspuitjies en tuinslange gebruik tussen 500 en 1 000 liter water per uur.
  • Kies plante wat droogtebestand is. Verwyder ongewenste plante en indringerspesies wat water van ander plante af wegtrek en grensmure en grondgehalte beskadig.
  • Hou ’n beker (koue) drinkwater in die yskas. Dit keer die verkwistende gebruik om kraanwater te laat loop totdat dit koud is.
  • Stoom jou kos om watergebruik te verminder en meer van die natuurlike voedingstowwe te behou. As jy wel kos kook, bêre die oorblywende water om as aftreksel vir sop te gebruik.
  • Moenie jou swembad te vol maak nie. Ons mors baie water as die kinders spat en baljaar. Bedek jou swembad met ’n spesiale seil. Jy kan tot 50% van verdamping só keer.

(Foto: iStock)

Vyf vinnige feite

  1. ’n Tipiese mikrogolfoond gebruik meer elektrisiteit om die digitale horlosie op bystand te hou as om kos warm te maak. ’n Mikrogolfoond gebruik wel tot 80% minder elektrisiteit as ’n konvensionele stoof of oond.
  2. Skootrekenaars gebruik tot 85% minder elektrisiteit as lessenaarrekenaars (“desktop”).
  3. Om klere teen 40°C in die wasmasjien te was (in plaas van 60°C), spaar jou tot 30% elektrisiteit.
  4. Slegs 10% van die energie in ’n gloeilamp word gebruik om lig te maak. Die oorblywende 90% van die energie produseer hitte.
  5. Elke keer wat ons die yskas se deur oopmaak, ontsnap tot 30% van die koue lug. Dieselfde geld vir die vrieskas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Ons kook met gas. Kos my sowat R400 per jaar vir ‘n 9kg en 14kg bottel. En dit werk selfs wanneer Eskom stuitig raak. Verder gebruik ek ‘n halogeen konveksie-oond wat in elk geval vinniger as ‘n normale oond is. Maar jy kry net-net ‘n hoender in hom. Maar dan is daai hoender binne 45 minute lekker bruin.

Johan ·

Van wanneer af gebruik ‘n mikrogolfoond meer elektrisiteit om die digitale horlosie op bystand te hou as om kos warm te maak? Totale nonsens.

Andre ·

Die inligting i.v,m die elektriese kombers is vals.
Dit gebruik van 20 tot 80 watts is verstelbaar.
Gebruik baie min krag, dis nie `n krag monster soos beweer in die berig nie.
Groete
Andre

piet ·

Krag is vrek duur. Gelukkig is ek tans slegs een persoon so ‘n ding soos ‘n geyser is heeltemal onekonomies vir my. Kook ‘n bietjie water en was uit ‘n emmer. Ek sit ook my yskas af oornag. Ek kook ook net 2 maal in ‘n ketel per dag, gebruik ‘n vacume flask.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.