Verhuurder, huurder en regspersoon – wie betaal vir wat?

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

(Foto: Mastersenaiper/Pixabay)

Met Covid-19-inperkingsreëls op vlak twee en verhuising wat onderworpe aan sekere voorwaardes toegelaat word, is baie huiseienaars op soek na ʼn geleentheid om ʼn huurinkomste te verdien, huurders na bekostigbare eiendomme, misdadigers na ʼn kans om ʼn rand of twee te maak. En soos altyd is Murphy boonop ook op soek na ʼn kans om ʼn glips te laat gebeur.

Dit laat die kollig opnuut op die versekeringsverantwoordelikhede van huiseienaars, verhuurders, huurders en die regspersoon (body corporate) val.

Stel jou voor: Booswigte het by jou gemeubileerde en toegeruste huureiendom ingebreek en van jou besittings gesteel. Jou huis het oorstroom omdat die kompleks se regspersoon nie ʼn verstopte drein betyds herstel het nie. ʼn Huurder het bedrading verkeerd gekoppel en dit het gelei tot ʼn brand. ʼn Pilaar in jou meenthuis is aan’t kraak, maar jy is nie seker wie se verantwoordelikheid dit is om dit te herstel nie.

Scenario’s soos hierdie gee huiseienaars en huurders gereeld koue rillings en ontaard menigmaal in ernstige geskille of selfs hofsake. Die hoofvraag is: “Wie is verantwoordelik vir watter kostes?”

“Die antwoord is dat, hoewel daar ʼn paar goeie algemene riglyne vir versekeringsverantwoordelikhede is, daar baie min ‘een pas almal’-reëls is,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“’n Spesifieke versekeringspolis of ooreenkoms wat deur twee partye onderteken is, mag aansienlik van ander verskil, selfs al is hul almal heeltemal wettig. Die beste raad vir verhuurders en huurders is om die polisse en ooreenkomste deeglik na te gaan, seker te maak dat hulle dit verstaan en dat hulle deeglik voorbereid is.”

Virseker bied die volgende riglyne wanneer dit by die versekering van jou volreg-, deeltitel- of huureiendom kom:

  • Eienaar-inwoner van ʼn volregeiendom: Die eienaar is verantwoordelik vir geboueversekering, huisinhoudversekering en SASRIA-dekking, wat verseker teen spesiale risiko’s soos siviele onrus, openbare wanorde, stakings, oproere en terrorisme.
  • Eienaar-inwoner van ʼn deeltiteleiendom: Die eienaar is verantwoordelik vir huisinhoudversekering.

Die regspersoon is verantwoordelik vir die versekering van alle geboue en strukture, insluitend dié op die gedeelde of algemene perseel, sowel as SASRIA-dekking.

  • Dit is belangrik om direk by die trustees van die regspersoon of bestuursagent seker te maak watter items deur hulle spesifieke polis gedek word, aangesien dit heelwat wissel.
  • ʼn Goeie basiese beginsel is dat enige iets buite jou mure en bo die plafon deur die regspersoon se versekering gedek behoort te word, tot sover dit deel vorm van die standaardkonstruksie van die eenheid en solank skade nie deur die nalatigheid van die eienaar veroorsaak is nie.
  • Items wat deur die regspersoon se versekering gedek word, sluit gewoonlik geisers, pypwerk, elektriese bedrading wat gedurende die bou of opgradering van die eiendom (deur die regspersoon) aangebring is, elektriese omheining, hekmotors, en gemeenskaplike geriewe in.
  • Enige skade wat ʼn eienaar ly weens die onklaar raak van iets wat deur die regspersoon verseker is, nalatigheid deur die regspersoon of weens nalatigheid of foutiewe vakmanskap deur een van hul aangestelde kontrakteurs, behoort deur die regspersoon se versekering gedek te word.

Dis egter belangrik om daarop te let dat regsaanspreeklikheid gewoonlik ‘n ingewikkelde saak is en met elke saak op individuele meriete vasgestel en geëvalueer moet word, deur na die aksies (beide opsetlik en onopsetlik) van alle betrokke partye te kyk.

In die geval van ʼn verhuringseiendom is die huurder verantwoordelik vir huisinhoudversekering. Waar ʼn eiendom as gemeubileerd of gedeeltelik gemeubileerd verhuur word, moet alle items wat aan die verhuurder behoort onder hulle versekering gedek word en die huurder se besittings onder sy of haar eie versekering. Dit moet duidelik deur die verhuurder en huurder aan die betrokke versekeraars oorgedra word.

“Die kern van voldoende versekering vir ʼn eiendom en die inhoud daarvan, lê daarin om weg te beweeg van aannames, proaktiewe huiswerk te doen en dubbel seker te maak dat jy al die feite het. Met eistyd is daar min dinge erger as om te besef dat jy onderverseker was, of dat ʼn uitgawe wat jy gedink het iemand anders se verantwoordelikheid is uit jou eie sak gedelg moet word,” sluit Coetzee af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Corne123 ·

Wat ek sal wil weet ie elke hoefeel jaar is die verhuurder verandwoordelik om n plek uit te verf want bly mens lank in n plek is daar normale agteruitgaan kaste se skroewe raak los esv

Wonder ·

Skroewe ens gaan gewoonlik vir wear and tear wie dit ookal moet betaal weet ek nie, verf het ek al beleef in ander dorpe waar ek gebly het word van die huurder se deposito afgetrek die dag wanneer hull trek as daar geverf moet word, in my geval die afgelope 4 jaar in die dorp waar ek nou bly kan jy maak wat jy wil mens kry nie n sent van jou deposito terug nie, foute op die huis maak ek maar self reg want as dit geraporteer word moet mens smeek en sobat en niemand kom uit om dit reg te maak nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.