Privatiseer ons begroting!

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto verskaf)

Deur Thys van Zyl – hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth

Word deel van die oplossing.

Met soveel op die spel, voel die 2023-begrotingsrede amper soos die Wêreldbeker-finaal. Die enigste verskil is dat ons almal weet dat ons span gaan verloor, want gryslysstatus staar ons agterlyn in die gesig en ons voorry, Eskom, se skuld beloop R400 miljard.

Maar die ware verloorders is ons, die verbruikers, wat elke dag gekonfronteer word met verhoogde inflasie, werkloosheid, beurtkrag, korrupsie, hoë misdaadsyfers, nasionale infrastruktuur wat inmekaartuimel en politieke onstabiliteit. Dit is as’t ware ʼn mislukte staat.

Ondanks hierdie uitdagings gaan vanjaar se begrotingsrede, na alle waarskynlikheid, nie verskil van vorige jare se redes nie. Daar is ʼn groot moontlikheid dat ons ʼn verlaagde belastinginvordering vir 2023 en 2024 kan verwag. Dít is vanweë die feit dat Suid-Afrika se uitvoerkommoditeite gaan stabiliseer na die laer pre-Covid-19-syfers en dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se agterstallige belastingveldtog minder “laag hangende vrugte” gaan opspoor om te vervolg. Die regering se hoofbron van inkomste is egter nie produksie nie, maar inkomstebelasting. Daarteenoor is die regering se grootste uitgawe salarisse wat aan staatsamptenare betaal word. Dit is ʼn bose kringloop sonder einde.

Die regering se grootste uitdaging is skuld en veral Eskom se skuld. Moet egter nie verwag dat die minister van finansies ʼn werkbare plan om hierdie skuld te vereffen, gaan voorstel nie. Die feit dat ʼn ramptoestand oor die kragkrisis verklaar is, gee die regering ʼn verdere kans om die situasie te ontduik. So, wat moet gedoen word om die situasie te beredder?

Rentekoersverhogings kan oorweeg word om hoë inflasie te bestry. Dit is egter net ʼn tydelike oplossing. Die regering moet binnelandse produksie ondersteun en invoere beperk.

Die werkloosheidsyfer kruip al hoe nader aan 50% en sonder die regering se ingryping kan dit ʼn werklikheid word in 2024. Wetgewing rakende swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet heroorweeg word en die regering moet die privaat sektor ondersteun in ʼn poging om meer werk te skep.

Wat beurtkrag en Eskom betref, is die oplossing eenvoudig: privatiseer. Dit sal ook tot gevolg hê dat buitelandse beleggers Suid-Afrika weer as ʼn aantreklike beleggingsbestemming beskou.

(Grafika verskaf)

Daar is geen twyfel dat die regering nie daarin slaag om staatsinstellings doeltreffend te bestuur nie. Om hierdie rede moet mislukte instellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Transnet en die Poskantoor, om net ʼn paar te noem, ook geprivatiseer word. Dit sal werkskepping tot gevolg hê wat weer belastinginkomste genereer.

Ek is van mening dat Suid-Afrika se redding van privatisering afhang, veral as in ag geneem word dat die regering afhanklik is van inkomste- en sakebelasting. Stimuleer dus die privaat sektor, privatiseer onderpresterende staatsinstellings en heroorweeg alle wetgewing aangaande regstellende aksie. Word deel van die oplossing: belê in die privaat sektor!

Kontak vandag nog vir Thys van Zyl van Everest Wealth om jou finansiële welstand te verseker.

E-pos: [email protected]
Webwerf: www.everestwealth.co.za
Tel: 087 654 8705

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.