Verbruikersake: Wil jy spaar op kruideniersware?

(Foto: Maroela Media)

Met kospryse wat die hele tyd styg wil verbruikers die graagste ʼn plan maak om minder van hul swaarverdiende geld te bestee om kos op die tafel te sit, en almal is op soek na nuwe maniere om te spaar.

Lojaliteitsprogramme en koepons maak ʼn verskil aan jou kruidenierswarerekening, maar dit is tydrowend om by te hou met wat jy waar kan spaar. Dov Slowatek, uitvoerende hoof en stigter van die Suid-Afrikaanse platform, SavvySaver, wat sorg dat jy jou kontant op besparings terug kry, het ʼn plan gemaak om verbruikers te help.

Hy sê die lewenskostekrisis veroorsaak ʼn groot verskuiwing in verbruikersgedrag en onlangse data toon dat verbruikers gebruik maak van nuwe kostebesparingstrategieë, soos terugbetalings- en afslagplatforms, aangesien voedselpryse en noodsaaklike huishoudelike items deesdae kommerwekkende hoogtes bereik.

“Verbruikers het ʼn breekpunt bereik om hul begrotings te probeer rek om stygende koste te akkommodeer en is op soek na tasbare begrotingsvriendelike middels om die bekostigbaarheidsgaping te oorbrug.”

Volgens PricewaterhouseCoopers (PWC) is byna 99% van verbruikers van plan om nuwe gewoontes aan te leer wat hulle sal help om geld te bespaar, terwyl die Nielsen Global Outlook Report 2023 sê dat die lewenskostekrisis verbruikers na afslag soek (49%) gedryf het, promosies (36%) laat najaag en in grootmaat koop (50%), terwyl 56% gretig is om voordeel te trek uit lojaliteitskemas.

“Die SavvySaver-terugbetalingsprogram het ʼn skerp toename in lidmaatskap gesien, tesame met stygende voedselkoste, met lede wat duisende rande in kontant terugkry,” sê Slowatek. Dié terugbetalingsplatform het die afgelope drie maande ʼn toename van 230% ervaar in verbruikers wat aanmeld, wat die erns van die uitwerking van voedselprysinflasie op die gemiddelde verbruiker beklemtoon.

Verbruikers word van alle kante geknou, van die jaarlikse styging van 13,6% in voedsel- en nie-alkoholiese drankpryse in Februarie vanjaar – die hoogste lesing sedert April 2009, tot die dreigende tegniese resessie. Verbruikers sukkel om kos op die tafel te sit.

Volgens die jaarlikse resultate van die Truth & BrandMapp-opname wat deurlopende lojaliteitstendense uitlig, wil verbruikers veral die terugbetalingslojaliteitsvoordele hê. Slowatek sê anders as belonings van krediet- en debietkaarte, is terugbetalingsbelonings ʼn 100% kostevrye aanbod aan verbruikers, wat hulle inkopiebuigsaamheid bied en ʼn manier om finansiële beperkings te bestuur.

Verbruikers word beloon by alle groot kleinhandelaars op ʼn manier wat verskil van tradisionele kleinhandelaarlojaliteitskaartprogramme. Hy sê die proses is vinnig en eenvoudig: verbruikers laai ʼn foto van hul kwitansie op die SavvySaver-app of aanlynplatform en kan onmiddellik terugbetaling ontvang vir ʼn wye reeks items wat deur handelsmerkvennote op die app verskaf word.

“Terugbetalingsbelonings stel verbruikers in staat om geld terug te kry, terwyl hulle inkopies doen vir items wat hulle in elk geval sou koop. Dit beteken ʼn kontantinspuiting, wat verbruikers meer kilometers op hul bestedingskapasiteit gee en van die inkopiedruk van stygende koste verlig.”

Verbruikers kan dit ook liefdadigheid ondersteun deur veldtogte met SA Harvest, ʼn organisasie sonder winsbejag, wat voedsel verskaf aan organisasies regoor Suid-Afrika wat behoeftiges voed. Om jou terugbetaling te skenk is ook in die pyplyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens ·

begin deur op te hou om die groot kettingwinkels te ondersteun, veral met vars produkte (vlies, groente, vrugte, suiwel). Hulle is die grootste drywers agter prysstygings.
Gaan koop by jou plaaslike groentewinkel en slaghuis.

Alida ·

My plaaslike slaghuis se vleis is ongelukkig BAIE duurder per kilogram as die kettingwinkel. Ek koop wel so elke twee maande ‘n lam direk van die plaas af. Groente is goedkoper by die groentewinkel, maar die gehalte is soms nie na wense nie. Moet soms tot 5 tamaties van ‘n kissie weggooi met die uitpak, en die res hou ook nie so lank soos die kettingwinkel (Woolies) se produkte nie., en dan kom die prys maar min of meer op dieselfde neer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.