Verbruikersake: Dis wat jy vanjaar van rentekoerse kan verwag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pexels)

Verbruikers wat skuld het en veral diegene wat voor November 2021 skuld gemaak het soos om ʼn huis te koop toe rentekoerse baie laag was, meet en pas nou al die afgelope twee jaar om seker te maak hulle kom uit met hul geld elke maand. In Januarie het die Reserwebank weer besluit om die repokoers op 8,25% te hou nadat verbruikers gehoop het dat rentekoerse vanjaar sal begin daal. Ina Opperman het gaan hoor wat ʼn kenner sê oor die moontlikheid dat rentekoerse vanjaar kan begin daal.

Verbruikers het omtrent gehyg nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die repokoers van 7% tot ʼn 14-jaarhoogtepunt van 8,25% verhoog het.

In die eerste vergadering van die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) van 2024 het Lesetja Kganyago, goewerneur van die SARB, grootliks by sy houding oor die ernstige opwaartse risiko’s vir inflasie behou, met die komitee wat eenparig gestem het om die repokoers onveranderd te hou.

Thalia Petousis, portefeuljebestuurder van Allan Gray se Money Market Fund, sê daar is beslis baie risiko’s dat inflasie, waarop die MBK sy besluite baseer, weer kan toeneem, maar hierdie risiko’s lyk nie meer so erg soos dié wat die plaaslike en wêreldekonomie die afgelope twee jaar geknou het nie.

“Hoewel dit geregverdig is om te verwag dat ʼn koersverlagingsiklus binnekort sal begin, kan dit ʼn kort en vlak een wees, gegewe sterk buitelandse arbeidsmarkte en Amerikaanse verbruikersvraag, asook strukturele beperkings binne die Suid-Afrikaanse ekonomie wat pryse kan opjaag.”

Petousis sê as jy wonder wat Kganyago snags wakker hou, het sy dalk die antwoord: “Die belangrikste van Kganyago se bekommernisse is hoë en onvoorspelbare plaaslike voedselpryse, soos dié wat in die eiermark gesien word ná die uitbreek van voëlgriep en stadige vordering met plaaslike hoenderinentings.”

Sy sê voedselinflasie is berug daarvoor dat dit moeilik is om te voorspel, maar sy glo dat die opwaartse risiko’s baie laer is as in 2022 en 2023. “Nie net het ons van ʼn hoë prysbasis af gekom nie, maar Suid-Afrika het ook die meeste van die voorspelde El Nino-weersiklus se uitwerking gesystap tot dusver en hoë geelmielie-oesopbrengste word verwag.”

Petousis wys daarop dat Kganyago ook bekommerd bly oor die inflasionêre uitwerking van beurtkrag en die logistieke beperkings by Suid-Afrika se hawens en met Transnet se spoornetwerk.

“Hoewel hierdie beperkings sal voortduur en plaaslike produksiekoste sal verhoog, is die voorbehoud dat die skade minder sal wees as tydens die piekfase 6-beurtkrag van 2023s. Bestuursveranderinge by Transnet kan ook ʼn groter bereidwilligheid inlui om betrokkenheid van die private sektor te aanvaar om die logistieke krisis op te los.”

Buitelandse inflasionêre tendense

Wanneer daar na buitelandse inflasionêre tendense gekyk word, sê Petousis Kganyago se vrees word hoofsaaklik gevoed deur die sterk Amerikaanse arbeidsmark en hoë loongroei, wat die inflasie-effekte van die tweede ronde kan laat opvlam deur ʼn sterk verbruikersvraag na dienste en goedere.

Die enigste probleem met die Amerikaanse arbeidsmark is dat daar geen probleem daarmee is nie, aangesien werkloosheid op ongeveer sy laagste vlak in dekades bly.

Sy sê geopolitieke spanning, soos die Rooi See-aanvalle, vertraag ook wêreldwye verskepingstye, hoewel op ʼn baie kleiner skaal as waaraan ons in 2022 gewoond geraak het. “ʼn Derde van alle wêreldwye vraghouers gaan egter deur die Suezkanaal en die herleiding van handel via die punt van Afrika maak dit moeilik om goedere betyds af te lewer.”

Petousis waarsku dit kan ʼn opwaartse risiko vir die inflasievoorspelling inhou as die aanbod van voltooide goedere afneem of duurder word. Groot Amerikaanse motorvervaardigers het reeds aangekondig dat hulle gedurende Februarie kapasiteit gaan verminder weens hierdie vertragings, met sommige wat dan baie duurder lugvrag gebruik.

Verskeie SARB-lede het gekommunikeer dat hoë rentekoerse nie hul ideale uitkoms was nie, maar dat dit nodig was omdat die bank ʼn groot las dra wanneer dit kom by die stabilisering van Suid-Afrika se makro-ekonomie en inflasie.

Geadministreerde pryse en rentekoerse

Die SARB se laaste probleem is dat geadministreerde pryse, soos pryse vir elektrisiteit, water, tariewe en belasting, toegelaat is om teen dubbelsyfers en vinniger as die land se geteikende prysinflasie te styg.

Petousis sê dit maak dit noodsaaklik vir die SARB om rentekoerse hoër te hou as wat hy sou verkies as ʼn noodsaaklike euwel wat dien om verbruikers se leenaptyt te verlaag en huishoudelike vraag te verminder. In teorie is sulke optrede bedoel om enige prysstygings in die tweede ronde te verhoed.

“Ek dink egter die mark verwag dat die SARB in die middel van die jaar sal begin om die repokoers te verlaag in ooreenstemming met sy kwartaallikse projeksiemodel. Hoewel hierdie model bloot ʼn beleidsvoorstel is, is dit in ʼn kort en vlak snysiklus met die repokoers wat teen die einde van 2025 van 8,25% tot 7,3% gedaal het, wat steeds 100 basispunte hoër is as die pre-Covid-vlak.”

Sy sê gegewe die SARB se mandaat om prysstabiliteit in die ekonomie te handhaaf en gegewe Kganyago se verwagtinge vir hoër en taaier wêreldinflasie, word ʼn beperkende koers as meer nodig as in die verlede beskou. “Net tyd sal leer,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.