Spaarmaand: Goedkoper, omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels

Met asyn, suurlemoen en koeksoda kan jy reeds baie skoonmaak. (Foto: iStock)

“Is die bleikmiddel al wéér op?” vra ek dikwels tot vroulief se ergernis as ons die week of maand se inkopielysie saamstel. Haar antwoord behels gewoonlik iets soos: “Glo my, niemand in dié huis drink Jik nie,” gevolg deur ’n kyk wat enige kiem sommer vanself die hasepad sal laat kies.

Lang storie kort en myns insiens bo-aan my toptienlysie van positiewe bladsye wat ons tot dusver uit die nimmereindigende, onbekende koronavirusboek kon skeur, is die skietstilstand oor skoonmaakmiddels wat ons bereik het.

Die “Vrede van Kempton Park” behels dat ek en vroulief akkoord gaan dat skoonmaakmiddels ’n wrewelkopie is wat enersyds peperduur en andersyds (veral in dié tyd) broodnodig is. Siende dat huis ook kantoor en dikwels ook skool is, is sindelikheid volgens die Brandverdrag ononderhandelbaar. Minder geld, minder mors, meer omgewingsvriendelik is ons nuwe missie.

Die plundery van winkelrakke het ons planne gouer momentum gegee, wat ons 20 (een vir elke huweliksjaar) geldvriendelike én groen wenke laat navors en neerpen het. As jy suurlemoene, asyn en koeksoda in die spens het, is jy reg om weg te spring!

(Foto: iStock)

Spaarsamig én skoon

  • Maak korte mette met ’n vuil oond: Maak ’n pasta van koeksoda en water, smeer dit onder in jou oond, los vir ’n paar uur en vee die oond skoon.
  • Maak jou eie veeldoelige skoonmaakmiddel om baddens, wasbakke en enige hardnekkige huishoudelike vuilheid mee skoon te maak: Meng twee dele koeksoda, een deel sout en een deel boraks (by apteke te koop).
  • Om die stort, bad en teëls van daardie lastige ringe en selfs muf te bevry, meng ’n ½ koppie koeksoda, ¼ koppie asyn en 2 eetlepels suurlemoensap en skrop die area.
  • Sukkel jy met ’n stort wat suutjies spuit? Bind ’n plastieksak met asyn om die stortkop om vlekke te verwyder en die gaatjies weer oop te maak.
  • Maak ’n bottel vol suurlemoenskille, gooi onverdunde wit asyn bo-oor en laat dit vir ’n paar dae staan. Gooi die asyn deur ’n sif in ’n ander houer (of spuitbottel), en gebruik dan dié sitrusgegeurde asyn om vensters te was (verdun met water), vloere te was en werkoppervlaktes te ontsmet.
  • Ruik jou skottelgoedwasser bedompig? Gooi twee koppies asyn in ’n wasserbestande bakkie, sit dit op die boonste rakkie van die masjien en skakel dit op die warm siklus aan sonder enige ander skottelgoed.
  • Jy kan die mikrogolfoond só skoonmaak: Verhit ’n bak water en wit asyn in ’n mikrogolfbestande bak. Die stoom sal help om klewerige kos aan die binnekant los te maak, wat jy dan met ’n nat lap kan afvee.
  • Rek jou skottelgoedseep deur net die helfte van die hoeveelheid seep wat jy sou ingooi te gebruik en die ander helfte met wit asyn te vervang.
  • Maak jou eie natuurlike lugverfrisser. Kook ’n liter water in ’n kastrolletjie op die stoof en gooi enige van die volgende kombinasies by: een suurlemoen (in skywe gesny), twee eetlepels roosmaryn en ’n skeut vanielje; een lemmetjie (in skywe gesny) en een gemmerwortel, geskil en opgesny; een lemoen (in skywe gesny), een teelepel kaneel en ’n bietjie neutmuskaat en naeltjies; of een lemmetjie (in skywe gesny) en twee teelepels tiemie. Laat dit ’n rukkie kook, en gooi dit dan deur ’n sif in ’n sproeibotteltjie.
  • Ontsmet ’n snyplank deur ’n suurlemoen wat in die helfte gesny is daaroor te vryf en dit dan af te spoel. Vir meer hardnekkige vuilgoed kan jy die suurlemoensap op die plank uitdruk, dit vir 10 minute laat staan en dit dan afwas.
  • Vir omgewingsvriendelike meubelpolitoer, meng ¼ koppie suurlemoensap en ⅛ koppie olyfolie in ’n spuitbottel, spuit en poets alle houtoppervlaktes.
  • Strooi ’n bietjie koeksoda op meubels en matte vyftien minute voordat jy dit borsel of stofsuig. Jy kan ook asyn in die plek van koeksoda gebruik, veral as jy sterk reuke wil verwyder.
  • Dreindokter! Hierdie mengsel deodoriseer die drein en verwyder klein verstoppings: gooi gelyke dele koeksoda en asyn in die drein. Los vir ’n tydjie en gooi dan warm water in die drein.
  • Gooi koeksoda op en rondom gebiede van die toilet wat jy wil skoonmaak. Gooi asyn daaroor, laat dit borrel en skrop dan maklik skoon. Hierdie tuisgemaakte toiletreiniger werk aan die binne- en buitekant van die toilet.
  • Dis die moeite werd om daardie laaste bietjie tandepasta uit die buisie te wurm. Tandepasta kan met groot vrug gebruik word om die volgende skoon te maak: spieëls, die wit dele van tekkies, juwele, koper- en silwerware, klavierklawers, die strykyster en selfs jou selfoonskerm en rekenaarsleutelbord. Dit verwyder ook kosreuke van jou hande af en sal jou naels witter en helderder laat vertoon.
  • Gebruik ’n ou tandeborsel en bietjie kremetart om vlekvryestaaltoestelle mee skoon te maak. Dit is die ideale alternatief vir chemiese middels, veral vir toestelle waar daar met kos gewerk word.
  • Voeg gelyke dele water en asyn in ’n bak en gebruik dan ’n ou sokkie om blindings mee af te vee om hulle eertydse glorie te herstel.
  • Gee jou glasbakke nuwe lewe. Vat ’n stukkie tinfoelie en rol dit in ’n balletjie. Gooi ’n klein bietjie skottelgoedseep in die vuil glasbak en gebruik die balletjie tinfoelie om die vuilgoed af te skrop.
  • Maak jou eie wasgoedversagmiddel deur 6 koppies asyn, 1 koppie koeksoda en 15 druppels essensiële olie van jou keuse te meng. Gebruik ’n leë bottel wasgoedversagmiddel se proppie om hoeveelhede af te meet en gooi dit in die masjien waar jy gewoonlik die versagmiddel sou ingooi. Jou klere sal supersag wees én lekker ruik.
  • As jy al ooit ’n pot of pan op die stoof vergeet het, sal jy weet hoe moeilik dit kan wees om aangebrande kos te verwyder. Gooi water en asyn in die pot of pan en sit dit weer op die stoof om ’n rukkie lank te prut. Siedaar!

NS: Die volgende veldslag behels die inkoop van drie tieners op ons vernuftige planne. Iemand moet immers die skoonmaakwerk doen, of hoe? Maar dis ’n storie vir ’n ander dag en hopelik een met ’n gelukkige (en skoon) einde!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Africangrey ·

Klink goed, ek weet net nie so mooi van die olie in die versagmiddel nie, maak dit nie kolle op mens se klere nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.