Repokoers verhoog om inflasie te beheer

Die Reserwebank. Foto: ANA

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Donderdag die repokoers met 25 basispunte verhoog tot 6.75%, ondanks swak ekonomiese groei.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê die monetêrebeleidskomitee “beskou steeds die risiko’s vir die langertermyn-vooruitsig van inflasie as stygend”. “Monetêrebeleidsbesluite fokus steeds daarop om inflasieverwagtinge naby die middelpunt van die inflasieteiken te bestuur in die belang van ʼn gebalanseerde en volhoubare groei.”

Sommige analiste het verwag dat die Reserwebank rentekoerse onveranderd sou laat om druk te verlig op die sukkelende ekonomie.

Suid-Afrika is tans in ʼn tegniese resessie ná ʼn agtereenvolgende inkrimping van die bruto binnelandse produk in die tweede kwartaal. Die nasionale tesourie het die algehele ekonomiese groeivooruitsig vir 2018 verlaag tot 0.7% van die 1.5% wat in Februarie voorspel is.

Die Reserwebank het Donderdag sy eie groeivooruitsig tot 0.6% verminder, van 0.7% in September.

Kganyago het gesê die SARB moes nou teen inflasie optree, omdat ʼn vertraging in die aanpassing van die rentekoers daartoe kan lei dat inflasieverwagtinge op hoër vlakke geskat word.

Jaarlikse verbruikersinflasie het stelselmatig van 3.8% jaar-op-jaar in Maart tot 5.1% in Oktober gestyg, aldus data van Statistieke Suid-Afrika.

“Die komitee is van mening dat huidige uitdagings in die ekonomie grootliks struktureel van aard is en dit kan nie deur monetêre beleid alleen opgelos word nie,” het Kganyago gesê. “Omsigtige makro-ekonomiese beleide is noodsaaklik om volhoubare groei te verseker en dat die ekonomie skokke beter kan hanteer.”

Die verhoging in die rentekoers beteken die prima rentekoers van banke styg ook met 25 basispunte tot 10.25%. Dit plaas druk op huishoudings wat reeds sukkel met ʼn werkloosheidskoers van meer as 27%, ʼn verhoging in die BTW en ongekende brandstofpryse.

“Die nuus van ʼn styging van 25 basispunte in die repokoers is nie wat huiseienaars met huis- en kredietkaartskuld of voornemende huiskopers wil hoor nie,” het dr. Andrew Golding, hoof- uitvoerende beampte van die Pam Golding-eiendomsgroep, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

O aarde ·

Verhoog die rentekoers om inflasie te beheer, terwyl die hoër inflasie te wyte is aan verhoogde BTW en ander regeringsbeheerde pryse. Ongelooflik! Die gevolg: groeikoers vooruitsigte nog laer en meer sonder werk. En die minimumloon fiasko is ook nog op pad.

Henk ·

Om inflasie te beheer of om die geldmag se koffers aan te vul?

benaYaHU ·

@Henk
Presies, “inflasie” is in werklikheid niks anders dan ‘n versteekte vorm van belasting!
Die meerderheid behoort hulself te vergewis van hoe die moderne moneterestelsel werklik funksioneer, dan sal hul meer bedag wees teen die uitbuiting en manipulasie deur s.g. sentrale-/reserwebanke. Die bevolking word egter deur vrees/onkunde gedryf, en dus kom die bankiers weg met hul manipulasie en leuens. Ek vermoed die gety is stadig maar seker besig om te draai..
Shalom!

koos ·

Snaaks dat die EFF hierdie rondte tjoepstil is hieroor. Gewoonlik waarsku hulle die SARB om dit nie te doen nie, maar hierdie keer geen woord van hulle af nie.
Ek het dit egter gesien kom, en dit gaan nie die laaste wees nie. Ramaposa het miljoene rande gevra in beleggings, en moet dit nou die moeite werd maak om hulle geld hier te belê, en wie betaal weer vir die rente wat hulle moet ontvang…….. jip, ons!

Jacques ·

Tipies , die regering skop die verbriukers terwyl hulle reeds le . Wat is volgende om op te gaan sodat die regering en hulle kronies meer geld kan skep ? Vra maar net ?

Staak saam ·

Ons kla met n witbrood onder die arm.
Om skuld te maak is persoonlike besluit en iets waarvoor elke skuldhouer moet pa staan. Daar is gem 4.5 saterdae in n maand, gaan werk uit hoeveel kos jou braai per maand met eet en drink goedjies.
DSTV is nou al oor R1000/maand.
Weet jy dat as jy n R1000/maand meer op jou verband betaal R1milj dan helveer jy jou termyn.
Skaal af is die antwoord en raak ontslae van kredietkaarte.
Ek is skuld vry, as ek nie genoeg geld het nie dan kan ek die duur goed eenvoudig nie bekostig nie, as die rentekoer moet klim tot 30% dan raak dit my nie.
Dis n baie lekker gedagte is dit nie, dink daaroor.

Koos ·

Baie geluk Staak saam, jy wen ‘n opblaas dartboard!
Nie almal is so gelukkig nie. Ek en my vrou werk hard elke dag en het skuld want geen pa of ma in ons geval kon ons help nie.
Jy mis in werklikheid die pot hier. DIT GAAN JOU OOK GELD KOS.
Die maatskappye (boere) wat brood ens. maak en aflewer het ook skuld. Wie moet hierdie verhoging absobeer? Of gaan jy nou self brood bak? Moontlik skape en beeste aanhou? Jou eie groente by jou klaar betaalde huis kweek?

Naam ·

Staak saam. Dit gaan nie hier oor jou en jou blykbare lekker lewe nie. Dit gaan oor hoe dit werklik is en gaan met die oorgrote meerderheid en dit is dat tye baie moeilik met of sonder die luukse is.

JAN ·

Lag
‘Koos se ‘ opblaas dartboard ‘
die hele nuwe Tsafendastan / Pik- Park is so-iets .
Kostelik

Andrew ·

Kan die rampokkers verhoog word, hulle beheer reeds alles. Askuus, ek sien dis repokoers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.