Spaarmaand: Tem jou kruideniersware se begroting

(Foto: iStock)

Met die skoolvakansie wat vervroeg is en talle mense wat (ten minste vir die volgende twee weke) op vlak 4 van die nasionale inperking weer hul tuiskantoorlessenaar gaan afstof, is die yskas en koskas opnuut almal se beste vriend.

Ofskoon daar niks lekkerder is as ’n stomende beker sjokolade op ’n koue wintersdag nie, moet ons ligloop om nie die maand se hele kosbegroting vóór die volgende “familievergadering” te blaas nie!

In die gees van Nasionale Spaarmaand wat in Julie gevier word gaan Maroela Media oor die volgende paar weke lesers verskeie nuttige spaarwenke bied. En ons spring sommer weg met die inkopiewaentjie in die hand.

1. Eet voor jy koop

Honger en uitputting is slegte inkopiemaats. Moenie inkopies doen as jy honger is nie – jy kan in die versoeking wees om allerlei (onnodige) items wat lekker lyk, in te laai. As jy geëet het, sal jy ook meer energie hê om slim keuses te maak (veral as die kinders saamgaan winkel toe).

2. Maak ’n lysie

Werk vooraf ’n spyskaart vir die week of maand uit, stel jou lysie saam en hou daarby! Daar is baie oulike apps soos AnyList (Snuffel hier vir nog nuttige apps). As jy nie tyd het om ’n lysie te maak nie, neem ’n foto van die yskas om jou te herinner aan wat alles (werklik) nodig is.

3. Koop minder gereeld

’n Mens bestee heelwat minder as jy een keer per week of maand inkopies doen. Koop eerder op groot maat as om elke tweede dag vir een of twee goedjies winkel toe te ry. Bereken watter grootte of verpakking van ’n produk jou die minste sal kos. ’n Pak van nege of 12 toiletpapierrolle is gewoonlik goedkoper as ’n paar los rolle.

4. Betaal kontant

Trek die maand se kosgeld in kontant en hou dit veilig in ’n koevertjie. Bêre jou strokies in die koevert as jy klaar inkopies gedoen het en maak ’n aantekening van die datum en hoeveel jy bestee het. Nie net keer dit dat jy te veel geld met jou (geduldige) kaart uitgee nie, maar help jou om presies te kan sien hoeveel geld daar vir die maand oor is.

5. Koop én kook genoeg

Koop genoeg en maak meer kos gaar dat daar vir môre se middagete of kosblikke oorbly. Ons is meesters van mors en kan baie geld bespaar as ons kos die volgende dag eet of vries vir later. Onthou: Jy kan brood, kaas en selfs melk vries.

6. Skep orde

Pak minstens een keer per maand die yskas en koskas uit sodat jy weet wat jy het. Dit sal voorkom dat jy onnodige items in jou mandjie laai. Onthou: Vervaldatums op items soos blikkieskos is slegs riglyne en kan lank ná dié datum met groot vrug genuttig word. Wenk: Varser produkte word gewoonlik agter op die rak gepak. Verwerk en vries varsprodukte as jy sien jy gaan nie alles dadelik opgebruik nie.

7. Maak én hou (by die) reëls

Maak ’n huisreël om net een keer per maand luukse items soos tamatiesous of warmsjokolade te koop, al is dit voor die tyd op. Vra almal vir insette as jy die inkopielys opstel en moet niks koop as dit nie op die lysie is nie. Kinders kan maklik ’n mens se arm draai om lekkernye in te laai (dis juis waarom smulgoed in kinderhoogterakke naby die kasregisters gepak word!)

8. Afslag of oëverblindery?

Maak seker ’n afslagprys is regtig goedkoper as ander soortgelyke produkte op die rak. Supermarkte se eie handelsmerke is van dieselfde gehalte (dikwels duurder) as handelsmerkprodukte. Die geheim is om pryse te vergelyk. Wenk: Kyk ook na die inhoud. ’n Produk is skynbaar goedkoper, maar bevat dalk slegs 900 ml pleks van 1 liter!

9. Tem jou trollie

Gebruik ’n inkopiemandjie of -waentjie wat net genoeg plek het vir die items op jou lysie. ’n Groter waentjie sê vir jou dat jy maar nóg kan inlaai. Aanlyn inkopies is ook baie nuttig en supermarkte het dikwels spesiale aanbiedings wat tot aanlyn inkopies beperk is en nie in die winkels beskikbaar is nie. Dis boonop baie veilig en gerieflik.

10. Kook ’n slag self

Stof daardie mooi witolifant-resepteboeke af en probeer self om ’n gereg of twee te maak. Hoewel daar niks so gerieflik soos ’n klaargaarmaaltyd is nie, is dit peperduur. Besoek die plaaslike varsproduktemark en spring dié naweek as gesin in om groente te skil en ’n heerlike sop te maak waaraan julle dae lank kan smul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elinette ·

Dit is iets waarsonder jy kan klaarkom. Blatjang, mayonnaise en mosterd is ook luukse items. In my huis is tamatiesous nie ‘n item wat gereeld gebruik word nie, maar tamatie-pureè wel. Brood, melk, margarien en daai goed is alledaagse items.

Elinette ·

Ek doen al bogenoemde en kan STEEDS nie elke maand uitkom met my salaris nie (en ek verdien nie ‘n slegte salaris nie!). Elke maand sien jy maar net hoe pryse op-, op- en opgaan. Iets wat bv. verlede maand nog R16.99 gekos het, kos dié maand R21.99 en so druk supermarkte, verál PICK ‘N PAY hul pryse die hoogte in. Mens se salaris hou eenvoudig net nie by nie. In die 8 jaar wat ek by my huidige werkgewer werk, het ek sowat R500.00/jaar verhoging gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.