Testamente: 7 dinge wat jy moet weet

Foto ter illustrasie: Pixabay.com

Deur Chris de Jager

Ons lewens het ingrypend verander sedert die eerste grendeltydperk gedurende Maart 2020 ingestel is en ons het tot ʼn mate herbesin oor die kortstondigheid van die lewe en hoe dinge in ʼn oogwink kan verander.

Dit is noodsaaklik om ʼn testament op te stel en daar is onafwendbare gevolge indien daar nie ʼn geldige skriftelike testament in plek is wanneer ʼn persoon afsterf nie.

Die Wet op Intestate Erfopvolging stel voorskrifte daar waarvolgens ʼn persoon se boedel moet vererf indien ʼn persoon nie ʼn testament opgestel het nie.

Die eenvoudige scenario is waar Mnr. X getroud is met geen kinders nie en die gade alles kry. As Mnr. X egter getroud was met kinders en daar boonop kinders uit ʼn vorige huwelik gebore is, kan die bereddering van Mnr. X se boedel ʼn tameletjie word wat ongelooflike spanning en gebroke verhoudings by die nagelate geliefdes los.

Buiten die bogemelde verhoudingsuitval wat kan plaasvind, is daar ook boedelbelasting-implikasies wat vermy kon word indien daar behoorlike boedelbeplanning in die testament plaasgevind het.

Hierdie aspek van die beplanning vir die vermindering van boedelbelasting word nie hier bespreek nie, maar kontak ons gerus as jy navrae het in dié verband.

Hoekom jy ʼn testament moet opstel

Die testateur (die persoon wat sy goed in die testament nalaat) kan sy bates bemaak aan die persone wat hy wil hê dit moet kry na afsterwe en kan ook vermeld welke spesifieke bates aan spesifieke persone bemaak moet word, byvoorbeeld antieke meubels en waardevolle skilderye wat vir die testateur en sy geliefdes van onmeetbare waarde is.

Hier lê die probleem dikwels – selfs al het Mnr. X ʼn testament opgestel, het hy nagelaat om hierdie aspek op skrif te stel, met die gevolg dat daar dan ʼn uitval en woordewisseling tussen sy geliefdes is terwyl dit bloot aangedui kon gewees het in sy testament.

Aanstelling van eksekuteur

ʼn Eksekuteur is die persoon wat in die testament aangestel word en wat verantwoordelik is vir die behoorlike bereddering van die bestorwe boedel.

Indien daar nie ʼn testament is nie, is daar ook nie ʼn eksekuteur in die testament aangewys nie en moet die erfgename ʼn eksekuteur noodgedwonge nomineer wat dan belas is met die fisiese bereddering van die boedel, alhoewel dié persoon dalk nie noodwendig die nodige ervaring het om dit te doen nie.

Hy word dan met arendsoë dopgehou deur die ander erfgename of hy verseker dat die boedel binne ʼn redelike tydperk en korrek afgehandel word, wat dan ook addisionele spanning kan skep.

Dit sou dus beter gewees het om ʼn prokureur te gebruik om die testament op te stel en te nomineer as eksekuteur, na wie die erfgename met gemak kon gaan om hulle behulpsaam te wees met die boedelbereddering proses.

Testamentêre trust en voogde

Die testateur kan in die testament aandui wat moet gebeur in die geval van gesinsuitwissing of afsterwe van hom en sy gade en minderjarige kinders wat oorbly.

Hy sal dan aangedui het wie die voogde van sy kinders moet wees en ʼn testamentêre trust in plek gehad het en ook finansiële voorsiening daarvoor gemaak het.

Boedelbelasting

Die betaling van boedelbelasting kan verminder en uitgestel word deur behoorlike boedelbeplanning in plek te hê in die testament.

Likiditeitsvereistes

Indien daar behoorlike boedelbeplanning gedoen word en dit beliggaam was in die testament se bewoording, sou daar voldoende likiditeit (beskikbare fondse) gewees het wat benodig gaan word vir die bereddering van die boedel, die betaling van eksekuteursfooie, boedelbelasting, Meestersfooie, inkomstebelasting, eise teen die boedel, en so meer.

Lewende testament

Die boedel kan beskerm word deur die insluiting van ʼn lewende testament wat die dreinering van die likiede bates van die boedel vermy en wat terme bevat oor byvoorbeeld orgaanskenkings, teraardebestelling, verassing, en so meer.

Beredderingsproses

Die beredderingsproses kan bespoedig en vergemaklik word indien ʼn persoon ʼn testament in plek gehad het en ʼn sogenaamde “lewenslêer” sou ook saamgestel gewees het in die verband.

Wetlike vereistes

ʼn Behoorlik opgestelde testament voldoen aan die geldigheidsvereistes van die Wet op Testamente en hoef nie beredder te word in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging nie.

Kostes

Daar is ʼn voorgeskrewe fooi wat vasgestel is in wetgewing en dit kan ook vooraf in die testament bepaal en vasgemaak word, afhangende van die grootte van die boedel.

Dit is dus uiters noodsaaklik vir elke persoon om ʼn geldige testament in plek te hê, veral in hierdie tye.

Die Helpende Hand Studie Trust is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat sedert 2009 al meer as 6 300 behoeftige, Afrikaanse studente se tersiêre studies moontlik gemaak het. Jy kan help om ʼn behoeftige, Afrikaanse student se studies moontlik te maak deur ‘n testamentêre bemaking of erflating aan die Helpende Hand Studie Trust te bemaak. Vir meer inligting besoek https://helpendehand.co.za/testamentere-bemakings/.

Hierdie artikel is geskryf deur: Chris de Jager BProc (RAU) 
AIPSA Diploma in Insolvensiewetgewing en Praktyk (UP)
Sertifikaat in Gevorderde Arbeidswetgewing (UP)
Hoër Sertifikaat in Finansiële Beplanning (Milpark Education), (Onderskeiding in Testamente en Administrasie van Afgestorwe Boedels)
Toegelate prokureur praktiserend sedert 1995 Chris de Jager Attorneys
E-pos: [email protected]
Selfoon:  +27 81 212 2419

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.