Verhoog verkope op jou webwerf só

(Argieffoto: Pixabay)

As jy jou webwerf optimaliseer en verbruikersvriendelik maak, sal dit die omskakelingskoers op jou webwerf verhoog. Die eerste stap is om jou huidige omskakelingskoers te bereken en vas te stel waarom besoekers nie produkte koop nie. Dit bied ʼn goeie vertrekpunt om toekomstige verkope teen te meet.

Doen dit só:

Maak gebruik van CRO-programme

Deur ʼn CRO- (conversion rate optimisation) program te gebruik, kan jy maklik jou hele webwerf ontleed en optimaliseer. HubSpot CRO Planner is een van die programme waar jy byvoorbeeld instruksies sal kry hoe om te identifiseer wat verbeter kan word om verkope op jou webwerf te verhoog. CRO-beplanners vergemaklik die hele proses.

Hou vorms so kort as moontlik

Die lewe is reeds ʼn gejaag en verbruikers is meer gewillig om webwerwe te gebruik waar hulle so vinnig as moontlik die taak kan voltooi. Besoekers word afgeskrik deur lang vorms. Besoekers teken makliker in as min inligting vereis word, byvoorbeeld slegs ʼn naam en e-posadres.

Tien wenke wat jy op jou webwerf kan implementeer:

  1. Hou die tuisblad eenvoudig: Moenie besoekers op die eerste bladsy met te veel produkte en inligting oorweldig nie.
  2. Hê ʼn duidelike onderwerp: Webwerwe wat te veel verwarrende onderwerpe bied, veroorsaak “analiseverlamming”, wat beteken dat die vermoë om ʼn besluit te neem, belemmer word.
  3. Voeg video’s by die bladsye: Volgens Convince and Convert, verwerk die menslike brein visuele inligting sowat 60 000 keer vinniger as teks, wat beteken dat besoekers inligting in video’s beter sal absorbeer en moontlik onthou.
  4. Moedig besoekers aan om in te teken; só kan jy alle toekomstige aanbiedings en advertensies aan hulle e-pos. Besoekers is meer geneig om terug te kom na ʼn webwerf wanneer hulle e-posse ontvang wat hulle op datum hou.
  5. Bou vertroue: Verpersoonlik jou webwerf met foto’s en stories eie aan die produk of diens. Plaas ook resensies van produkte, asook fotobewyse van hoe jou produk of diens werk.
  6. Plaas advertensies en leesstof van gehalte.
  7. Verduidelik hoekom die besoeker by jou moet koop, wat jou produk bied en hoe dit die verbruiker se probleem kan oplos.
  8. Vergemaklik kommunikasie: Wys duidelik die stappe uit wat die besoeker moet volg om met jou te kommunikeer, byvoorbeeld; selfoonnommers en e-posadres. Dit is ook baie doeltreffend om ʼn regstreekse geselsfunksie (live chat) soos SnapEngage of MailChimp te gebruik.
  9. Identifiseer en los probleme op: Probeer om vrae wat gereeld deur kliënte gevra word op jou webwerf te beantwoord.
  10. Toets gereeld die funksies op jou webwerf om seker te maak dat alles glad verloop.

Hoe om die regte werknemer vir jou besigheid aan te stel

Dit is van kritiese belang om die regte mense in jou besigheid aan te stel. Dit is ook belangrik om elke individu se vaardighede en persoonlike eienskappe in ag te neem sodat jy hom of haar in die regte posisie kan aanwend. Wanneer jy ʼn nuwe werknemer aanstel, moet jy bepaal of daardie persoon iets tot die span sal kan bydra; of hierdie werker se vermoëns dit moontlik maak om jou besigheid eksponensieel te laat groei.

Hoe om die perfekte verskeidenheid mense vir jou wenspan te vind:

  • Weet wat jou besigheid nodig het en watter soort mens dit kan bied. Wanneer jy die sterkpunt identifiseer wat in ʼn spesifieke rol benodig word, sal jy makliker die regte persoon vir die rol kan identifiseer, byvoorbeeld: In ʼn ontvangspos is dit belangrik dat die persoon goeie kommunikasievaardighede het en vriendelik is. ʼn Administrasiepos sal weer verlang dat die kandidaat goeie taalvaardighede en telefoonetiket handhaaf.
  • Betrek werknemers by besluite wanneer jy ʼn nuwe lid aanstel. Die huidige werknemers is reeds bewus van tekortkominge en sterkpunte in hul span en verstaan ook reeds die besigheidskultuur. Dit is soms makliker vir bestaande lede van ʼn span om te bepaal of iemand gaan inpas en ʼn aanwins vir die besigheid sal wees.
  • Moenie haastig wees om die regte persoon vir die pos te kry nie. Dit is beter om langer te wag vir die regte kandidaat as om iemand aan te stel wat moontlik binne die eerste jaar in elk geval gaan bedank. Soms is die prys ook te hoog om te betaal wanneer ʼn mens kanse waag. Jy wil moontlik dringend iemand aanstel, maar die persoon het nie die nodige vaardighede nie. Dit is duur en tydsaam om die verkeerde persoon op te lei.
  • Leer die persoon ken en nie die papier nie. Dit mag dalk op ʼn CV lyk asof iemand ʼn perfekte kandidaat is, maar kennis is nie alles nie! Soek na eienskappe soos empatie, respek, inisiatief en dryfkrag.
  • Soek na iemand wat oor die regte karaktereienskappe beskik asook kennis en vaardighede, of iemand met goeie karaktereienskappe wat bereid is om te leer.
  • Stuur jou vakature-advertensie uit op soveel platforms as moontlik sodat dit meer mense kan bereik.

Voer soveel onderhoude as moontlik voordat jy besluit om iemand aan te stel. Die perfekte kandidaat kon dalk net die volgende persoon wees wat jy sou sien voordat jy die vorige een aangestel het.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.