Suid Afrika se inflasiemandjie teenoor jou mandjie

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto verskaf)

Deur Thys van Zyl – produkontwikkelingshoof by Everest Wealth

Inflasie is ʼn term wat algemeen in die Suid-Afrikaanse finansiële, ekonomiese en beleggingsbedrywe gebruik word, maar word selde werklik doeltreffend en reg toegepas as maatstaf.

ʼn Land se inflasiekoers verwys na die styging in pryse van ‘n algemene mandjie van dienste en goedere wat verbruik word deur ʼn individu in die land. Die algemene mandjie word vasgestel deur die regering van die land. Ek wil graag die klem op “algemeen” plaas en dit is die sleutelwoord wat nie van toepassing is op elke Suid-Afrikaner nie. In 2017 was hierdie mandjie uit ongeveer net meer as 400 items vasgestel vir Suid-Afrika en is tans steeds onveranderd gelaat.

In Suid-Afrika word hierdie mandjie verteenwoordig deur gebruik te maak van die verbruikersprysindeks (VPI) wat die gemiddelde besteding of lewenskoste van ʼn persoon verteenwoordig. Die inflasiekoers word bereken deur die koste van hierdie voorafbepaalde mandjie van goedere en dienste oor ʼn aaneenlopende 12 maande periode te meet en ʼn gemiddelde styging in prys te bepaal. Dié syfer staan dan bekend as die inflasiekoers.

Wie bepaal die algemene goedere en dienste waaruit die inflasiemandjie bestaan?

Die regering bepaal die goedere en dienste wat deur die meeste mense in die land gebruik word. Laer-inkomste huishoudings verteenwoordig ongelukkig die grootste bevolkingsegment in Suid-Afrika. Die mandjie van goedere en dienste weerspieël dus nie noodwendig die verbruikersbesteding van my en jou nie en so ook nie die inkomstegroeperings wat die meeste stimulasie binne die ekonomie veroorsaak nie. Die beginselvaste benadering van die regering ignoreer basiese realistiese en toepaslike feite soos byvoorbeeld dat ongeveer 20% van Suid-Afrikaners 80% van die land se inkomstebelasting betaal. Algemene goedere maak voorsiening vir die algemene bevolking, maar verteenwoordig nie dieselfde goedere wat verbruik word deur die ongeveer 20%-bevolkingsegment wat inkomstebelasting betaal nie.

Uit hoeveel items bestaan die inflasiemandjie?

Die hoeveelheid items wat daagliks gebruik word, in die breër verbruikersekonomie, word wêreldwyd al hoe meer en die inflasiemandjie weerspieël maar ‘n breukdeel van die werklike totale goedere en dienste wat direk of indirek deur die publiek, wat die ekonomie hoofsaaklik stimuleer, verbruik word. Die hoeveelheid items wat verbruik word verskil drasties vanaf ʼn lae-inkomstegroep tot hoë-inkomstegroep en verteenwoordig dus nie alle inkomstevlakke nie.

Wie is die verbruiker?

Selfs binne ʼn meer gedefinieerde bevolkingsegment sal verskillende verbruikers van dieselfde produkte se besteding daarteenoor in terme van verhouding verskil. Menslike gedrag en leefstyl verskil vir elke Suid-Afrikaner. Die verbruikersprysindeks is dus ʼn absolute gemiddeld en is baie selde die ware weerspieëling van die gesamentlike impak van styging in pryse vir ʼn huishouding se begroting.

Baie Suid-Afrikaners geniet byvoorbeeld vleis, private skoolopleiding, private mediese sorg en ʼn hoë verbruik van brandstof, met dié spesifieke sektore wat byna dubbel die inflasiekoers, wat deur die tesourie aangekondig is, gestyg het. Brandstofpryse het in Desember 2021 met 40,5% gestyg, vleis met 8,6% in Desember 2021, nuwe voertuigpryse tot 9,6% in die vierde kwartaal van 2020 en private onderwys wat teen die einde van 2021 met ʼn geraamde 9% toegeneem het.

Wat is die impak van inflasie?

Inflasie, ongeag die segment, het altyd dieselfde impak. Jou geld se waarde is minder. Dit beteken dat jou beleggings of verdienstewaarde devalueer, met ander woorde, as jou belegging en verdienste dieselfde gebly het van een jaar na die volgende, maar inflasie toegeneem het, kan jy minder koop met dieselfde geldwaarde as wat jy in die vorige jaar kon koop. Jou geld is minder werd, selfs al het die geldwaarde daarvan dieselfde gebly.

Word die verbruikersprysindeks (VPI) se opeenlopende effek in ag geneem?

Die feit dat VPI gebaseer is op rollende 12 maande syfers, beteken dat die bogenoemde devaluasie eintlik ʼn saamgestelde maatstaf is. Byvoorbeeld vir illustrasiedoeleindes, as ʼn brood oor 12 maande van R10 tot R12 toegeneem het en dan weer van R12 tot R14,40 oor nog 12 maande, het die VPI-syfers die eerste jaar 20% en die daaropvolgende jaar weer 20% weerspieël, maar die totale toename was egter eintlik 44% van die begin tot die einde van die 24 maande. Die werklike prysverhoging is dus saamgesteld en indien dieselfde brood die volgende jaar met nog 20% tot R17.28 styg, sal die verbruiker effektiewelik 72,8% in drie jaar meer betaal vir dieselfde brood.

As ons praat oor die generering of behoud van welvaart vir Suid-Afrikaners, moet ons almal dus oorweeg wat ons persoonlike ware inflasiesyfer is en of ons beleggings se prestasie ooreenkomstig daarmee meeding. Baie beleggingsadviseurs gebruik die algemene inflasiekoers as maatstaf waarteen hulle gegewe oplossings vir beleggers meet. Dit moet oorweeg word of dit waar of ʼn agnostiese maatstaf is wat beteken: groei my beleggings met standaard-inflasie of my persoonlike mandjie se ware styging in pryse? Bereik my beleggingsbestuurder bloot die algemene verbruikersprysindekskoers se prestasie of vaar hulle beter as my eie persoonlike verbruiksmandjie se styging in kostes jaar op jaar?

Terwyl ons by Everest Wealth nie altyd al die antwoorde het nie, kan ons jou bystaan om die regte keuses te maak.

Kontak Thys per e-pos by [email protected]
Of besoek die webwerf https://everestwealth.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.