Verbruikersake: Verbruikers spring van woede oor trampolien nie opdaag

Foto ter illustrasie. Foto:
Charles Cheng/Unsplash

Verbruikers is warm onder die kraag omdat trampoliens wat hulle van SA Trampoline in Pretoria bestel het, nooit afgelewer is nie. ’n Verbruiker het vir ons geskryf dat hulle net leë beloftes gekry het dat hul geld terugbetaal sal word. Ina Opperman het ondersoek ingestel.

Die verbruiker, wat nie haar naam genoem wil hê nie, skryf sy het ’n trampolienmat by SA Trampoline bestel nadat sy die maatskappy se besonderhede op die internet gekry het. Sy het met Hannes Pieterse van SA Trampolien gepraat en hy het al haar vrae beantwoord.

Sy was tevrede met sy antwoorde en het op 7 Augustus die volle bedrag van R1 450 betaal. Pieterse het gesê aflewering sal geskied binne ’n week. Sy wou self ’n koerier reël, maar het nie sover gekom nie.

Die trampolienmat is nooit afgelewer nie. Sy het Pieterse keer op keer gebel, maar nooit antwoord gekry vandat sy die betaling gedoen het nie. Dit het gelyk asof die landlynnommers nie meer bestaan nie. Pieterse het ook nooit op haar e-posse gereageer nie.

Die verbruiker se werkgewer het Pieterse gebel en hy het verduidelik dat hy besig is om na ’n ander perseel te skuif en daarom is die aflewering laat. Pieterse het ook gevra dat die verbruiker weer die kwotasie deurfaks, wat sy gedoen het, al het sy dit vreemd gevind dat hy vir die kwotasie vra nadat die betaling reeds gedoen is. Daarna het sy weer nie van Pieterse gehoor nie en hy het weer nie op haar e-pos gereageer nie.

Pieterse het in reaksie op hierdie verbruiker se klagte gesê hy het met die verbruiker in verbinding getree en ooreengekom om die aflewering vandeesweek te doen of haar geld terug te betaal. Volgens Pieterse het die verbruiker die terugbetaling gekies.

Hy het benadruk dat sy webwerf en e-pos behoorlik werk.

“Ons is besig om ons fabrieksadres te verander. Ons landlyndiensverskaffer het sy oproepstelsel gestaak en ons is besig om ons nommers na ’n nuwe diensverskaffer te skuif,” het hy verduidelik. Pieterse het gesê die maatskappy sal volgende week weer ten volle by sy nuwe perseel werk.

By navraag het die verbruiker gesê dat geen ooreenkoms vir terugbetaling met Pieterse bereik is nie.

Die internet en Facebook wemel van klagtes oor SA Trampoline, maar Pieterse het nie vrae hieroor beantwoord nie.

Selfs die kantoor van die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en –dienste het al ’n verklaring uitgereik waarin verbruikers gewaarsku word teen SA Trampoline. Die kantoor het al baie klagtes van verbruikers ontvang wat ten volle betaal het of deposito’s van tussen R3 200 en R6 300 betaal het, met die belofte dat die aflewering en installasie binne sewe tot veertien dae sal geskied.

SA Trampoline het egter, ten spyte van kommunikasie met verbruikers en die ombudsman, steeds nie afgelewer of verbruikers se geld terugbetaal nie. In die meeste gevalle is die betalings reeds maande gelede gemaak. Die eienaar van die maatskappy het nie ontken dat die betalings ontvang is nie, maar het nie sy beloftes nagekom om af te lewer en te installeer nie, het die ombudsman, Magauta Mphahlele, gesê.

“Ons sal die saak verwys na die Nasionale Verbruikerstribunaal vir verdere ondersoek en moontlike vervolging, want ons kan nie toelaat dat die maatskappy voortgaan om verbruikers se swaarverdiende geld te vat met die bedoeling om nie die goedere te lewer nie,” het Mphahlele gesê.

Die ombudsmankode vereis van die ombudsman om verbruikers bewus te maak van klagtes en die maatskappye waaroor verbruikers kla.

“Baie maatskappye werk saam met ons wanneer verbruikers oor hulle kla, maar daar is ook baie wat soos SA Trampoline optree. Ons sal voortgaan om die name van verskaffers te publiseer wat nie wil saamwerk nie, veral wanneer hulle verbruikers se geld vat sonder die bedoeling om die goedere en dienste te lewer.”

Die ombudsman het verbruikers gewaarsku om eers seker te maak dat ’n maatskappy ’n goeie reputasie het van betyds aflewer voordat hulle enige bedrae betaal.

Wet op Verbruikersbeskerming

SA Trampoline oortree moontlik die Wet op Verbruikersbeskerming, wat bepaal dat ’n verskaffer in die algemeen verantwoordelik is vir die aflewering van goedere of die lewering van dienste op die datum en plek waarop ooreengekom is, tensy die ooreenkoms anders bepaal.

Wanneer die verskaffer nie die goedere of dienste lewer soos belowe nie, mag die verbruiker die ooreenkoms kanselleer en sy geld terug vra sonder om daarvoor beboet te word.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

In sommige gevalle sal die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies van toepassing wees, wat bepaal dat die verskaffer ’n bestelling binne 30 dae nadat die bestelling ontvang is, moet uitvoer, tensy anders ooreengekom. Indien die verskaffer nie die bestelling betyds lewer nie, kan die verbruiker die ooreenkoms kanselleer deur sewe dae kennis te gee op skrif.

Indien die goedere nie beskikbaar is nie, moet die verskaffer die verbruiker binne 30 dae in kennis stel en binne 30 dae daarna die verbruiker se geld terugbetaal.

Wenke:

  • Wanneer jy op Google soek na ’n maatskappy wat bepaalde goedere of dienste kan lewer, kyk eers of daar klagtes op die internet of op Facebook is oor die maatskappy. Dit sal jou al klaar ’n goeie idee van die maatskappy se reputasie gee.
  • Moenie die maatskappy se reputasie meet aan komplimente op sy webtuiste of van “tevrede verbruikers” wie se name en nommers deur die maatskappy verskaf word nie.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by www.cgso.org.za, of jy kan die oproepsentrum bel op 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Viswyf ·

Hoe nou gemaak as n ketting winkel soos Lewis aan n sassaenioenaris rekening op rekening op rekening gee wat hy nie kan betaal en nog sy kamertjie kan betaal en kos koop nie en dan trek hulle sommer geld uit sy sassa rekening vir die paaiemente? Ek het die kwitansie wat hulle heel goedgunstiglik vir hom kom aflewer het.

Koos ·

Hy moes in die eerste plek nie die goed gekoop het as hy dit nie kan bekostig nie.

Markus ·

Sulke mense moet net by die polisie verkla word en tronk toe gaan ,dit is hierdie tipe optrede wat maak dat n mens niemand wil vertrou nie.

Wurmpie ·

Waar kan ons ombudsman kry vir belasting. Hul vat ons swaar verdiende geld en ons kry niks daarvoor nie

Leon ·

Ek wed SA Trampoline se fabriek is sy eetkamertafel en sy kantoor is die lapa van die braai area.

Uli pelser ·

Die ou lieg en bedrieg almal. Wag ook vir my geld. Belowe elke dag hy sal dit terug betaal. 5 maande later en nog niks. Dink almal moet ‘n saak gaan maak by sinoville polisie stasie wat hier in die pta area bly. Kom ons maak ‘n datum vas en gaan almal saam die dag en maak seker die hannes sit agter tralies waar hy hoort.

Oppas ook ·

Pasop ook vir Die Goudwoud (Krugerrande). Vat jou geld, geen aflewering en dan sukkel jy om geld terug te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.