Só werk belasting vir tuis werk

(Foto: pixabay)

Te midde van die wêreldwye pandemie het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorts onlangs aangekondig dat werknemers wat tuis werk die koste van tuiskantooruitgawes en belastingaftrekkings kan eis.

Dít volg nadat ’n aantal groot Suid-Afrikaanse ondernemings hul werknemers in kennis gestel het dat hulle tot ten minste Augustus vanjaar van die huis af sal werk gedurende die wêreldwye koronaviruspandemie.

Om tuis te werk, is nie net tot voordeel van ondernemingsuitgawes soos water- en elektrisiteitsbesparing of huuruitgawes nie, maar dit kan ook lei tot verbeterde produktiwiteit en tevredenheid van werknemers.

Wie kan dié belastingvoordeel gebruik?

As jy ’n onafhanklike kontrakteur, iemand wat kommissie verdien of ’n voltydse werknemer is wat van die huis af werk, kom jy in aanmerking om moontlik belasting terug te eis op jou kantooruitgawes as jy vir lang tydperke daar gewerk het.

Volgens die Inkomstebelastingswet moet jy kan bewys dat jou werksruimte tuis aan die volgende vereistes voldoen om as ’n “tuiskantoor” beskou te word:

  1. Jy moet ’n toegewyde werkruimte hê en moet kan bewys dat dit bestaan.
  2. Bring meer as 50% van totale werksure by die tuiskantoor deur.
  3. Jy het ten minste ses maande van die 2021-belastingjaar vanuit hierdie ruimte gewerk.

Byvoorbeeld, as jy ’n werknemer is wat vir die belastingjaar 1 Maart 2020 tot 28 Februarie 2021 jou gewone kantoorure vir ’n alleenwerkgewer gewerk het, sal jy kwalifiseer as jy ten minste die helfte van die belastingjaar by jou tuiskantoor gewerk het.

Watter uitgawes kan jy eis?

As jy aan die bogenoemde kriteria voldoen het, kan jy die volgende aftrek:

  1. Skryfbehoeftes en datakoste.
  2. Skoonmaakdienste.
  3. Herstelwerk en instandhouding.
  4. Slytasie aan kantoortoerusting.
  5. ’n Deel van die rente op jou verband, of ’n deel van die huur van die huis en munisipale tariewe en belasting, soos water en elektrisiteit.

Om jou uitgawes rakende jou huisverband, huur, tariewe en belasting te bereken, word die totale vloeroppervlakte van jou tuiskantoor met jou hele huis vergelyk. As jou tuiskantoor byvoorbeeld 15 m2 en jou huis 150 m2 is, beslaan jou tuiskantoor 10% van die totale vloeroppervlakte van jou huis. Jy sal dus toegelaat word om net 10% van die betrokke uitgawes – soos tariewe en belasting of rente betaalbaar op jou verband – af te trek.

As jou werkgewer jou tuisverwante koste vergoed, sal sulke koste nie belasbaar wees nie.

Hoe sal jy kan eis?

Jy moet noukeurig rekord hou van jou uitgawes, aangesien die SAID bewyse kan vra van enige aftrekkings wat geëis word. Die dae wat jy tuis gewerk het, moet verder aangedui word om te bewys dat meer as 50% van die totale werksure by die huis gewerk is.

Wat is die nadele?

Jy moet ook oplet dat die eis van ’n belastingaftrekking vir ’n tuiskantoor ’n negatiewe uitwerking op die berekening van kapitaalwinsbelasting het as jy van plan is om jou eiendom in die toekoms te verkoop.

Volgens die SAID het die eerste R2 miljoen van ’n primêre woning geen kapitaalwinsbelasting nie. As ’n individu egter aan die SAID aandui dat ’n deel van die eiendom nie ’n woning is nie, maar ’n inkomste-genererende kantoor, kan daardie deel van die kapitaalwinsbelasting uitgesluit word.

Daarom, as ’n individu 10% van sy huis se vloeroppervlakte as kantoor eis, dan kan 10% van die uiteindelike verkoopprys vir kapitaalwinsbelasting aanspreeklik wees. Die kapitaalwinsbelasting se insluitingskoers vir individue is 40% (dit wil sê jou kapitaalwins word by jou inkomstebelastingsberekening ingesluit teen ’n 40%-inklusiesyfer). Die SAID het egter aangedui dat die kapitaalwinsbelasting se berekening in ag geneem moet word in die tydsduur waartydens ’n individu hul tuiskantoor gebruik het.

  • Stigter is ’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ‘n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter e-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.