Prysvasstelling by versekeringskommissie: ʼn Skandelike en skadelike mislukking

Deur Brian Benfield

Brian Benfield

In byna ʼn halfeeu waarin versekeringskommissie gereguleer word – die regulering het in 1977 begin – kon dit nie daarin slaag om die verklaarde doel daarvan, naamlik laer premies vir verbruikers, te verwesenlik nie.

Dit het inteendeel:

  • pryse aansienlik opgejaag,
  • oënskynlik misdadigers gemaak van mense wat andersins ordentlike sakelui is,
  • maklik gesystap geword deur dié wat goed gevestig is,
  • grootliks bestand geraak teen billike pogings om dit af te dwing,
  • die beherende burokrasie opgeblaas,
  • nuwe bedryfsbelasting (“heffings”) genoodsaak wat vinniger as inflasie gegroei het,
  • die verklaarde doel om premies se kostegroei te beteuel tot niet gemaak, aangesien dit aan verbruikers deurgegee word,
  • gelei tot bykomende vorme van prysbeheer op ander uitgekontrakteerde dienste wat in die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) se sogenaamde “RDR”-regulasies gelys word (nou as “standaarde” bekend), en
  • opkomende tussengangers (nuwe onafhanklike agente en makelaars) ernstig benadeel.

In 1977 het die bedryf op punte soos dié hierbo gewys as uitkomstes wat waarskynlik sou volg, maar kon daar nie met die reguleerder, Willem Swanepoel, registrateur van die kantoor vir finansiële instellings, ooreenkom word op ʼn grondslag vir die regulering van versekeringskommissie nie. Die gevolg was dat Swanepoel op ʼn eensydige wyse, sonder bedryfskonsensus, sy eie weergawe van kommissieregulering deurgevoer het. Die uiteinde was dat die versekeraars self waarskynlik die enigstes is wat wesenlike voordeel daaruit trek.

In regsgebiede waar die regulering van versekeringskommissie eens beproef is, is lankal weer daarvan afgesien. Dit het omvattende kollaterale skade veroorsaak en het die Suid-Afrikaanse publiek slegter daaraan toe gelaat.

So, hoekom hou ons finansiëledienstereguleerders aan om vir hulself moeilikheid te veroorsaak? Hoekom hou hulle aan om hulself aan groter onkoste, meer vrugtelose en verkwistende uitgawes, meer vrees en angs en meer openbare kritiek bloot te stel? Hoe is dit dan so terwyl die natuurlike werking van ʼn lewenskragtige mark maklik ingespan kan word om die werk vir hulle te doen en verbruikers, die bedryf en die reguleerders almal ewe goed te beskerm?

Nóg die verstandigste persoon ter wêreld nóg ʼn hele raad van verstandige persone beskik oor die vermoë om die “korrekte” of “gepaste” prys van enige ding te bepaal nie, wat nog te sê van iets so uiters ingewikkeld soos ʼn versekeringsdiens.

Die “korrekte” prys kan slegs deur die vrye wisselwerking van veelvuldige verskaffers, tussengangers en verbruikers, wat almal onafhanklik van mekaar en op uiteenlopende tye en verskillende plekke optree, bepaal word. Prysvasstelling deur individue in burokratiese agentskappe is erg skadelik vir die vooruitgang van ʼn ekonomie. Dié feit is onbetwisbaar en nie langer vir ingeligte debatvoering oop nie. ʼn Prys wat op die lees van “een grootte pas almal” geskoei is, kan nooit in alle omstandighede vir enige produk of diens “gepas” wees nie.

Prysvasstelling belemmer die behoorlike funksionering van ʼn ekonomie. Versekering, wat onder meer oor die internasionale verspreiding van risiko gaan, is ʼn ingewikkelde kommersiële transaksie met verskeie komponente. Dat die uiteindelike lewering van die diens so eenvoudig laat lyk word vir die oningewyde persoon, maak dit nie minder ingewikkeld nie.

Versekeraars bied dekking teen risiko’s aan die hand van ʼn uitvoerige evaluering van talryke faktore wat toekomstige gebeure kan beïnvloed. Versekeringstussengangers (agente en makelaars) vorm die koppelvlak tussen versekeraars en hul kliënte. Oor die algemeen deel hierdie tussengangers in die ontleding en plasing van risiko’s en hul inkomste word beperk tot ʼn deel van die premies wat betaal word. Die gebruik is dat die tussenganger wat geen transaksies inbring nie, geen inkomste ontvang nie en dié wat veilige risiko’s inbring goed beloon word, met talle tussenin posisies. ʼn Vrywerkende stelsel van vergoeding of “kommissie” hou besliste voordele vir die verbruiker en die ekonomie in die algemeen in. Dit verklaar waarom dié stelsel eeue gelede ontstaan het en hoekom dit steeds in die meeste regsgebiede geld.

Wie behoort ʼn produk of diens se prys te bepaal? Wie moet bepaal hoeveel die versekeringspremie moet kos? Wie moet bepaal watter bedrae ingereken moet word om die versekeraar se koste en winsmarge te dek? Wie besluit hoeveel die versekeraar aan bemarking, verspreiding en die verkryging van nuwe sakegeleenthede behoort te bestee? Wie besluit watter deel van dié koste aan die tussenganger se dienste, kundigheid en uitgawes toegedeel moet word? Wie besluit watter deel van dié koste om aan die versekeraar se uitgawes vir die verkryging en bestuur van nuwe besigheid toe te wys?

Moet dié besluite deur burokrate ver weg daarvandaan geneem word, of moet dit daar en dan in ʼn oop en polsende mark geneem word deur diegene wat die versekering koop en verkoop?

Die antwoord is voor die hand liggend. Die onbedoelde gevolge van die regulering van kommissie wat mens waarneem, benadeel juis dié wat dit kwansuis wou beskerm. Dit neig om die mededinging tussen versekeringsmaatskappye en ook tussen tussengangers te beperk. Verder neig dit om die getal nuwe toetreders tot die sektor te beperk en te belemmer. Derhalwe merk die Suid-Afrikaanse tesourie in sy besprekingsdokument van Maart 2006 soos volg op: “Die moderne tendens rakende kommissie is wêreldwyd dié van deregulering, tesame met groter openbaarmaking… Oostenryk, Kanada, Denemarke, Japan, Singapoer, Uganda en die Verenigde Koninkryk plaas byvoorbeeld op geen manier enige perke op kommissie (of heffings deur die versekeraar) nie”. Dié neiging, wat meer onlangs ook in peilings deur die Wêreldbank aangeteken is, strook met ʼn wêreldwye begeerte om dit al hoe makliker te maak om sake te doen. Op sy beurt bring dit groter mededinging en meer keuses vir verbruikers mee, wat weer tot groter beskerming vir verbruikers lei.

Geen ekonomiese aktiwiteit funksioneer doeltreffend as pryse binne daardie aktiwiteit nie oplaas deur verbruikers se eie oordeel oor die waarde daarvan vir hulself bepaal word nie. Die beplanners in regeringsposte beskik nie oor die noodsaaklike en gedetailleerde inligting wat van dag tot dag en elke minuut van elke dag nodig is om die funksionering van ʼn doeltreffende mark na te boots nie, dit is ook hoegenaamd nie vir hulle moontlik om sodanige inligting te bekom nie. Dat hulle glo dit is wel moontlik, is wat ekonome “noodlottige verwaandheid” noem. ʼn Menigte keuses wat deur verbruikers uitgeoefen word, bepaal die pryse wat leiding vir die produksie en lewering van alle goedere en dienste – ook versekering – verskaf, behalwe wanneer verpolitiseerde, nie-ekonomiese kragte tussenbeide kom en die ekonomie ontwrig.

Om kommissie te reguleer, is onoordeelkundig en ʼn regstreekse maar steriele poging om die prys van versekeringsverspreiding te beheer. Dit het dieselfde uitwerking as prysbeheermaatreëls op alle ander goedere en dienste. Die kopers van versekering ontvang minder dienste as wat hulle andersins sou, omdat die getal tussengangers krimp. Verbruikers betaal op die ou einde meer vir versekering omdat die gereguleerde vergoeding uiteindelik daartoe lei dat die totale koste vir hulle hoër is as wat die heersende koste sou wees in ʼn mark waar pryse heeltemal buigsaam is.

Prysbeheer bring óf mee dat die aanbod krimp omdat party verskaffers hulle aan die mark onttrek, óf dit bring hoër koste vir die verbruiker mee omdat die produkte wat aan prysbeheer onderhewig is, teen ʼn hoër prys verkoop word as wat dit in ʼn oop en mededingende mark sou kos. Dit is byvoorbeeld goed geïllustreer toe die prysbeheer op gaskoeldranke ná dekades lank uiteindelik afgeskaf is en pryse onmiddellik gedaal het, wat wys die verantwoordelike staatsamptenare het onwetend beskerming verleen aan minder doeltreffende produsente en gemaak dat verbruikers meer betaal het.

Om sake in ons ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing verder te vererger, beteken die prysbeheer op kommissie dat versekeraars nie langer aan nuwe en opkomende tussengangers die soort steun kan bied as wat 45 jaar gelede moontlik was nie. Opkomende tussengangers mag nou geen ander betaling as streng gereguleerde kommissie ontvang nie, selfs wanneer hulle pas begin werk het en volumes laag is. Dit beteken byna almal word uit die bedryf gedwing nog voordat hulle behoorlik aan die gang kon kom.

Die tesourie se besprekingsdokument van 2006 merk op dat dit wêreldwyd die moderne neiging is om kommissie nie op enige manier te reguleer nie. Hiervoor bestaan geldige ekonomiese redes wat Suid-Afrika sonder verdere onduidelikheid behoort te erken. In ieder geval het kommissies met prys te make en dit is nou die terrein van die Mededingingskommissie, nie die FSCA nie. Premieregulering, hoe indirek ook al, kan goed moontlik blyk ultra vires te wees.

Om op te som, die regulering van versekeringskommissie het ná byna ʼn halfeeu nie die verlangde effek op verbruikersbeskerming gehad nie. Soos jare terug al voorspel is, het dit pryse opgejaag, talle ongewenste kollaterale gevolge gehad, was dit baie skadelik vir opkomende tussengangers, en is dit oor die algemeen onmoontlik om op ʼn billike wyse af te dwing. In die toonaangewende regsgebiede van die wêreld word dit nie meer gedoen nie en op ʼn verdraaide manier het dit versekeraars waarskynlik die meeste bevoordeel.

Dié vorm van geadministreerde pryse behoort onmiddellik geskrap te word ten gunste van die eenvoudige uitweg dat koste (en dus regulering op grond van kliënt, verskaffer en tussenganger) op ʼn omvattende wyse openbaargemaak word, tesame met ʼn verklaring van moontlike botsende belange.

Só ʼn reëling sal die las op reguleerders grootliks verlig, die mark vrystel om doeltreffender te funksioneer, die koste van voldoening verlaag, verbruikers beskerm, versekeraars toelaat om opkomende tussengangers te ondersteun, en uiteindelik heel waarskynlik tot laer versekeringspremies lei.

  • Brian Benfield is ʼn afgetrede professor van die Departement Ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat vir die Vryemarkstigting skryf. Die menings in die artikel, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur lede van die Stigting gedeel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.