Verbruikersake: Hoe om jou krediettelling te verbeter

Argieffoto (Foto: Sabine Peters/Unsplash)

Jou krediettelling is die sleutel tot verskeie aspekte van jou finansiële lewe wat jou vermoë beïnvloed om ʼn lening te kry, ʼn huis te huur of te koop en selfs om werk te kry. Ina Opperman verduidelik waarom dit belangrik is vir verbruikers om ʼn goeie krediettelling te hê.

Al herstel jy nog van die feesseisoen se besteding en Januarie se terug-skool-toe-gejaag, is dit nou tyd om daarop te fokus om jou krediettelling te verbeter en te herstel, sê Lerato Thwane, hoof van e-handel by Tesserai.

Suid-Afrikaners sukkel om met hul inkomste uit te kom en baie wend hulle tot krediet om basiese noodsaaklikhede te bekostig. Volgens onlangse data van TransUnion het meer Suid-Afrikaners in die tweede kwartaal van 2023 nuwe lenings aangegaan, terwyl die bedrae wat hulle geskuld het met 8,1% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar.

“In vandag se vinnige en steeds ontwikkelende ekonomiese landskap het die bestuur van jou krediet belangriker geword as ooit,” sê Thwane.

Sy sê om te verstaan hoekom jou krediettelling saak maak, moet jy weet hoe dit bereken word. “Jou krediettelling is ʼn weerspieëling van jou kredietwaardigheid, bepaal deur faktore soos jou betalingsgeskiedenis, gebruiksverhouding met krediet, die tydsduur van jou kredietgeskiedenis en die mengsel van jou krediet.”

Dit voorspel jou toekomstige finansiële gedrag en is ʼn besluitnemingsinstrument vir leners, verhuurders en potensiële werkgewers en stel jou ook in staat om ingeligte besluite oor jou finansiële toekoms te neem.

Toename in versoeke vir kredietverslae

“Onlangse data dui op ʼn toename in versoeke vir kredietverslae, wat verbruikers se toenemende bewustheid van hoe belangrik dit is om hul finansiële status dop te hou, beklemtoon. Teen die einde van die derde kwartaal in September 2023 is 872 884 kredietverslae uitgereik. Die meerderheid van hierdie verslae is gratis uitgereik, wat ʼn verbintenis tot finansiële opvoeding en bemagtiging toon.”

As jy jou krediettelling wil verbeter, sê Thwane die gebruik van ʼn krediettelling-instrument bied talle voordele vir verbruikers. Dit bereken jou nuutste krediettellings, groepeer alle oop rekeninge en lenings op een plek en vertoon risikoprofiele en persentasies van skuld wat gebruik en terugbetaal word.

Om verbruikers te help om hul skuld te bestuur, finansiële stres te verminder en toegang tot bygewerkte en gratis kredietinligting te bied, is Splendi, aangedryf deur XDS, ontwikkel. Dit bied ʼn kredietopsommingspaneelbord, gedetailleerde gesegmenteerde uiteensettings, waarskuwings en kredietopvoeding.

Met so ʼn instrument kan verbruikers waardevolle insigte in hul finansiële gesondheid kry en ingeligte finansiële besluite neem, sê Twane.

“Die verbetering van jou krediettelling is ʼn geleidelike proses wat verantwoordelike finansiële gewoontes en noukeurige bestuur van jou krediet behels.”

Hoe om jou krediettelling te verbeter

Thwane het hierdie wenke vir verbruikers om hul krediettellings te verbeter:

  • Gaan jou kredietverslag na: Gaan jou verslag gereeld na vir foute, soos verkeerde persoonlike inligting of rekeninge wat nie aan jou behoort nie en betwis enige foute wat jy vind.
  • Betaal jou rekeninge betyds: Tydige betaling van rekeninge, insluitend kredietkaarte en lenings, is van kardinale belang. Laat betalings op kredietrekeninge kan jou krediettelling aansienlik beïnvloed.
  • Verminder jou kredietkaartsaldo’s: Probeer om jou kredietkaartsaldo’s laag te hou vergeleke met jou kredietlimiet. Hoë kredietkaartsaldo’s kan jou krediettelling negatief beïnvloed. Ideaal gesproke moet jy jou kredietsaldo hou onder 30% van jou limiet.
  • Vermy dit om te veel nuwe rekeninge oop te maak: As jy verskeie nuwe kredietrekeninge binne ʼn kort tydjie oopmaak, kan dit jou krediettelling negatief beïnvloed. Doen slegs aansoek om krediet indien nodig en pasop om te veel nuwe rekeninge oop te maak.
  • Verleng jou kredietgeskiedenis: Die lengte van jou kredietgeskiedenis is ʼn faktor in jou krediettelling. Hoe langer jou kredietrekeninge oop is, hoe beter is dit vir jou telling. Vermy die sluiting van ou kredietkaartrekeninge, aangesien dit jou kredietgeskiedenis kan verkort.
  • Diversifiseer jou kredietmengsel: Om ʼn mengsel van verskillende soorte krediet te hê, soos kredietkaarte, persoonlike lenings en kleinhandelsrekeninge, kan jou krediettelling positief beïnvloed. Neem egter net nuwe krediet aan wanneer nodig en bestuur dit verantwoordelik.
  • Wees versigtig met kredietnavrae: Elke keer as jy om nuwe krediet aansoek doen, word ʼn harde navraag op jou kredietverslag gedoen. Te veel navrae in ʼn kort tydjie kan jou telling verlaag. Wees selektief om aansoek te doen vir nuwe krediet en doen dit slegs wanneer nodig.
  • Werk saam met jou krediteure: Wanneer jy voor finansiële uitdagings te staan kom, kontak jou krediteure om jou situasie te bespreek. Sommige krediteure is dalk bereid om saam met jou te werk aan ʼn gewysigde betaalplan om ʼn nadelige krediettelling te vermy.

Thwane sê verbruikers moet onthou dat die verbetering van jou krediettelling tyd neem en dat daar geen kitsoplossings is nie. “Konsekwente, verantwoordelike finansiële gewoontes is belangrik om ʼn goeie krediettelling te behaal en te handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.