Verbruikersake: Selfoondataregulasies kom op 1 Maart

selfoon-pexels

Foto: Pexels.com

Verbruikers wat al jare lank kla oor die pryse van selfoondata kan uitsien daarna om meer regte te hê wanneer die eindgebruiker- en intekenaarsregulasies op 1 Maart in werking tree ná heelwat gestoei met selfoondiensverskaffers. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okasa) het sy bestaande regulasies hersien in reaksie op duisende klagtes van verbruikers, veral oor data wat verval en die reëls oor buitebondeldata. Ina Opperman verduidelik hoe die hersiene regulasies jou gaan raak.

Die hersiene regulasies is uitgevaardig ingevolge van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en sal nie die pryse van data direk of indirek reguleer nie, maar wel minimumstandaarde instel vir die verskaffing van data-, teks- en stemdienste.

Jy sal as gevolg van die nuwe regulasies byvoorbeeld die opsie kry om ongebruikte data oor te dra na iemand anders op dieselfde netwerk. Diensverskaffers sal ook kennisgewings moet uitstuur oor hoeveel jy data gebruik het en jy sal kan kies of jy buitebondeltariewe wil betaal as jy nog data wil koop.

Die hersiene regulasies bepaal:

  • Jou diensverskaffer moet jou toelaat om ongebruikte data oor te dra na die volgende maand, of na iemand anders op dieselfde netwerk, sodat jy dit nie verloor nie.
  • Jou diensverskaffers moet jou in kennis stel hoeveel data gebruik is wanneer jy 50%, 80% and 100% van jou stem- en teksdienste gebruik het.
  • Jy kan kies of jy buitebondeltariewe wil betaal vir data-, teks- en stemdienste.

Wanneer databundels verstryk

Jy koop gewoonlik ʼn pakket met ʼn bepaalde hoeveelheid data wat net vir ʼn sekere tydperk geldig is. As jy nie al die data gebruik nie, het dit verval. Van 1 Maart moet die verskaffer jou betyds in kennis stel dat die data gaan verval wanneer jy 50%, 80% en 100% van die data gebruik het.

Jou diensverskaffer moet ook vanaf 1 Maart ʼn meganisme verskaf waarmee jy kan aandui of jy buitebondelheffings wil betaal wanneer jou data klaar is. Jy moet dan kies om nog data te koop en jy mag nie outomaties vir buitebondeldata betaal nie. Só sal daar verseker word dat jy nie aan die einde van die maand met ʼn datarekening van duisende rande sit nie.

Jy moet ook kans kry om die data oor te dra na die volgende tydperk of na iemand anders op dieselfde netwerk. Indien jy data na die volgende tydperk oorgedra het, moet die diensverskaffer verseker dat jy eers hierdie data gebruik voordat jy die nuwe data gebruik wat toegeken is.

Volgens die konsepregulasies sou data van 1 MB tot 50 MB vir ten minste tien dae geldig wees, 50 MB tot 500 MB vir 30 dae, 500 MB tot 1 GB vir 60 dae, 1 tot 5 GB vir 90 dae, 5 tot 10 GB vir 180 dae, 10 tot 20 GB vir 12 maande en meer as 20 GB vir 24 maande. Groter databondels is gewoonlik geldig vir omtrent 30 dae.

Hierdie bepaling is egter geskrap in die finale regulasies en Okasa het aangedui dat dit nie die Nasionale Verbruikerskommissie se werk is om die situasie uit te klaar met betrekking tot die Wet op Verbruikersbeskerming wat bepaal dat koopbewyse en koeponne vir drie jaar geldig moet wees.

Stem- en teksdienste

Vanaf 1 Maart moet jou diensverskaffer jou laat weet wanneer 50%, 80% en 100% van die diens gebruik is. As jy aan die einde van die tydperk betaal vir die diens of ʼn pakket het waar jy bykomende minute kan koop, moet jy die geleentheid kry om enige tyd bykomende dienste te koop wanneer die beskikbare hoeveelheid opgebruik is.

Indien jy nie kies om nog minute te koop nie, moet die diensverskaffer steeds vir jou toegang gee tot nooddienste, klantediens, inkomende teksboodskappe en oproepe en enige ander gratis dienste.

Verbruikersopvoeding

Die regulasies vereis ook dat diensverskaffers verbruikers moet opvoed oor die gebruik van slimfone, hoe om data te gebruik en die reeks dienste en produkte wat beskikbaar is. Dit moet ten minste kwartaalliks gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elsie de Beer ·

Waarom geld dit net vir selfoondata? Ek het n adsl lyn van Telkom. Waarom geld dieselfde reel nie vir data van my adsl lyn nie?

Pierre ·

Ek het oorgeskakel na axxess vir my adsl dienste. Hulle het n 3maande roll over. Wat baie nice is.

Vodacom streke ·

“Vanaf 1 Maart moet jou diensverskaffer jou laat weet wanneer 50%, 80% en 100% van die diens gebruik is.”

Dit is alles goed en wel, maar hulle laat weet jou nie dat die DATUM amper verstreke is nie. ‘n Mens kry eers daardie SMS (by Vodacom) sodra die datum reeds verstryk het en jy reeds AL jou data van ‘n betrokke bondel verloor het.

Ek wil ook graag iets anders onder almal se aandag bring:

Vodacom het onlangs veranderings aan hul bestaande uChoose pakette aangebring. Die Airtime was voorheen vir 6 maande geldig, maar die tydperk is intussen verminder.
Airtime wat eers in Maart, April en Mei sou verval het, is alles saamgegooi en het op die 1ste Februarie 2019 verval. ☹ Mense wat nie die balans van hul Airtime op die Vodacom “portal” dophou nie, sou dit waarskynlik nie eers agtergekom het nie.

Cilliers ·

Maar jy kan mos enige tyd self kyk, bv vir MTN data bel jy *141# op jou selfoon en dan kry jy binne paar sekondes al jou inligting.

Cilliers ·

So terloops, dis mos hoe dit deesdae in die land met al die regulasies gaan, als word vir jou gedoen, hulle sit vir jou ‘n fopspeen in die mond, dan suig hulle dit ook nog.

Klein Boer ·

Hulle het my ook beroof van R600 op 1/2/2019. Het my nie eers laat weet van dit nie. Ons moet almal kla en dit moelik maak vir hulle.

Koos ·

En as al die data goedkoop gemaak word dan hoe gaan hulle die selfoon netwerke onderhou? Of moet dit maar ook in sy peek in gaan soos alles anders?

bgj van der westhuizen ·

alles is te duur in suid afrika
airtime / data / cel foon / internet

JC ·

Ek het 8GB data en 300 minute verloor op 1 Feb. Vir wat? Ek het dan daarvoor betaal! Hulle sal altyd maniere kry om mens in te doen! Ek kyk my balans elke week. Hulle trek van jou minute af wat volgende maand verval, maar die wat in die huidige maand verval, bly dieselfde!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.