
Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Anna Shvets/Pexels)
Dis belangrik om seker te maak jy trek voordeel uit jou mediese fonds, of jy nou op ʼn hospitaalplan is of omvattende dekking het. Jy betaal daarvoor en daarom moet jy sorg dat jy die gesondheidsorg kry waarop jy geregtig is en uitgawes wat jy uit jou eie sak moet betaal, vermy. Dit is veral belangrik in ʼn tyd waar almal hul sente moet omdraai en gesondheidsorg al hoe duurder raak. Ina Opperman vertel meer.
Alles word duurder en mediese uitgawes ook, maar as jy jou mediesefondsvoordele reg gebruik, kan jy ʼn paar rand spaar. Jeremy Yatt, hoofbestuurder van Fedhealth, gee hierdie wenke oor hoe om die meeste uit jou voordele te kry:
Maak seker dat jy netwerkverskaffers gebruik as jy die opsie het
Baie mediese skemas bied netwerkopsies teen ʼn verlaagde maandelikse tarief sodat lede seker kan wees van die prys wat hulle sal betaal. Hierdie netwerke kan verskaffers soos algemene praktisyns, hospitale en spesialiste insluit.
“As jy op ʼn netwerkopsie is, moet jy probeer om die gelyste verskaffers te gebruik om onnodige bybetalings te vermy. Fedhealth-lede op ʼn GRID (netwerk)-opsie bespaar byvoorbeeld 11% op hul maandelikse bydraes en het steeds toegang tot 120 wêreldklas hospitale vir beplande prosedures met hierdie stelsel.”
Trek voordeel uit die voorkomende en gesondheidsondersoeke wat jou mediese fonds dek
Voorkoming is beter as genesing, lui die spreekwoord en dit is veral waar as dit by jou gesondheid kom. “Vroeë diagnose van ʼn gesondheidskwessie kan jou honderde duisende rande spaar oor die langtermyn en moontlik jou lewe red. Die meeste mediese skemas het ʼn ondersoekvoordeel wat dinge soos die MPV-entstof, mammogramme en gesondheidsrisikobepalings dek. Sorg dat jy verstaan wat jou polis dek en verbind jou tot roetine-ondersoeke.”
Gebruik enige toegevoegde waarde-dienste of -programme wat jou skema bied
Baie skemas bied programme of dienste aan wat bykomende waarde het, soos programme om op te hou rook, gewigsbestuur of selfs tolvrye mediese hulplyne. Vind uit wat jou skema in plek het en maak seker jy kry die volle voordeel van hierdie gratis dienste.
Moenie meer betaal vir voorskrifmedikasie nie
Behalwe dat jy net jou plan se goedgekeurde apteekverskaffer gebruik om voorskrifte te vul en bybetalings te vermy, sê Yatt verbruikers moet onthou dat generiese medikasie dieselfde bestanddele het, maar minder kos as die oorspronklike produk, dus moet jy vra daarvoor waar moontlik.
As jy jou plan wil verander
Yatt sê die einde van die jaar is tradisioneel vernuwingseisoen vir mediese fondse, wanneer baie mense hul dekking hersien. Verbruikers besluit gewoonlik om hul planne te verander wanneer:
- Daar ʼn verandering is in jou finansiële situasie, soos om jou werk of ʼn beduidende deel van jou inkomste te verloor en jy dit moet oorweeg om af te gradeer. “Onthou, ʼn laer mediesefondsplan beteken minder voordele en probeer dus om altyd te sorg dat jou gesondheidsorgvereistes pas by die plan wat jy kies. Aan die ander kant, as jou finansiële situasie die afgelope jaar verbeter het en na verwagting sal voortduur, kan jy dit oorweeg om jou dekking op te gradeer vir bykomende gemoedsrus.”
- As jy beplan om ʼn baba te hê, aangesien kraamsorg nie goedkoop is nie. “Dit is die beste om die swangerskapreis aan te pak met ʼn stewige mediese fonds wat goeie kraamvoordele bied. Fedhealth-lede kan enige tyd van die jaar opgradeer binne 30 dae na ʼn lewensveranderende gebeurtenis wat gediagnoseer is, insluitend swangerskap. Onthou, as jy nie ʼn bestaande lid van ʼn mediese fonds is nie, is daar gewoonlik ʼn wagtydperk van 12 maande voordat jy byvoorbeeld toegang tot swangerskapvoordele kan kry.”
- ʼn Verandering in jou gesondheid. “Sou jy gediagnoseer word met ʼn chroniese toestand of lewensveranderende siekte, soos kanker, kan dit wys wees om dit te oorweeg om jou mediese fonds te verander na een wat beter voordele inhou om jou te help om jou spesifieke toestand te bestuur.”
- Jou afhanklikes word ouer. Ouers hou dikwels kinders wat studeer of net begin werk as afhanklikes op hul mediese fonds. “In sommige gevalle kan dit meer kostedoeltreffend wees om hierdie jong volwassenes vir so min as R945 per maand na hul eie lidmaatskap te skuif as hulle jonger as 35 en gesond is, wat goedkoper is as ʼn volwasse afhanklike-bydrae op baie ander mediesefondsopsies.”
Yatt sê in moeilike finansiële tye is dit wys om slim maniere te soek om koste te besnoei en voordele sover as moontlik te benut deur presies te verstaan wat jou mediesefondsopsie insluit.
“Oorweeg dit om met ʼn betroubare finansiële adviseur te gesels wat holisties na jou finansies kan kyk en raad kan gee oor die beste planne vir jou omstandighede en maniere om alles wat jou opsie dek ten volle te benut.”
Hoekom is dit dat as ek my voorskrif na (die groot groen apteek DC) toe vat ek ‘n bybetaling van R70 moet doen maar na ‘n gewone “kleiner” apteek is daar geen bybetaling nie?
En ek is ‘n pensionaris daarby. Natuurlik sal ons rondsoek vir ‘n beter prys, hoekom dan nou omstrede bybetaling betaal as ons dit elders teen ‘n beter opsie kry?
Hoekom kan ons nie kies wat wil ons by n mediese fonds insluit nie? Bv: Ons is nie van plan om nog kinders te kry nie maar geboorte dekking ens. word by die premium ingesluit. Eintlik word baie goed ingesluit wat ons nie nodig het nie. Ek sal liewer die geboorte bystand en kraam gedeelte skrap (van ons fonds) en daai fondse liewers bydrae to tand arts, oog arts, spesialiste, dokters besoeke ens.
Alle pensionarisse vra dit, ons moet maar net aanhou Karting aan die mediese administrateurs
Alle pensionarisse vra dit, ons moet maar net aanhou karring aan die mediese administrateurs
Stem saam
Generiese medisyne is nie 100% die oorspronklike medikasie nie.Dit mag in sekere gevalle wel waar wees,maar sekere generiese medikasie is net 80% van die oorspronklike,veral antibiotika.
Dis alles “smoke and mirrors”. Hier waar ons woon kan ons geen van die programe gebruik omdat dit nie beskikbaar is nie, so… geen voordeel en jy word dus gepenaliseer. Ontdou… dis ‘n besigheid en jy moet jou fynskrif en jou GAP fy skrif BAIE goed deur gaan.
Nee wat, daars nie iets soos voordeel trek of optimum gebruik van n mediese fonds nie. My mediese fonds, die heel duurste een in SA, verminder eenvoudig hulle bydrae tov my kroniese medikasie. En dis AL wat ek gebruik. R3k betaal ek hulle per maand, R600 se kronies gebruik ek, hulle sal die voordeel verminder. Hulle wen al die pad.
Waarom betaal pernsionarisse nie minder nie?