Pinterest-bemarking – ʼn blitsgids

Deur Danielle Kleyn

(Argieffoto: Pixabay)

Wie sou ooit kon dink dat Pinterest sal verander van ʼn platform waar inhoud gedeel word na ʼn platform waar jy besighede kan bemark? Visuele bemarking op Pinterest is ʼn unieke manier om jou teikenmark te bereik en jou besigheid se produkte of dienste te bemark.

Hoekom jy jou besigheid op Pinterest moet bemark:

  • 55% van pinners (die term vir Pinterest-gebruikers) is spesifiek op soek na produkte op Pinterest.
  • 72% van pinners sê dat hulle al ʼn produk gekoop het nadat hulle dit op Pinterest gesien het.
  • 22% van Suid-Afrikaners het Pinterest tussen Mei 2020 en Mei 2021 gebruik.
  • Meer as 500 000 besighede is reeds op Pinterest.

Sluit aan by Pinterest

Begin deur ʼn Pinterest-besigheidsrekening te skep, aangesien ʼn persoonlike rekening nie toegang het tot ontledings nie. Laai dan ʼn profiel- en agtergrondfoto op – moontlik jou besigheid se logo. Volgende gaan jy ʼn kort beskrywing (maksimum 160 karakters) van jou besigheid gee. Die beskrywing kan dieselfde resep as Instagram gebruik, naamlik:

(Besigheid se naam) help (teikenmark) om (wat jy bied) te bereik. Of: (Besigheid se naam) verskaf (produk of diens) aan (teikenmark) sodat hulle (aktiwiteit of uitkoms) kan doen/bereik.

Pinterest sal jou dan vra om jou webwerf te bevestig. Teken ook in op Pinterest se nuusbrief om ingelig te bly oor die nuutste maniere waarop jy jou besigheid op Pinterest kan bemark.

Die visuele

Pinterest is die visueelste sosialemedianetwerk wat tans bestaan. Foto’s, video’s en beweegbare foto’s mag op Pinterest gelaai word. Laai verkieslik vertikale foto’s op sodat dit die maksimum spasie opneem en makliker raakgesien word wanneer pinners deur Pinterest blaai. Pins met ʼn ligte agtergrond vaar 20 keer beter as pins met ʼn donker agtergrond. Pins wat nie mense se gesigte bevat nie, vaar 23 keer beter as pins wat wel gesigte bevat.

Alhoewel dit aanvaarbaar is om 5 tot 30 keer per dag op Pinterest te pin, moet besighede altyd poog om waarde saam met hul inhoud toe te voeg eerder as om net inhoud op te laai wat niemand gaan geniet nie. Moet ook nie alles binne een uur plaas nie, maar pin deur die loop van die dag. Inhoud wat baie goed op Pinterest vaar, is blogs.

Die teks

Dit is een ding om pragtige visuele inhoud op te laai, maar as niemand dit sien nie, help dit niks. Dit is gelukkig eenvoudig om jou Pinterest-inhoud vir soekenjins te optimaliseer. Doen navorsing oor watter kernwoorde jy moet gebruik. Google se AdWords Keyword Planner kan gebruik word om kernwoorde na te vors.

Pinterest laat 65 karakters toe vir jou naam, en daarom kan jy kernwoorde byvoeg. Indien jy byvoorbeeld kamptoerusting verkoop, kan jy jou besigheid se naam die volgende maak: “Kampmal |avontuurhandelsmerk”. Indien jy ʼn persoonlike handelsmerk is wat meestal inhoud oor digitale bemarking plaas, kan jy jou naam “Piet Potgieter | digitale bemarkingswenke” maak. Maak seker jy gebruik ook kernwoorde in jou bordbeskrywing. Kies ʼn kategorie vir elke bord om te verseker jou bord verskyn wanneer daar na dié bepaalde kategorie gesoek word.

Nóg sukseswenke

  • Sluit jou webskakel by die beskrywing of die bron van die pin Op hierdie wyse kan pinners jou webwerf besoek indien hulle van jou inhoud hou. Dit is belangrik om interaksie met pinners wat jou volg te hê. Beantwoord hul vrae en gebruik hul name wanneer jy met hulle gesels. Lewer ook kommentaar op jou volgelinge se pins om sodoende interaksie te verhoog.
  • Die beste tyd om op Pinterest te pin sal van jou teikenmark afhang; oor die algemeen is die beste tyd tussen 20:00 en 22:00 (Suid-Afrikaanse tyd) en 07:00 en 08:00. Naweke is ook meer gewild om te pin as op weeksdae.
  • Indien jy nie ʼn digitale bemarker in diens het nie en bang is dat Pinterest-bemarking te veel van jou tyd gaan opneem, kan jy altyd ʼn skeduleringstoepassing (app) gebruik. Loomly, Sprout en Hootsuite is van die apps wat jou toelaat om jou Pinterest-plasings te skeduleer.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.