US beplan om Bestuurskool terug te bring na Stellenbosch

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Die Universiteit Stellenbosch beplan om sy wêreldbekende Bestuurskool terug te bring na Stellenbosch waar ‘n nuwe tuiste vir die skool geskep gaan word binne ʼn unieke samewerkende onderrig- en leerbestemming. Die skool gaan op ʼn gedeelte van die Oude Libertas-perseel ontwikkel word.

Die US-Raad het onlangs (25 September 2019) ʼn donasie van Distell vir ʼn gedeelte van die Oude Libertas-perseel aanvaar.

“Hierdie donasie toon hoeveel vertroue Distell in ons Universiteit het. Dit is ʼn bewys van hul verbintenis tot Stellenbosch se sukses as ʼn sentrum vir onderrig en innovering,” sê prof Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier. “Die maatskappy deel ook in ons visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis bevorder in diens van die samelewing.”

Distell sê in ʼn verklaring dat hulle graag ondersteuning bied vir inisiatiewe soos hierdie wat die potensiaal het om fundamentele verandering en verbeterde geleenthede op Stellenbosch teweeg te bring. “Die maatskappy het baie vertroue om hierdie skenking te maak aan ʼn universiteit wat so ʼn diepgaande impak op die plaaslike en internasionale gemeenskap het.”

De Villiers het bygevoeg Stellenbosch is besig om homself te vestig as een van die voorste entrepreneuriese sakedorpe in Suid-Afrika – ʼn plek waar die Bestuurskool ʼn waardevolle bydrae kan lewer. “Die hervestiging van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) sal nuwe geleenthede vir akademiese samewerking met die universiteit se hoofkampus ontsluit: ʼn kampus wat ook die Nedbank en die US se LanseerLaboratorium (oftewel die Launchlab) huisves. Die skuif sal ook die Bestuurskool – die enigste sakeskool op die vasteland met ʼn volledige driedubbele akkreditasie – in staat stel om verdere waarde uit die ligging en handelsmerk van die Stellenbosch kampus en dorp te ontsluit.”

De Villiers het gesê ʼn onlangse markontleding, mededingerstendense en die US se visie vir die Bestuurskool het oortuigende gronde gebied vir die hervestiging op Stellenbosch.

“Die ontwikkeling van ʼn nuwe kampus vir die US se Bestuurskool op die dorp Stellenbosch in die Wes-Kaap-streek, sal ʼn noemenswaardige en positiewe ekonomiese impak hê en albei sal aansienlike voordeel trek uit hierdie belegging.”

Die nuwe perseel, wat die Bestuurskool, die Uitvoerende Ontwikkelingsmaatskappy (USB-ED) en die Instituut vir Toekomsnavorsing gaan huisves, is strategies geleë binne die beplande herontwikkeling van die Adam Tas Korridor-ontwikkeling; ʼn gebied wat al langs die R310 en R44 strek, aan die voet van Papegaaiberg, vanaf die ongebruikte Kaapse Saagmeule-perseel in die weste tot by Kayamandi en Cloetesville in die noorde. Die korridor is in die lewe geroep spesifiek om die munisipaliteit van Stellenbosch se visie – om ʼn ruimtelike geïntegreerde en getransformeerde Stellenbosch te skep – te versnel. Hierdie ontwikkeling is die eerste van ʼn paar beplande ontwikkelings op Distell se persele wat in die Adam Tas Korridor val.

“Al die top-sakeskole in die wêreld besef hoe belangrik hul ligging en die gehalte van hul fasiliteite vir hul reputasie is. Ons glo dat die skep van ʼn moderne sakeskool wat oor die wingerde uitkyk en wat beplan word om historiese Stellenbosch en die US ontwerp-elemente te reflekteer, die Universiteit sal onderskei van ander universiteite in Suid-Afrika. Dit sal die Universiteit ook in staat stel om sy regmatige plek in te neem as ʼn leier op die gebied van globale leerervarings,” voeg De Villiers by.

“Die feit dat die Bestuurskool en die USB-ED ʼn nuwe gebou kan konseptualiseer, stel hulle in staat om die voorste ruimtelike ontwerp- en tegnologie-gedrewe onderrig- en leerruimtes te inkorporeer. Die perseel en nuwe geboue sal saam ʼn aangesig-tot-aangesig leerervaring bewerkstellig, in ʼn natuurlike omgewing wat bevorderlik is vir bewustheid en uitvoerende onderrig van die hoogste gehalte.”

Volgens hom sal die US die ontwikkeling hoofsaaklik befonds word uit fondsinsamelingsprojekte, wat dan ook die bepalende faktor sal wees of hierdie skuif gaan plaasvind. Bo en behalwe die befondsing sal die normale openbare deelnemingsprosesse ook plaasvind, asook konsultasie met alle belanghebbendes.

Die bestaande kampus in Bellville sal steeds gebruik word om uitgebreide aktiwiteite van ander departemente te huisves. Bestaande en beplande opgraderings aan die kampus gaan soos normaalweg voort. Die US beplan om sy akademiese voetspoor op die Bellville-kampus in die toekoms selfs nog verder uit te brei.

Die US en Distell sal saamwerk om die onderverdeling van die perseel te fasiliteer waarna impakstudies en hersonering sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Deon ·

Jammer dat die Ruperts wat groot aandeelhouers in Distell is nie eerder ‘n Afrikaanse sakeskool in George wil vestig nie. Daar is hordes ander wat ook borge kan word.

Johanna Botha ·

N eng bestuurskool ja :( of is dit n bestuuskool waar jy motor of nee taxi leer bestuur ?

Willemien ·

Bravo! Baie bly oor hierdie verwikkeling.
wat is fout met Engels? Ek sien elke dag hoe mense sukkel met bestuursbedrywighede want hulle kan nie Engels praat nie. Suid-Afrika is Engels.

Tiaan ·

Wat is fout met Afrikaans? daar is baie meer Afrikaans sprekendes as engels sprekendes in Suid Afrika, wat meen jy Suid-Afrika is Engels?

Jacobus ·

Nee, Suid Afrika is nie Engels nie, dit is maar net weer tydelik soos in die verlede deur die Engelse gekoloniseër.

Die Engelse en die sogenaamde “verligte Afrikaners” probeer al meer as 200 jaar om die Afrikaner se voordbestaan, kultuur en taal te vernietig.

Ek is Afrikaans en ek kan net so goed kommunikeer in Engels en ek het al my opleiding in Afrikaans ontvang.

Maar u is welkom as u Engels verkies om u tasse te pak, u familie te neem en te gaan woon en werk in Engeland; die ware Afrikaners sal nie in u pad staan om die land te verlaat nie.

Net ter nagedagtenis; Die ANC, BLF ens. probeer hard om van kolonialisme ontslae te raak maar kan nie genoeg kry van Engels nie; die spreekwoordelike “English subservant subjects”. Dalk is hulle maar ook net deel van die Engelse se plan om Afrikaans in al sy vorme te probeer vernietig.

Reinhardt ·

As Suid-Afrika Engels is, wat maak ons nog hier? Daar is veel beter Engelsprekende lande as ons s’n met baie beter geleenthede. As ek nie eers in ‘n amptelike taal van my land kan onderrig word nie, wat is die punt van amptelike tale? Niemand stry dat Engels belangrik is nie, maar gaan ons nou maar net ophou met Afrikaans. Hoekom begin ons nie sommer nou nie, let’s stop speaking it entirely, why waste time?

Kallie ·

SA is nie Engels nie. Wit Engelssprekendes verlaat die land op strepe. Al wat oorbly is swart en wittes wat Engels as ‘n ekstra taal gebruik, partykeer as ‘n vyfde taal. Die standaard Engels wat gebruik word is baie laag. Mense wat vergaderings bywoon is half ingelig en meestal verward oor wat gesê is en gedoen moet word. Dus word werk nie meer behoorlik gedoen nie. Nou is ons by ‘n punt waar niemand meer omgee nie. Selfs in die parlement is dit ‘n probleem.

Frik ·

Ja Willemien, die jonges moet Engels leer, want dan maak dit emigrasie makliker.

Feite ·

Laat dit nou n les wees vir diegene wie kamtig geveg het vir afrikaans as taal by universiteite, maar wie inderdaad aandadig daaraan was, hetsy uit versuim asook opset, dat die owerhede afrikaans uitfaseer by universiteite. Diegene wie aandadig was het dit ten doel om afrikaans te probeer isoleer by private akademiese instellings, met die motief vir die bou van n sakeryk uit afrikaanssprekendes. Nou, daar is opsigself geen fout met die bou van n sakeryk nie, behalwe wanneer dit gebou word op halwe waarhede, op n leuen. Afrikaanssprekende jeugdiges en hulle ouers, wie toenemend meer en meer bewus sal raak van die ware stand van sake (Afrikanernasionalistiese private akademiese instellings), sal dus steeds eerder by US wil gaan studeer, veral in engels wat hulle in elk geval beter sal voorberei op n wereldwye engelse sakemark, veral ook gesien in die lig dat die afrikaanssprekende jeug toenemend emigreer sodra hulle hul studies voltooi het. Dit sal die afrikaansprekende jeug ook beskerm teen uitbuiting en onderworpenheid aan afrikanernasionalisme, wat net soos sosialisme/kommunisme, n bedreiging inhou vir die afrikaanssprekende jeug asook vir vrede, voorspoed en harmonie in SA. Wat die ANC/eff nasionaliste en die afrikanernasionaliste nie sal besef nie, totdat dit te laat is, is dat die sogenaamde “struggle” asook “apartheid” dood is en as dit nie nou begrawe word nie, gaan dit herleef tot nadeel, nie net van afrikaanssprekendes nie, maar almal wie nie kan emigreer nie!

Verkeers probleme ·

Ek vertrou die Universiteit sal voor die tyd ‘n ooreenkoms met die Munisipaliteit aangaan om die sukkelende infrastruktuur te probeer uitsorteer, anders gaan studende gereeld laat wees vir klasse.
In spitsverkeer beweeg die verkeer skaars en daar is nie veel alternatiewe roetes of vervoer beskikbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.