Verbruikersake: Kry die meeste voordeel uit jou bonus

(Argieffoto: Maroela Media)

Verbruikers wat die hele jaar hul sente ʼn paar keer moes omdraai sien reikhalsend uit na die dag waarop bonusse uitbetaal word saam met hulle salaris, gewoonlik op 15 Desember. Baie van ons het al klaar ʼn lysie gemaak waarop daardie bonus, gewoonlik ʼn hele dertiende tjek, uitgegee gaan word. Met die winkels waar die geklingel van Kersfeesliedjies jou aanmoedig om soveel te koop as wat jy kan, is dit moeilik om jou beursie wat nou effens gaan bult toe te hou. Voordat jy begin om jou bonus te bestee, is dit dalk goed om ʼn bietjie terug te staan en mooi te dink oor hoe jy jou bonus verantwoordelik kan gebruik. Ina Opperman gee raad oor hoe om dit te doen.

Vanjaar was ʼn moeilike, harde jaar vir verbruikers. Rentekoerse het nog meer gestyg, terwyl verbruikers se besteebare inkomste al hoe minder geraak het. Almal, selfs mense wat meer as R35 000 per maand verdien, moes hul gordels stywer trek net om kos op die tafel te sit en hulle skuld te betaal.

Dit sal dan lekker wees om ʼn bietjie die winkels in te vaar en alles te koop wat jy begeer: ʼn nuwe rekenaar, ʼn televisiestel of dalk ʼn lugbraaier? Luukse Kersgeskenke vir almal? Enigiets wat jou net beter sal laat voel oor die finansiële put waarin die meeste verbruikers hulle bevind.

Voordat jy die winkels stormloop, staan ʼn bietjie terug en dink weer mooi hoe om jou bonus verantwoordelik te gebruik. Wat is die belangrikste? Om jou bonus te spandeer op goed wat jy nie regtig nodig het nie, of om dit te gebruik om jou finansiële doelwitte te bereik?

Dis lekker om ʼn bonus te kry in ʼn tyd van feesvier om erkenning te gee aan jou harde werk deur die jaar, maar wanneer jy die geld spandeer moet jy dit verantwoordelik doen.

Dit is ʼn goeie idee om die 80/20-beginsel te gebruik wanneer jy besluit wat om met jou bonus te doen. Volgens hierdie beginsel gebruik jy 80% van jou bonusgeld om jou finansiële doelwitte te bereik, soos om skuld te verminder of te spaar en te belê. Jy kan dan die oorblywende 20% gebruik om jouself te beloon en dit bestee op jou wenslysie.

Jy kan die 80% van jou bonus gebruik om:

  • Jou skuld te verminder deur bykomende betalings te maak op jou skuld. Begin by ekstra betalings op jou duurste skuld eerste, soos jou kredietkaart wat heel moontlik al klaar kreun onder jou Swart Vrydag-inkopies. Deur jou skuld te verminder, spaar jy op die lange duur deur kontant vry te stel wat jy normaalweg sou gebruik het om skuld terug te betaal.
  • Te spaar vir noodgevalle deur van die geld in jou noodfonds te sit. Dit is ʼn goeie idee om die ekwivalent van drie maande van jou uitgawes te spaar vir onvoorsienbare gebeurtenisse. As jy ses maande se uitgawes kan dek, het jy ʼn stewig noodfonds.
  • Te belê vir die toekoms. Praat met ʼn finansiële adviseur oor beleggings vir die toekoms. Onthou hoër rentekoerse beteken wel die koste van lenings is hoër, maar ook die rente op spaargeld en beleggings.

Verbruikers moet ook onthou wanneer jy rente verdien op ʼn positiewe balans, beteken dit jy het die geleentheid om bykomende inkomste te genereer in die vorm van gereelde beleggingsinkomste.

As jy nog nie begin het met jou beleggingsreis nie, is dit nou ʼn goeie tyd om te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daisy ·

Wat is ‘n bonus?
Wie kry nog iets soos ‘n bonus?
Dertiende tjek?

B-Man ·

Bonus is die beste. My 80/20 is eerder: 80% gaan na vrou en huis 20% na kinders…

Pieter ·

Ja nee, ek het in 2017 laas n bonus gesien. Die wergewers buit die mense uit, want hulle weet ons almal is desperaat net vir n werk, terwyl die mese in top bestuur, hulle oorseese vakansies boek vir Desember.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.