Verbruikersake: Kyk uit vir dié rooi vlaggies as jy aanlyn koop

(Foto: Unsplash)

Aanlyn inkopies kan jou baie moeite spaar, maar dit kan ook ʼn lokval vir verbruikers wegsteek waar jy betaal vir goedere wat jy nooit ontvang nie. Dit is so gerieflik om aanlyn te koop, maar die internet is egter ook ʼn plek waar swendelaars wegkruip en jy moet versigtig wees wanneer jy aanlyn inkopies doen om te verseker dat jy nie swaarverdiende geld betaal vir iets wat nooit afgelewer sal word nie. Ina Opperman het gaan kyk wat die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste daaroor sê.

Lee Soobrathi, die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste, sê volgens die klagtes wat sy kantoor die afgelope drie jaar ontvang het, is aanlyn inkopies belaai met slaggate wat selfs die waaksaamste en tegnologies-vaardige verbruikers kan benadeel.

Terwyl sy kantoor gereeld wenke deel oor wat verbruikers kan doen om ʼn onaangename en potensieel rampspoedige aanlyn inkopie-ervarings te vermy, sê hy wat egter minder bekend is, is die verpligtinge wat verskaffers het om hul aanlyn klante te beskerm.

Soobrathi wys daarop dat aanlyn transaksies in Suid-Afrika beheer word deur die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies wat die basiese minimum-inligting wat verskaffers volgens wet verplig is om aan verbruikers te verskaf, duidelik uitstippel.

Vereistes vir aanlyn verkopers

Aanlyn verkopers moet:

  • die korrekte pryse aandui. Waar daar ʼn fout is, moet dit aan verbruikers gekommunikeer word en binne ʼn redelike tyd reggestel word, anders is verbruikers geregtig om teen die aangeduide prys te koop
  • ʼn gedetailleerde beskrywing van die goedere of dienste verskaf om te verhoed dat verbruikers goedere bestel wat nie geskik is vir die doel waarvoor hulle dit koop nie
  • afleweringstye en vertragings aan verbruikers kommunikeer
  • sleutelbepalings en -voorwaardes, insluitend terugstuur en terugbetalings, tydraamwerke en kanale aandui
  • kontakbesonderhede en eskalasieprosesse indien verbruikers enige navrae het aandui
  • lokaasbemarking of oorverkope vermy deur te verseker dat daar voldoende voorraad is of om voorraadbeperkings in alle advertensies aan te dui waar van toepassing
  • nie geld van verbruikers aanvaar as daar geen voorraad of kapasiteit is om die goedere of dienste op die ooreengekome tyd en datum te lewer nie
  • enige ander bykomende koste wat die verbruiker sou aangaan bekend maak, insluitend enige afleweringskoste of kansellasieboetes; en
  • ʼn stelsel verskaf vir verbruikers om hul aflewerings na te spoor.

“Hoewel dit heel eenvoudig is vir wettige verkopers wat items op hul eie e-handelsplatforms verkoop, word dit moeiliker as hulle met aanlyn markte kontrakteer, omdat baie bekende aanlyn markte minder bekende hoë volume-verkopers van derdepartye huisves wat oral in die wêreld gebaseer kan wees,” waarsku hy.

Die meeste verbruikers is onbewus hiervan totdat dinge skeefloop, gewoonlik rondom die aflewerings-, terugbetalings- of terugstuurproses, sê Soobrathi.

Beskerming in die VSA en EU

“In daardie stadium sal die onwetende verbruiker na die derdepartyverkoper verwys word. As die derdepartyverkoper nie bestaan nie, is daar nie veel wat jy kan doen nie. Dit is wêreldwyd ʼn probleem, soveel so dat die Amerikaanse kongres in Junie verlede jaar die INFORM Consumers Act goedgekeur het, wat aanlyn markte dwing om:

  • Bankrekening-inligting in te samel
  • kontakbesonderhede en belasting-ID vir hoë volume derdepartyverkopers te hou
  • verkopers se besonderhede te verifieer
  • die besonderhede bekend te maak in die geval van ʼn dispuut; en
  • in die geval van nie-nakoming, die derdepartyverkoper te skors.

Markplekke is ook nou verplig om ʼn eenvoudige meganisme te verskaf vir verbruikers om verdagte gedrag aan te meld.

Die Europese Unie (EU) het ook soortgelyke bepalings in plek gestel om EU-verbruikers aanlyn te beskerm, spesifiek wanneer dit kom by inligting wat oor derdepartyverkopers bekend gemaak moet word en die verwydering van webwerwe of sosialemediarekeninge waar swendelary geïdentifiseer is.

Hulle het dit ook moontlik gemaak om inligting van internetdiensverskaffers of banke aan te vra om die identiteit van skelm aanlyn handelaars op te spoor, sê Soobrathi.

Beskerming vir aanlyn kopers in Suid-Afrika

“In Suid-Afrika is die Wet duidelik oor die markplekke se verpligtinge in hierdie verband: verbruikers moet in duidelike taal vooraf bewus gemaak word indien hulle nie by die aanlyn mark self koop nie en watter uitweg hulle sal hê indien hulle ontevrede is met die goedere of dienste.”

Die Wet op Verbruikersbeskerming bied ook uitgebreide beskerming aan verbruikers wanneer dit kom by openbaarmaking en akkuraatheid van inligting oor goedere en dienste wat geadverteer word of goedere wat gelewer word wat teenstrydig met die verbruiker se verwagtinge kan wees.

Soobrathi sê wanneer dit kom by bedrog en die metodes wat gebruik word om verbruikers te bedrieg, sal banke en betaalplatforms soos PayPal dikwels klante sover moontlik probeer bystaan om hul geld terug te kry.

“Dit is baie belangrik dat verbruikers hul regte en verpligtinge verstaan wanneer hulle aanlyn koop, veral met verskaffers by wie hulle nie voorheen gekoop het nie. Terwyl die Wet op Verbruikersbeskerming voorsiening maak vir ʼn ‘verskuilde waarborg’ ingevolge artikel 56, moet verbruikers daarop bedag wees dat die bepalings en voorwaardes met betrekking tot ‘gedagteverandering’-opgawes onderhewig is aan die winkelbeleid wat hierdie opgawes reguleer.

“Terwyl sommige verkopers omruilings toelaat, sal ander verkopers dit duidelik maak dat daar geen teruggeebeleid is nie, veral op goedere wat óf afgemerk is óf die laaste van hul soort is.”

Wees versigtig wanneer jy hier koop

Die ombudsman se kantoor het juis ʼn waarskuwing uitgereik teen eGadgets.co.za, ʼn aanlyn kleinhandelaar wat elektroniese goedere verkoop, vir die versuim om goedere af te lewer wat aanlyn kopers gekoop en voor betaal het. Van die 32 verbruikersklagtes wat die afgelope 12 maande by die ombudsman se kantoor teen eGadgets ingedien is, is slegs 11 suksesvol opgelos.

Soobrathi sê die verskaffer het opgehou om met sy kantoor saam te werk, wat daartoe gelei het dat die kantoor 17 onopgeloste sake moes sluit en die verbruikers moes verwys om nuwe sake by die reguleerder te open, ondanks talle pogings deur die kantoor om met eGadgets in gesprek te tree om die klagtes op te los.

“Wanneer ʼn verskaffer weier om saam te werk, reik die kantoor ʼn beëindigingskennisgewing uit, wat die saak effektief sluit, sodat verbruikers hul klagtes kan eskaleer na die Nasionale Verbruikerskommissie (NKR) wat magte van ondersoek en sanksie het, wat ons as bemiddelingsliggaam nie het nie,” sê hy.

Volgens Soobrathi het eGadgets deurgaans versuim om klante se bestellings binne die vasgestelde tydraamwerke na te kom, ondanks die belofte om dit te doen. Meer ernstig, sê hy, is die verskaffer se weiering om verbruikers terug te betaal wat, nadat hulle opgegee het dat hul bestellings ooit afgelewer sal word, probeer het om hul bestellings te kanselleer.

“Dit is ʼn flagrante oortreding van die Wet op Verbruikersbeskerming. Artikel 19 bepaal dat ʼn verskaffer ʼn verbruiker moet terugbetaal indien hy nie die ooreengekome goedere of dienste op die ooreengekome datum of tyd kan lewer nie en geen alternatiewe reëlings deur beide partye getref is nie.”

Die Wet verbied ook gedrag met betrekking tot valse, misleidende of bedrieglike voorstellings rakende die beskikbaarheid of aflewering van goedere of die verrigting van dienste op ʼn bepaalde tydstip, sê hy.

Soobrathi waarsku verbruikers om versigtig te wees wanneer hulle aanlyn koop en doen ʼn beroep op kopers om eers hul huiswerk te doen.

“ʼn Vinnige soektog op Hellopeter toon 68 resensies vir eGadgets, waarvan 56 baie negatief is (een ster) met slegs 10 positiewe resensies. Dit behoort ʼn groot waarskuwing vir verbruikers te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.