SA’ners se besteebare inkomste byna derde minder

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners se besteebare inkomste is nou byna ʼn derde minder as ses jaar gelede en ʼn al hoe groter skuldlas plaas verbruikers onder toenemende druk.

Meer as twee jaar ná die aanvang van die koronavirus-pandemie het nominale inkomste effens afgeneem, maar wanneer die uitwerking van saamgestelde inflasie oorweeg word, het Suid-Afrikaners se besteebare inkomste met 31% gekrimp, sê Benay Sager, hoof van DebtBusters.

Verbruikers vergoed vir hierdie tekort deur al hoe meer geld te leen.

Volgens die maatskappy se jongste skuldindeks is ongesekureerde skuldvlakke 20% hoër as in 2016 en diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, se ongesekureerde skuld staan op 54%. Dit is onvolhoubaar hoog.

“Die gevolg van hierdie hoër skuldlas is dat verbruikers sowat 62% van hul netto salaris moet gebruik om hul skuld te vereffen,” sê Sager.

Selfs meer kommerwekkend is dat die twee top-inkomstekerwe se skuld-tot-inkomste-koers op die hoogste vlak in ses jaar is. Vir diegene wat meer as R10 000 per maand huis toe neem is die koers 125% en vir diegene wat meer as R20 000 per maand huis toe neem, is die koers 150%.

Boonop het die grootte van die gemiddelde lening die afgelope ses jaar met 27% toegeneem. Hoewel verbruikers dus meer skuld het, soek hulle vroeër hulp om dit tydig terug te betaal.

Dit is belangrik in ʼn omgewing waar die rentekoers en inflasie toeneem, sê Sager.

Verbruikers moet alles moontlik doen om die koste van krediet te verminder en hul bates te beskerm en as hulle dit nie meer kan doen nie, kan hulle skuldberading oorweeg.

“Onder skuldberading kan die rentekoers van ongesekureerde skuld beduidend verminder word, wat verbruikers toelaat om duurder skuld gouer terug te betaal. Dit het DebtBusters se kliënte verlede jaar in staat gestel om R2 miljard aan krediteure terug te betaal,” sê hy.

Boonop is die getal verbruikers wat skuldberading suksesvol voltooi, nou nege keer meer as wat dit ses jaar gelede was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Dieselde hier.
Ons eerste helfte is verby. (rente)
Nou begin ek eers aan die verband afbetaal…

Tuinuitsig ·

Voel versker die skuldlas. Huislening en 2 studente op universiteit….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.