Verbruikersake: Die Verbruikerswet en jou regte

verbruiker-aankope-verkope

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Verbruikers het gewoonlik ʼn redelike idee van wat hul regte as verbruikers behels, maar die meeste van ons kan nie presies sê wat hierdie regte is en hoe dit beskerm word nie. Wanneer jy presies weet wat jou regte is, is dit makliker om jou daarop te beroep as jy iets koop. Dit is ook makliker om probleme te voorkom as jy weet wat handelaars nie mag doen nie. Ina Opperman verduidelik wat jou regte is en hoe dit in die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm word.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm die volgende fundamentele verbruikersregte:

  • Jou reg op gelykheid in die verbruikersmark;
  • Jou reg op privaatheid;
  • Jou reg om te kies;
  • Jou reg op blootlegging en inligting;
  • Jou reg op billike en verantwoordelike bemarking;
  • Jou reg op billike en eerlike verhandeling;
  • Jou reg op billike, regverdige en redelike bedinge en voorwaardes;
  • Jou reg op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid; en
  • Jou reg om aangehoor te word en terugbetaling.

Jou reg op gelykheid in verbruikersmark

In hierdie deel van die wet, van artikel 8 tot 10, word bepaal dat niemand teen jou mag diskrimineer wanneer goedere en dienste bemark word nie, maar redelike gronde word gestel om jou anders te behandel in bepaalde omstandighede.

Jou reg op privaatheid

Artikels 11 en 12 handel oor jou reg om ongewenste direkte bemarking te beperk en reguleer tye wanneer maatskappye jou kan kontak.

Jou reg om te kies

As deel van jou reg om te kies, bepaal artikels 13 tot 21 jou reg om uit verskaffers te kies, die verstryking en hernuwing van vastetermynooreenkomste, vooraf magtiging van herstel- of onderhoudsdienste en ʼn afkoeltydperk ná direkte bemarking. Jou regte om vooraf besprekings te kanselleer en goedere te kies of na te gaan, sowel as jou regte met betrekking tot die lewering van goedere of dienste, jou reg om goedere terug te gee en ongevraagde goedere of dienste word ook deur hierdie artikels gedek.

Reg op blootlegging en inligting

Artikels 22 tot 28 bepaal jou regte om inligting in gewone en verstaanbare taal te kry, te weet wat die prys van goedere of dienste is, terwyl etikette en handelsbeskrywings op produkte aangebring moet word. Handelaars moet dit ook duidelik maak as goedere herbou of op die grys mark gekoop is en rekord hou van verkope. Hulle moet ook pa staan vir hul verkoopspersoneel se aansprake en optrede en afleweraars en installeerders moet kan bewys wie hulle is.

Reg op billike en verantwoordelike bemarking

Jou reg tot billike en verantwoordelike bemarking word verskans van artikel 29 tot 39. Volgens hierdie deel van die wet word lokaasbemarking en veto-opsiebemarking nie toegelaat nie, terwyl verskeie bepalings geld vir katalogusbemarking, lojaliteitsprogramme, handelskoepons, kompetisies, alternatiewe werkskemas en verwysingsverkope. Ooreenkomste mag nie gesluit word met mense wat nie handelsbevoeg is nie en verbruikers se regte met direkte bemarking word ook gedek.

Reg op billike en eerlike verhandeling

Jou regte om billik en eerlik behandel te word, word gedek deur artikels 41 tot 47. Gewetenlose gedrag, valse, misleidende of bedrieglike voorstellings, bedrieglike skemas en aanbiedinge en piramied- en soortgelyke skemas word nie toegelaat nie. Jy het die reg om te aanvaar dat die handelaar goedere mag verkoop. Hierdie deel van die wet bepaal ook hoe veilings gehou moet word, hoe goedere verander, oorgehou, kwytgeskeld en vervang moet word en hoe oorverkoping en oorbespreking hanteer moet word.

Reg op billike, regverdige en redelike bedinge en voorwaardes

Artikels 48 tot 52 beskerm jou teen onbillike, onredelike of onregverdige kontraksbedinge. Dit bepaal dat jy in kennis gestel moet word van sekere bepalings en voorwaardes, dat sekere transaksies, ooreenkomste, bedinge of voorwaardes onwettig is en dat die howe billike en regverdige gedrag, bepalings en voorwaardes kan verseker.

Reg op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid

In hierdie deel van die wet maak artikels 53 tot 61 voorsiening vir jou reg op billike waarde, goeie gehalte en veiligheid wanneer jy produkte of dienste koop. Jy het die reg om gehaltediens te eis en veilige goedere van goeie gehalte te ontvang. Alle goedere en dienste het ʼn versweë waarborg van gehalte en ʼn waarborg geld ook vir herstelde goedere. Jy moet ook gewaarsku word teen moontlike risiko’s. Gevaarlike stowwe moet reg geberg word en produkte wat ʼn defek het, moet herroep word, terwyl die handelaar en almal in die vervaardigings- en verkoopsketting aanspreeklik is vir skade wat deur goedere veroorsaak word.

Verskaffer se verantwoordbaarheid aan verbruikers

Artikels 62 tot 67 bepaal wat die handelaar se verantwoordbaarheid aan jou is. Dit dek bêrekoop, voorafbetaalde sertifikate, krediete en bewyse en voorafbetaalde dienste en toegang daartoe. Die handelaar moet ook jou eiendom veilig hou en rekenskap daaroor gee. Deposito’s vir houers en die teruggee van onderdele en materiale word ook deur hierdie deel gedek.

Verbruiker se reg om gehoor te word en op terugbetaling

Hierdie deel van die wet handel oor die beskerming van verbruikersregte hoe die regte afgedwing kan word, hoe klagtes opgelos word en wanneer jy by die Nasionale Verbruikerskommissie kan kla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Wat het geword van die klagtes oor vakansie klubs ? Daar was 2 jaar gelede getuienis gelewer oor klagtes voor n paneel van die Verbruikersraad en daar het niks van gekom nie.

Ekke ·

Ek stem Andre, ek sukkel al vir 2 jaar om my vakansie klub te kanselleer! Ek is al raadop

Wonder ·

Wat het geword van wette wat besighede beskerm teen verbruikers, wat jou vloek, skel en weier om te betaal, vir dienste en goedere gelewer. Verder kruip baie verbruikers weg agter hoë mure, in hulle ” Estates ” of agter hulle prokereurs. Terwyl die besighede maar die verliese moet ly? Verbruikers gaan agterkom dat besighede besig is om moeg te raak vir hulle streke. Verbruikers is nie god nie.

Geen reaksie van Telkom ·

Is daar iemand wat raad het tov Telkom wat nie diens lewer nie. Geen diens nie. Nieteenstaande dat rekening vooruitbetaal is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.