Spaar só in die nuwe jaar

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Suid-Afrika se ekonomie sukkel voort, pryse styg meer as wat dit daal en verbruikers sukkel om hul begrotings te laat klop. Verbruikers weet dit is belangrik om hul sente om te draai, maar nie almal weet dit is die klein jakkalsies wat die begroting-wingerd verwoes nie. Ina Opperman gee raad hoe om te spaar en jou begroting te laat klop.

Die belangrikste deel van elke verbruiker se lewe is om binne jou vermoë te leef en daar is net een manier om dit te doen: stel ʼn begroting op en hou daarby. Só sal jy verseker dat jy altyd weet hoeveel geld jy het om op daaglikse uitgawes te bestee en spaar vir daardie dag wat alles breek.

Wat word van jou geld?

Verbruikers wat sonder ʼn begroting leef, weet nie met hoeveel hulle in die rooi (of selfs groen) is op ʼn bepaalde dag nie. En op die dag wat alles in jou huis wat kan breek, breek, kan hierdie verbruikers gewoonlik nie genoeg geld bymekaarskraap om vir herstelwerk of nuwe toestelle te betaal nie. Hierdie groep verbruikers beland dus maklik in die skuldspiraal en kom nooit daaruit nie.

Tel jou sente

Voordat jy jou begroting opstel, tel jou sente en kyk waarheen dit gaan. Hou boek van elke sent wat jy bestee en waarop jy dit bestee het, om te sien hoeveel jy bestee aan luukshede soos vermaak en wegneemetes.

Jou begroting

Gebruik hierdie lys om ʼn begroting op te stel en te kyk watter uitgawes jy kan verminder. Gebruik ʼn boek waartoe die hele gesin toegang het om jou begroting op te stel. ʼn Los bladsy raak te maklik verlore. Jy kan dit ook op jou slimfoon hou en elektronies met jou gesin deel.

Skryf al jou grootste en noodsaaklike uitgawes in die kolom aan die linkerkant, soos verblyf, vervoer, water en elektrisiteit, selfone, internettoegang, versekering, skuld, spaargeld, skoolgeld, kruideniersware, klere en salaris vir jou huishulp. Voeg eers daarna luukshede soos boeke, fliek, vermaak, wegneemetes, uiteet, vakansie en bederf by as jy dit kan bekostig.

Skryf nou al jou inkomste in die regterkantse kolom neer en sorg elke maand dat jou uitgawes nie meer as jou inkomste beloop nie.

Raak ontslae van skuld

Een van baie mense se Nuwejaarsvoornemens is om van hul skuld ontslae te raak, maar baie van ons kry dit nie reg nie. Finansiële raadgewers stem saam dat mens moet skuld maak om duur items soos ʼn huis of motor te koop, maar jy kan hierdie skuld vinniger verminder en van al jou ander skuld ontslae raak as jy dit reg doen:

  • Moenie jou kredietkaart saamvat as jy inkopies gaan doen nie.
  • Vat net jou debietkaart om te verseker jy bestee net geld wat jy het.
  • Moenie verlei word deur aanbiedings om nog skuld te maak nie.
  • Betaal elke maand ʼn bietjie meer aan skuld op jou huislening en motorlening sodat jy dit gouer afbetaal en bespaar op rente.
  • Spaar maandeliks ʼn bedrag vir moeilike tye soos ʼn motor wat breek of onvoorsiene mediese uitgawes. Gebruik geld wat jy spaar wanneer jy jou begroting opstel.

Kyk uit vir winskopies

Jy kan nie net geld bespaar op inkopies by ʼn supermark of klerewinkel nie. Jy kan ook geld bespaar op versekering, bankkoste en selfoonkoste. As jy byvoorbeeld elke maand net R100 op jou selfoonrekening spaar, spaar jy R1 200 in ʼn jaar se tyd, wat weer jou spaarrekening kan aanvul.

Bespaar op finansiële dienste

  • Kies die mees bekostigbare opsie vir bankdienste nadat jy al die banke se kostes vergelyk het.
  • Betaal maandeliks ʼn bykomende bedrag op jou huislening om op rente te bespaar.
  • Bly weg van onnodige krediet. Betaal liewer kontant vir kruideniersware en span jou spaargeld in om ander duur items te koop.
  • Gebruik jou kredietkaart slim deur seker te maak dat jy die balans elke maand betyds betaal om rente te vermy. Jou kredietkaart is die duurste skuld wat jy het.
  • Onderhandel met jou versekeraar vir laer premies.

Bespaar tuis

  • Elektrisiteit is duur. Gebruik minder elektrisiteit met ʼn tydskakelaar op jou geiser en sit die ligte en televisie af as niemand in die kamer is nie en gebruik gloeilampies wat minder krag gebruik. Was wasgoed in koue water en probeer om nie die tuimeldroeër te gebruik nie. Maak seker jy koop nuwe toestelle wat minder krag gebruik.
  • Water is skaars en duur. Herstel lekkende krane, gebruik grys water vir die tuin en stort in twee minute.
  • Hersien jou televisiepakket. Het jy regtig al daardie kanale nodig?
  • Hou jou huis en tuin in stand sodat jy nie nodig het om later groot bedrae op herstelwerk uit te gee nie.

Bespaar op selfone

  • Wanneer jou selfoonkontrak verstryk, koop ʼn goedkoper selfoon en betaal kontant daarvoor.
  • Beplan oproepe om jou gratis minute te gebruik.
  • Gaan jou selfoonrekening na en kanselleer onnodige dienste wat die koste opjaag.

Bespaar op jou motor

  • Laat jou motor gereeld versien om te verseker dit gebruik nie te veel brandstof nie en om groot, duur probleme te voorkom.
  • Laat gereeld die olie, water en banddruk nagaan.
  • Jou motor sal ook minder brandstof gebruik as die bande reg opgepomp is en gereeld vervang word.
  • Beplan jou ritte om seker te maak jy ry nie onnodig op en af nie.

Bespaar by die winkel

  • Maak ʼn lysie en eet voordat jy gaan inkopies doen.
  • Vergelyk pryse om te sien waar jy kan bespaar.
  • Wees op die uitkyk vir winskopies, maar moenie liters duur brandstof uitry om ʼn paar sent te bespaar nie.
  • Moenie afwyk van jou lysie nie.
  • Lees die eenheidsprys op die rakke by kleinhandelaars en kyk watter grootte kos die minste per 100 gram of 100 milliliter.
  • Gebruik afslagkoepons.
  • Probeer om liewer vars produkte te koop wat vrygestel is van BTW.
  • Koop duur klere aan die einde van die seisoen op uitverkopings.
  • As jy iets duur wil koop, stel dit vir ʼn paar dae uit en dink eers of jy regtig soveel geld wil uitgee.

Bespaar by die skool

  • Koop generiese skoolklere, soos wit hemde, grys broeke en skoolskoene, by goedkoper winkels en nie die winkel wat deur die skool aangewys is nie.
  • Koop duur skoolklere, soos baadjies, by die skool se tweedehandse winkel.
  • Stel vas of die skool ʼn tweedehandse boekwinkel het en koop daar.
  • Probeer om die skoolfonds vooruit te betaal vir die jaar, want jy kry gewoonlik afslag.

Bespaar by die werk

  • Vat liewer eetgoed van die huis af werk toe.
  • Drink liewer kraanwater as om gebottelde water te koop.

Bespaar op vermaak

  • Kies ʼn goedkoper televisiepakket.
  • Besoek die biblioteek of ʼn tweedehandse boekwinkel.
  • Doen lekker dinge saam met die gesin soos piekniek hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.