Taksseisoen: Dís wat jy moet weet

Dit is weer tyd op jou persoonlike belastingsopgawe in te dien. (Foto: iStock)

Met ’n krimpende arbeidsmark en gevolglik minder belastingbetalers wat die staatskas van sinking moet red, is die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se potlood ekstra skerp gemaak om dié belastingseisoen enersyds seepglad te laat verloop en andersyds te verseker dat elke moontlike sent ingevorder word.

Die nuwe belastingseisoen, vir indiening van opgawes van 1 Maart 2020 tot 28 Februarie 2021, het op 1 Julie afgeskop. Ofskoon die aanvanklike invorderingsteiken R1 365 miljard was, het Covid-19 die arbeidsmark in ’n slagveld omskep met na raming 700 000 minder belastingbetalers wat die rande gaan laat inrol.

Die daling in die aantal belastingbetalers van sowat 7,6 miljoen tot ’n geraamde 6,9 miljoen, sal ’n beduidende invloed op die inkomstekant van die staat se spreiblad hê.

“Na raming betaal net 25% van diegene wat inkomstebelasting betaal 80% van alle persoonlike inkomstebelasting wat ingevorder word. In werklikheid betaal ongeveer 1,58 miljoen mense die grootste deel van alle inkomstebelasting,” sê Jaco Mostert, finansiële adviseur by Solidariteit Finansiële Dienste (SFD).

Wees gewaarsku as jy die afgelope jaar of wat van die huis af gewerk het en ’n belastingeis vir jou tuiskantoor wil indien. Volgens Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, is 1 300 van die 1 500 eise wat reeds hiervoor ontvang is, reeds onder die vergrootglas geplaas en net 50% van die eise het tot dusver die groen lig gekry.

Indien jy vir jou tuiskantoor (nee, ’n hoekie in jou sitkamer of slaapkamer tel nie) wil eis, moet jy kan bewys dat ’n spesifieke deel van jou huis uitsluitlik vir werkdoeleindes ingespan word. Die Ontvanger kan selfs huisplanne aanvra om seker te maak jou afmetingsomme klop. Loer gerus hier na die SAID se riglyne oor tuiskantooreise.

Dat die SAID belastingbetalers met ’n valkoog dophou, blyk duidelik uit die R57 miljard se vals eise wat in die vorige belastingtydperk onderskep is. Altesaam 26 000 individue wat meer as R1 miljoen verdien en nié vir belasting geregistreer het nie, het ook in dié tyd aan die pen gery.

Werkgewers wat versuim om lopende belasting aan die SAID oor te betaal, sal beslis hul rieme styf loop, het die Ontvanger gewaarsku. Altesaam 11 sake is reeds vir vervolging verwys. Skatrykes met oorsese beleggings is ook versoek om hul takssake in orde te kry. Sowat 275 van dié met diep sakke het skrywes hieroor ontvang.

Edward Kieswetter, hoof van die SAID. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Volgens Mostert kan die SAID die belastingproses versnel deur ’n outomatiese aanslag te doen. “Dit beteken dat die SAID ’n assessering outomaties sal voltooi op grond van data wat ontvang word van werkgewers, mediese skemas, uittree-annuïteite en ander derdepartydataverskaffers.”

Terwyl outomatiese aanslae bedoel is om nie-nakoming hok te slaan, kan die gevolge daarvan die verbeuring van terugbetalings of ander vorme van belastingverligting wees.

“Dit is belangrik om seker te maak dat alle inligting oor die assessering korrek is. Reistoelae en huurinkomste is voorbeelde van inkomste wat miskien nie outomaties ingesluit is nie. As ’n outomatiese assessering voltooi is en op jou profiel gelaai is, is dit ’n goeie idee om professionele advies in te win voordat jy dit aanvaar of self enige inligting bywerk,” meen Mostert.

Na aanleiding van die outomatiese aanslae, weerhou talle mense wat in die buiteland werk sommige inligting tydens die indiening van hul opgawe, sê Tax Consulting SA.

“Die mening dat die SAID nie kan belas wat hy nie kan sien nie, is ’n gevaarlike siening. Selfs as jy in ’n ander land werk, is die CRS-ooreenkoms (Common Reporting Standards) daarop gemik om die uitruil van inligting tussen lande, veral verdienste en beleggings in die buiteland, te vergemaklik.

“Die SAID kan maklik toegang tot hierdie inligting verkry. As jy buitelandse beleggings het, moet jy dit in jou belastingopgawe insluit om enige regsgevolge te voorkom,” sê Tax Consulting SA.

Belangrike datums

  • 23 November 2021 – Spertyd vir belastingbetalers (wat nie voorlopige belasting betaal nie) om hul opgawes in te dien óf die SAID se outomatiese aanslag te aanvaar.
  • 31 Januarie 2022 – Spertyd vir voorlopige belastingbetalers en trusts om hul opgawes via eFiling of SARS MobiApp in te dien.

Kry dié dokumente gereed

  • IRP5-werknemersbelastingsertifikaat
  • IT3(b)- en (c)-sertifikate van finansiële instellings ten opsigte van rente, dividende en kapitaalwins
  • Uittree-annuïteitsfonds- of pensioenfondsbydraesertifikaat
  • Mediesefondssertifikaat van bydraes
  • Reisboekie (met betrekking tot reistoelae ontvang)
  • Enige bykomende inkomste wat jy gedurende die belastingperiode ontvang het, moet op die opgawe verklaar word.

(Foto: ANA)

Die SAID in syfers

  • Die sluiting van sy takke weens die strenger inperking gaan nie Jan Taks se invorderingstappe stuit nie. Die SAID het verlede jaar reeds 450 000 belastingbetalers na sy aanlyn platform Meer as 4 miljoen interaksies (wat voorheen by takkantore plaasgevind het) kon digitaal plaasvind.
  • Meer as 3 miljoen belastingpligtiges sal na verwagting ’n outomatiese aanslag ontvang wat hulle moet aanvaar of bywerk. Die mikpunt is om 85% van individue só aan te slaan en 80% van indieners binne 5 sekondes (afhangend natuurlik van internetspoed) van hul aanslag in kennis te stel.
  • Die SAID het voorts onderneem om 70% van alle verifikasie-oudits binne 21 dae af te handel.
  • Jan Taks het in 2020 sowat R29,4 miljard aan 2,4 miljoen individue terugbetaal. Hy mik om vanjaar 70% van kwalifiserende terugbetalings binne 72 uur te doen.

Só maak die SAID sake makliker

  • Antwoorde op gereelde vrae is ook in Afrikaans op die SAID se webtuiste
  • Klik hier om vir eFiling te registreer.
  • Klik hier om uit te vind hoe jy jou vergete wagwoord vir die webblad of SARS MobiApp kan herstel.
  • Skakel die inbelsentrum by 0800 00 7277.
  • Die SAID se YouTube-kanaal bied nuttige video’s.
  • Die kletsrobot Lwazi beantwoord basiese navrae op die webblad.
  • Daar is ’n digitale selfhelpkanaal wat 24 uur per dag oop is.
  • Die slimfoonapp maak dit moontlik om jou opgawe en stawende dokumente in te dien.
  • Die SMS-diens (47277) is uitgebrei. Jy kan jou ID-nommer en sleutelwoord intik en byvoorbeeld jou belastingnommer en balans ontvang.

Is jy onseker oor jou belastingsake? Solidariteit Finansiële Dienste (FSP 15556) bied betroubare en onafhanklike finansiële advies en kan jou bystaan. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na [email protected] of besoek sfdienste.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Margaret ·

Merkwaardig dat SARS nie in een gestort het soos ander regeringsdienste nie. Hulle word al hoe skerper met geld invorder maar bitter min word gedoen om die stelers in die regering vas te vat.

Gato ·

Ja kyk die regering weet watter departement die gans is wat die goue eiers lê. Hier gebruik hulle kundige mense met die regte kwalifikasies om die werk te doen. So ironies dat die hoof van die afdeling nie n kader is wat net vir sy politieke konnektasie in die stoel sit nie.

Kerneels ·

Ons kry elke jaar ‘n geldjie terug van SARS. Ander jare word die terugbetaling gedoen +- 2 dae nadat die belastingpampiere elektronies ingestuur word. Hierdie jaar word dit omtrent eers ‘n maand later op 1 Aug 2021 uitbetaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.